YouVersion Logo
Search Icon

1 Johannes 2

2
Jesus sal jou help
1My liewe kinders, daar is ’n goeie rede waarom ek hierdie dinge aan julle skryf. Julle moet nooit iets doen waarvan God nie hou nie. As een van ons egter wel so ’n fout maak, kan ons daarvan seker wees: ons het Iemand wat ons op ’n baie besondere manier sal help. 2Hy sal vir ons gaan mooipraat by ons hemelse Vader. Ek praat natuurlik van Jesus Christus. Hy is die ideale Een om dit te doen, want die verhouding tussen Hom en die Vader is baie goed. Omdat Jesus dit vra, sal die Vader ons sondes oorsien. Jesus Christus is nie net bereid om dit vir óns te vra nie, maar ook vir elke mens op aarde wat bereid is om na Hom toe te kom.
Leef soos Jesus geleef het
3Maar ons kan ons afvra: Hoe kan ons seker weet dat ons Hom so goed ken dat Hy dit alles vir ons sal doen? Wel, as ons graag doen wat Hy van ons vra, kan ons seker wees. 4Daarteenoor is iemand wat beweer: “Ek ken Hom baie goed,” maar nie doen wat Jesus vra nie, natuurlik ’n leuenaar. So iemand kan nie eens “waarheid” spel nie. 5Die liefde wat God gee, blom en bloei juis in hom wat gehoorsaam luister na wat Jesus wil hê. 6Ons moet dus nie net praat oor wat Hy wil hê nie. Ons moet elke dag daarvan werk maak om presies so te leef soos Jesus geleef het. So kan ons seker wees dat ons deel van God se familie is en bly.
7My geliefde vriende, dit is nie ’n klomp nuwe dinge wat ek nou skielik van julle vra nie. Dit gaan oor die ou, bekende dinge wat God van sy kinders verwag. Vandat julle die boodskap gehoor en Christene geword het, ken julle dit mos al. 8Maar wat ek wel doen, is om julle weer aan die vars en nuwe kant van God se wil te herinner. Die nuutheid en egtheid daarvan sien julle in Jesus, soos ook in julleself, die gelowiges. 9Kyk mooi! God se ware lig skyn reeds helder. En wat van die duisternis? Wel, dit is vinnig aan die verdwyn.
’n Mens in die lig ... en duisternis
10Hoe onderskei ’n mens nou iemand wat in die lig leef van iemand wat in die duisternis leef? Só: 11die persoon wat niks omgee vir sy medemens nie - al is sy woorde hoe godsdienstig en vroom - leef steeds in die duisternis. Hy is soos iemand wat in die donker voortstrompel. Hy het geen idee waarheen hy op pad is of waar hy gaan uitkom nie. Omdat dit so donker is, loop hy soos ’n blinde man rond. Daarteenoor leef die persoon wat sy broer of suster liefhet, voortdurend in die lig. Juis daarom struikel hy ook nie sommer nie.
12Liewe kinders, ek herinner julle weer daaraan: vir God bestaan julle sondes eenvoudig nie meer nie. Daarvoor het Jesus gesorg. 13Pa’s, julle ken Hom wat alles begin het goed. Daarom is hierdie brief vir julle. Die jongmense kan ook lees wat ek skryf, want hulle het die Bose behoorlik op die neus laat kyk. 14Ek het vir julle my hand op papier gesit, kinders, omdat julle die Vader persoonlik ken; en pa’s, omdat julle Hom ken wat die oorsprong van alles is. Jongmense, ek het vir julle geskryf omdat julle innerlik so sterk is. Julle seëvier altyd in die stryd teen Satan. Boonop straal God se boodskap uit alles wat julle doen.
Liefde vir die wêreld is vermorste liefde
15Moenie na die pype van hierdie wêreld dans nie. Moenie lief word vir die dinge wat vir die wêreld belangrik is nie. As iemand dit doen, kan hy mos nie sê dat hy lojaal teenoor die Vader is nie.
16Met wêreldse dinge bedoel ek dít: dit is begeertes wat deur menslike en wêreldse belange aangeblaas word sonder om met God rekening te hou; dit is om alles wat jou oë sien vir jouself te wil hê, en dit is om heeltyd net met jouself en dit wat jy het te spog.
Dié dinge kom nie van die Vader af nie. Dit borrel op uit die fontein van die wêreld.
Maar onthou dit: die aardse dinge is net tydelik. Daarom is al die begeertes daarna ook maar net ’n gejaag na wind. 17Maar die persoon wat doen wat God vra se pad loop saam met God die ewigheid in.
Voluit vir Christus, anders moet jy dit maar los
18My liewe kinders, die tyd na die einde toe begin nou min word. Julle het mos gehoor dat die antichris aan die kom is. Dit is die een wat dink hy kan Christus se plek inneem. Kyk ’n bietjie rond, daar is sommer baie sulke opponente van Christus wat skielik oral opduik. Daarom weet ons dat die tyd na die einde toe vinnig nader kom. 19Hierdie klomp mense was tot saam met ons in die gemeente, maar hulle hart was nooit by ons nie. Daar is ’n rede waarom ek so sê: as hulle regtig hart en siel deel van ons gemeente was, sou hulle hart en siel agter die gemeente bly staan het. Hulle sou nie sommer die gemeente die rug toegekeer het nie. Maar ook daarmee is daar ’n doel: almal kan nou self sien dat hulle nie deel van ons gemeente is nie. Julle verskil van hierdie mense. 20Die Heilige Gees het sy hand spesiaal op julle gelê. Julle almal weet daarom wat vir God reg en verkeerd is. 21As ek dié brief skryf, wil ek dus nie maak asof julle nie weet wat waar is nie. Ek beklemtoon net wat julle reeds weet waar en eg is. Onthou, geen enkele leuen kan uit die waarheid gebore word nie. 22Wie dink julle gee geboorte aan leuens? Dit is natuurlik enigiemand wat weier om toe te gee dat Jesus, as mens, werklik die Messias is. So ’n persoon verwerp sowel die Vader as die Seun. Hy is die antichris! 23Immers, iemand wat sy rug vir die Seun draai, kan tog nie aan die kant van die Vader wees nie. Iemand is wel aan die kant van die Vader as hy voluit agter die Seun aangaan.
Die Christen moet baie naby aan Jesus leef
24Julle moet mooi luister: die oorspronklike boodskap wat julle gehoor het, moet ’n groot invloed op julle uitoefen. As daardie boodskap aan julle lewe rigting gee, is dit eintlik die Seun en die Vader wat julle beheers en rig. 25Wat hou hierdie boodskap dan nou in? Dít: Jesus het julle ’n nuwe lewe saam met God kom aanbied.
26Ek het hierdie dinge geskryf oor mense wat julle om die bos wil lei. 27Wat julle betref: julle het iets van Jesus gekry wat julle lewe totaal verander: sy Gees het by julle kom bly. So het Hy julle in sy spesiale span vir hierdie wêreld gesit. Hy wil hê julle moet spesiale dinge vir Hom doen. Niemand moet julle dus allerhande dinge kom wysmaak of probeer leer nie. Die Heilige Gees is julle onderwyser en gids in alles wat waar is. Julle kan Hom maar glo, want Hy lieg nie. Steur julle daarom aan niks en niemand anders nie, behalwe aan die Gees en wat Hy julle geleer het.
28My liewe kinders, konsentreer nou daarop om baie naby aan Jesus te bly leef. Julle vra waarom. Wanneer Jesus sigbaar terugkom, sal julle dan nie so skaam hoef te voel dat julle wil weghardloop nie. Nie kop onderstebo nie, maar met oop arms sal julle Hom dan kan verwelkom.
29Julle weet mos dat Jesus se verhouding met God in elke opsig foutloos is. In alles wat Hy doen, tree Hy reg op. Dít is vir julle die toets: elkeen wat so volgens God se wil reg optree, is ’n ware kind van God.

Currently Selected:

1 Johannes 2: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy