YouVersion Logo
Search Icon

Handelinge 1

1
1Teofilus, in my eerste boek het ek jou vertel van alles wat Jesus gedoen het tot op die dag dat Hy van sy apostels afskeid geneem en na sy hemelse woning teruggegaan het. Dit was kort nadat Hy sy laaste opdragte aan hulle gegee het.
2Nadat Jesus uit die dood opgestaan het, het Hy oor ’n tyd van 40 dae ’n hele paar keer aan sy apostels verskyn om vir hulle te wys dat Hy regtig lewe.3Hy het gereeld met hulle oor God se nuwe wêreld gepraat.
4Eenkeer toe hulle almal so saam was, het Jesus vir hulle gesê: “Moenie uit Jerusalem weggaan nie. Bly daar totdat my Vader die belofte wat Hy aan julle gemaak het, waar laat word.5Vroeër het Ek vir julle gesê dat Johannes die Doper julle met water doop, maar dat God julle binnekort met die Heilige Gees gaan doop. Dit is hierdie belofte waarop julle nog so ’n klein rukkie moet wag.”
6’n Ander keer het een van die apostels vir Jesus gevra: “Here, sê asseblief vir ons, gaan U Israel nou weer tot sy vorige glorie herstel, soos in die dae toe ons nog ons eie koning gehad het?”
7Daarop het Jesus geantwoord: “Dit is vir God om oor hierdie dinge te besluit, nie vir julle nie.
“Al wat julle hoef te weet, is dat God met sy groot krag in julle lewe sal werk wanneer die Heilige Gees na julle toe kom. 8Dan gaan julle oral oor My praat: hier in Jerusalem, maar ook in die hele Judea en Samaria. Ja, selfs tot aan die verste uithoeke van die wêreld.”
9Na hierdie woorde het Jesus van die Olyfberg af na die hemel teruggekeer. 10Terwyl die dissipels nog staan en kyk hoe Hy in die wolke verdwyn, het twee mans uit die hemel by hulle kom staan. Hulle het spierwit klere aangehad.11Een van die mans vra toe vir die dissipels: “Hoekom staan julle so na die hemel en kyk? Dink julle dat julle nooit weer vir Jesus gaan sien nie? Hierdie selfde Jesus wat nou voor julle oë na sy hemelse woonplek toe vertrek het, sal op presies dieselfde manier na julle toe terugkom.”
Die gelowiges kom gereeld bymekaar
12Die Olyfberg waar Jesus van sy dissipels afskeid geneem het, is sowat ’n kilometer van Jerusalem af. 13Daarvandaan het die apostels toe teruggestap stad toe, na ’n groot kamer op die boonste verdieping van een van die geboue. Daar het hulle gereeld bymekaargekom. Al die oorblywende apostels was daar: Petrus, Johannes, Jakobus en Andreas, Filippus en Tomas, Bartolomeus en Matteus, Jakobus die seun van Alfeus, Simon wat ’n Seloot was, en ook Judas die seun van Jakobus.
14Hulle het elke dag saamgebid. Van die gelowige vroue het saam met hulle kom bid, so ook Maria, Jesus se ma, sy broers en ’n klompie ander gelowiges. Later was daar by die 120 mense in die kamer bymekaar.
’n Nuwe apostel word gekies
15Op ’n dag het Petrus vir hulle gesê: 16“Broers en susters, ek wil eers met julle oor daardie verraaier van ’n Judas praat. Ek kan nou nog nie glo dat hy kop in een mus was met die spul wat vir Jesus gevang het nie. Ja, hy het dit alles beplan.
17“Om te dink dat Judas heeltyd een van ons was! 18Met die omkoopgeld wat hy gekry het om Jesus te verraai, het hy vir hom ’n stuk grond gaan koop. Maar hy is ’n paar dae gelede daar dood. 19Hy het hom doodgeval. Sy binneste het oopgebars van die val sodat hy hom doodgebloei het. Dalk het julle ook daarvan te hore gekom. Judas se dood is immers hoofnuus hier in Jerusalem se strate. Die mense noem daardie stuk grond van hom nou Bloedgrond, of soos hulle in Hebreeus sê: Akeldama.
20“In een van die psalms van Dawid staan daar: Laat sy grond leeg staan sodat niemand daar gaan bly nie.
“Dawid het ook gesê: Iemand anders moet sy werk oorneem.
“Judas se plek in ons kring van apostels is nou leeg. Ons moet iemand in sy plek kies. 21Maar dit moet iemand wees wat heeltyd saam met ons in Jesus se geselskap was, 22van daardie dag af toe Hy deur Johannes die Doper gedoop is totdat Hy hemel toe is.”
23Twee name is toe opgegee: Josef Barsabbas (sy bynaam was Justus) en Mattias. 24Toe het al die gelowiges gebid en gesê: “Here, U weet presies wat in mense se binneste aangaan. U ken ons almal deur en deur. 25Wie van hierdie twee mans wil U hê moet Judas se plek as apostel oorneem? Judas is hierdie wonderlike werk kwyt omdat hy nie na U geluister het nie.”
26Daarna het hulle lootjies getrek. Mattias is as die nuwe apostel gekies.

Currently Selected:

Handelinge 1: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy