YouVersion Logo
Search Icon

2 Tessalonisense 2

2
Daar moet eers ’n paar dinge
gebeur voor Christus terugkom
1My liewe broers en susters, ek wil nou ernstig met julle praat oor daardie dag wanneer ons Here Jesus Christus weer terugkom. Van daardie dag af sal ons vir altyd saam met Hom in sy nuwe wêreld gaan bly.
2 Ek wil julle baie mooi vra om al julle vrese en twyfel oor die wederkoms te laat staan. Party van julle het al skoon moed verloor. Ander weer is doodbang. Dit is omdat julle alles vir soetkoek opeet wat mense vir julle oor die wederkoms vertel, veral hulle woorde dat hierdie groot dag op hande is. Sekere profete en predikers het julle skoon op hol. En asof dit nie erg genoeg is nie, is julle verder deurmekaar gemaak deur ’n vals brief wat in my naam daar by julle aangekom het.
3Moenie dat mense julle so maklik mislei nie. Daar moet eers ’n paar dinge gebeur voordat die dag van die Here aanbreek. Eers gaan baie mense vir oulaas die Here verwerp. In daardie tyd sal ’n baie slegte figuur ook sy opwagting maak. Sy lot is egter klaar verseël. Hy is reguit op pad na die verderf toe. 4Hy sal dink hy is baie beter as God. Daarom sal hy weier om voor Hom te buig. Maar dis nie al nie. Hierdie goddelose figuur sal voorgee dat hy self God is. Hy sal daar in die tempel waar die mense bymekaarkom om God te aanbid, gaan sit en sê: “Ek is God!”
5Het julle dan al hierdie dinge vergeet? Ek het dit so mooi vir julle verduidelik toe ek daar by julle was.
6Hierdie goddelose mens is nog nie op die toneel nie. Hy word nog teruggehou. Ek het ’n hele paar keer vir julle vertel wie dit is wat hom keer om nou al sy verskyning te maak, want die tyd is nog nie reg vir sy koms nie. Maar moenie dink alles is rustig en veilig nie. 7Agter die skerms is die bose magte hard aan die werk. Hulle wag net vir die oomblik wanneer die een wat die goddelose figuur terughou, self van die toneel verdwyn. 8Dan sal daardie goddelose mens sy opwagting maak. Natuurlik sal die Here Jesus persoonlik met hom afreken. Wanneer Hy terugkom na die wêreld toe, sal Hy hierdie goddelose figuur met een asemteug wegblaas. Sy glans en glorie is genoeg om hierdie wettelose mens in ’n oogwink te vernietig.
9Tot by die wederkoms sal hierdie goddelose figuur met al sy bose planne besig wees. Sy krag kom direk van Satan af. Daarom sal hy in staat wees om groot wonders en vals tekens te doen. 10Hierdie goddelose figuur sal dit gebruik om mense te mislei. Hy sal almal wat hulle rug vir God gedraai het, aanspoor om die vieslikste sondes te doen. Dit gebeur omdat hulle die kans van ’n leeftyd deur hulle vingers laat glip het om in Christus te glo en sy verlossing te ervaar. 11God sal hulle toelaat om agter hierdie dwalings aan te hardloop sodat hulle al hierdie leuens uit die hel glo. 12Die uiteinde van almal wat weier om in die waarheid te glo en wat gekies het om hulle aan al wat sonde is oor te gee, is God se verskriklike straf.
God het julle gekies
13My liewe broers en susters, ek sê altyd vir God oor en oor dankie vir julle. Die Here het julle baie lief. En dis nie net lippetaal nie: God het julle al spesiaal uitgesoek om in Hom te glo. Julle is van die heel eerste mense wat tot geloof in Christus gekom het. Julle geloof is die gevolg van die Gees se werk in julle lewens. Hy het julle opsy gesit vir Homself. Daarom glo julle die waarheid. 14Dit is regtig net aan die Gees te danke dat julle nou glo. Toe ons die goeie nuus aan julle bekend gemaak het, het julle sy roepstem gehoor. Daarom sal julle ook deelhê aan ons Here Jesus Christus se heerlikheid. Julle sal eendag by Hom in al sy hemelse glans en glorie gaan bly.
15Liewe broers en susters, staan sterk! Hou vas aan alles wat ek julle geleer het toe ek daar by julle was en aan dit wat ek in my briewe skryf.
16God ons Vader het ons almal baie lief, ons Here Jesus Christus ook. God se goedheid oorweldig ons keer op keer. Hy droog ons trane keer op keer af en Hy gee aan ons ’n vaste hoop vir die nuwe lewe wat voorlê. 17Mag Hy julle harte rustig maak en julle geloof sterk maak. En mag Hy julle help om die hele tyd net die regte dinge te sê en te doen.

Currently Selected:

2 Tessalonisense 2: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy