YouVersion Logo
Search Icon

2 Timoteus 4

4
Werk volspoed in die Here se diens
1Christus Jesus gaan as regter besluit wat eendag met die mense gaan gebeur, of hulle nog lewe en of hulle al dood is. Hy gaan weer kom en soos ’n koning kom heers. 2Met God en Jesus as getuie sê ek vir jou: vertel vir almal die boodskap van God. Jy moet altyd reg wees om dit te doen, maak nie saak wanneer nie. As ander ’n klomp onsin vertel, help hulle reg. As hulle nie wil luister nie, praat kwaai met hulle en as iemand moedeloos is, praat hom moed in. Wees geduldig terwyl jy mense stap vir stap help om God se dinge beter te verstaan.
3Die tyd sal kom wanneer mense nie meer belang sal stel om na die waarheid te luister nie. Hulle sal eerder wil aanloop agter dinge wat vir hulle lekker is. Daarom sal hulle liewer na predikers toe stroom wat net vir hulle vertel wat hulle graag wil hoor. 4Van die waarheid sal hulle niks meer wil weet nie. Nee, hulle sal baie meer hou van allerhande stories oor godsdiens wat mense sommer uit hulle duim gesuig het. 5Maar jy moet nie dieselfde fout maak nie. Bly wakker en hou altyd kop. As dit jou in die moeilikheid bring, moenie bang word nie, maar hou aan om die mense van God te vertel, want dit is jou werk. Doen alles goed wat jou werk van jou vra.
Die tyd loop uit
6My tyd word nou ook min. Ek het nie meer lank om te lewe nie, dan gaan my lewe ’n offer vir God word. 7As jy die lewe met ’n wedloop kan vergelyk, kan jy sê dat ek daardie wedloop goed gehardloop het. Ek het dit klaargemaak en tot aan die einde het ek op God bly vertrou. Ek het ’n prys vir die wedloop gewen.
8God sal vir my die prys gee wat sal sê dat my saak met Hom heeltemal reg is. Wanneer God besluit om die prysuitdeling te hou, sal die Here, wat die pryse regverdig sal uitdeel, vir my my prys gee. Nie net ek sal ’n prys kry nie, maar almal wat daarna uitsien dat Christus Jesus weer moet kom.
Jy’s nooit alleen nie
9Doen jou bes om so gou moontlik na my toe te kom. 10Demas is Tessalonika toe. Hy is nie meer by my nie, want hy het te lief geraak vir die dinge waarvan God nie hou nie. Kressens is Galasië toe en Titus is Dalmasië toe.
11Nog net Lukas is by my. As jy kom, moet jy ook vir Markus saambring. Hy kan baie vir my en vir die werk van die Here doen. 12Ek het Tigikus Efese toe gestuur. 13Onthou ook asseblief om my jas en my boeke saam te bring as jy weer kom. My jas het ek by Karpus in Troas laat lê.
14Aleksander, die kopersmid, het my ’n groot klomp skade aangedoen. Die Here sal wel met hom afreken. 15Julle moet ook versigtig wees vir hom, want hy het sy bes probeer om alles wat ons sê belaglik te probeer maak.
16Toe ek die eerste keer in die hof my saak moes gaan verdedig, was daar niemand by my nie. Almal het weggehardloop en my net so gelos. Mag die Here hulle nie kwalik neem daaroor nie. 17Maar die Here het my nie alleen gelos nie. Hy was by my en het my krag gegee. Daarom kon ek die boodskap oor Jesus vir almal vertel en al die nie-Jode kon ook van God hoor. En ek is byna deur ’n leeu opgevreet, maar is gelukkig betyds gered. 18Die Here sal my beskerm teen elkeen wat my aanval en wil seermaak. Ek sal uiteindelik saam met Hom in die hemel wees waar Hy regeer. Hy moet vir ewig grootgemaak word. So sal dit wees.
Stuur groete
19Sê asseblief groete vir Priscilla en Akwila asook vir almal in die gesin van Onesiforus. 20Erastus het in Korinte gebly en Trofimus het siek geword; ek moes hom toe in Milete los. 21Probeer asseblief om na my toe te kom voor die winter hier is. Eubulus, Pudens, Linos, Claudia en al die ander Christene sê ook groete.
22Mag die Here by jou bly en mag Hy baie goed wees vir julle, ver meer as wat julle verdien.

Currently Selected:

2 Timoteus 4: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy