YouVersion Logo
Search Icon

1 Johannes 4

4
Moenie almal glo wat sê God
se Gees praat deur hulle nie
1Liewe vriende, moenie enige persoon glo wat beweer hy sê dit of dat onder die invloed en leiding van die Gees nie. Ondersoek en toets eers hierdie “geestesuitsprake”. Kyk of die oorsprong daarvan regtig by God lê; die wêreld is vol vals profete.
2Ons kan die Gees van God só uitken: iemand wat nie bang is om vir seker te sê dat Jesus Christus mens van vlees en bloed geword het nie, het die Gees wat van God af kom. 3Daarteenoor het enigiemand wat Jesus nie erken vir wie Hy is nie, nie die Gees wat van God af kom nie. Die gees van die antichris is met hom besig. Julle het mos gehoor dat hierdie gees aan die kom is. Wel, dit is nou hier!
4My kinders, julle is deel van die familie van God en behoort aan Hom. Daarom staan julle heeltyd aan die wenkant teen hierdie vals profete. Die rede is eenvoudig dít: God, wat aan julle kant is, is baie groter en sterker as die een wat aan die kant van die wêreld staan! 5Hierdie vals profete behoort aan hierdie wêreld. Dit is waarom alles wat hulle sê so wêrelds is en die wêreld so graag na hulle luister.
6Ons is kinders van God. Wie ook ’n kind van God is, luister na ons. Wie egter nie ’n kind van God is nie, luister nie na ons nie. So kan ons weet wanneer ons met die Gees van waarheid te doen het en wanneer die gees van bedrog en misleiding aan die werk is.
God is liefde
7My liewe vriende, laat ons aanhou om mekaar lief te hê, want liefde kom van God af. Aan liefde ken ’n mens die kinders van God uit, want hulle ken Hom goed. 8God is liefde! Iemand wat nie liefhet nie, weet niks van God nie.
9Goddelike liefde lyk só: God het sy unieke Seun na die wêreld gestuur om vir ons die ewige lewe te kom gee. 10Dit is dié soort liefde waarvan ek praat: dit gaan nie oor die liefde waarmee ons God liefhet nie. Nee, dit gaan oor die liefde waarmee God ons liefhet. Hierdie liefde het gemaak dat Hy sy Seun gestuur het met ’n doel: om te sorg dat al ons sondes vergewe word.
11Liewe vriende, God het vir ons gewys wat ware liefde is. Ons behoort mekaar ook so lief te hê. 12Niemand het God nog ooit gesien nie. As ons egter mekaar liefhet, kan mense God in ons lewe sien. Sy liefde blom in ons soos Hy bedoel het dit moet wees. 13Dít is vir ons die bewys van die intieme verhouding wat tussen God en ons as sy kinders bestaan: God het sy Gees in ons laat werk. 14Ons het alles gesien en kan dus vir seker sê: Die Vader het sy Seun gestuur met die doel om die mense op aarde te kom red. 15Iemand wat dus bely: “Jesus is die Seun van God,” leef intiem saam met God en God saam met hom. 16God het ons lief. Ons weet en glo dit.
God is liefde. As daar dus liefde uit jou lewe straal, vertel dit hoe naby jy aan God leef.
17So bereik die liefdevolle God sy doel met ons: ons kan die oordeelsdag met vrymoedigheid, sonder om bang te wees, tegemoetstap. In hierdie wêreld is ons situasie immers presies dieselfde as Jesus s’n. Waar daar liefde heers, is daar nie plek vir vrees nie, veral nie vrees vir God se finale oordeel nie. 18Ware, egte liefde verdryf eenvoudig alle vrees. Iemand wat dus nog sulke vrees in hom ronddra, se lewe is nog nie heeltemal deurdrenk met God se liefde nie. En hoekom nie? Want vrees is net heeltyd bekommerd oor die straf wat kan kom.
19God het ons eerste liefgehad. Daarom kan ons ook nie anders as om lief te hê nie. 20As iemand vertel dat hy God liefhet, maar liefdeloos teenoor ’n medegelowige optree, is hy ’n regte leuenaar. Dink net: As iemand nie eens die medegelowige liefhet wat hy elke dag sien nie, hoe sal hy God kan liefhê wat hy nie eens sien nie? 21Wie God liefhet, het geen ander keuse as om ook sy medegelowige lief te hê nie. Dit is die opdrag wat Hy vir ons gegee het.

Currently Selected:

1 Johannes 4: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy