YouVersion Logo
Search Icon

1 Kronieke 16

16
1Hulle het die verbondsark neergesit in die tent wat Dawid daarvoor opgeslaan het. Daarna het hulle brandoffers en maaltydoffers vir God gebring. 2Toe Dawid klaar was met die offers, het hy die mense in die Naam van die Here geseën. 3Daarna het hy vir elke Israeliet, man en vrou, ’n broodjie, ’n stuk vleis en ’n rosyntjiekoek gegee.
Die diens van die Leviete by die verbondsark
4Dawid het die volgende Leviete aangestel om by die ark van die Here diens te doen. Hulle moes die Here, Israel se God, se roem besing, Hom dank en Hom loof. Hulle was: 5Asaf, die leier en Sagaria, tweede in bevel. Verder was daar Jeïel, Semiramot, Jegiël, Mattitja, Eliab, Benaja, Obed-Edom en Jeïel. Hulle het harpe en liere bespeel. Asaf het die simbale geslaan. 6Die priesters, Benaja en Jagasiël, het gedurig op die trompette geblaas voor die verbondsark van God.
7Op dié dag het Dawid vir Asaf en sy ampsgenote ’n danklied gegee om te sing:
8Prys die Here! Bid tot Hom!
Vertel vir almal op aarde wat die Here gedoen het.
9Sing liedere, maak die Here se Naam groot.
Juig oor al die groot dinge wat Hy elke dag doen.
10Bring lof en eer aan die Here se heilige Naam.
Wees bly, almal wat daarna smag om by die Here te wees.
11Vra vir die Here om heeltyd by julle te wees met sy groot krag.
Moenie dat daar ’n dag verbygaan dat julle nie naby Hom is nie.
12Dink aan al die groot wonderwerke wat die Here gedoen het.
Onthou sy magtige dade, hoe Hy sy voorskrifte aan ons gegee het.
13Julle is deel van die nageslag van Israel, die kneg van die Here.
Julle behoort aan Jakob wat deur die Here uitgekies is.
14Die Here is ons God!
Die hele aarde is vol van sy magtige dade.
15Hy onthou die ooreenkoms wat Hy met sy volk gemaak het,
sy beloftes wat Hy aan 1 000 geslagte gegee het!
16Dit is dieselfde ooreenkoms wat Hy met Abraham gemaak het,
en sy belofte aan Isak.
17Dit is aan Jakob dat Hy sy woord gegee het
en met Israel dat Hy ’n ewige ooreenkoms gesluit het,
18toe Hy gesê het:
“Al die grond in Kanaän behoort van nou af aan jou,
dit is jou erfporsie, jou besitting!”
19Toe Israel nog maar ’n klein groepie was,
vreemdelinge in ’n nuwe land,
20het hulle van landgebied tot landgebied rondgetrek,
van een klomp mense na ’n ander.
21Maar Hy het nie toegelaat dat iemand hulle ooit sleg behandel nie.
Selfs magtige konings is nie toegelaat om hulle aan te val nie.
22God het vir hulle gesê:
“Moet dit nie waag om julle hand teen my kinders te lig nie.
Hulle is Myne.
Moet dit ook nie waag om een van my boodskappers seer te maak nie.”
23Kom sing vir die Here, almal op aarde.
vertel elke dag hoe Hy ons uit die nood gered het.
24Moenie stilbly by die volke nie.
Vertel vir die nasies hoe sterk die Here is en wat Hy alles kan doen.
25Die Here is baie groot
en daarom moet ons Hom met die mooiste woorde grootmaak.
Hy is groter as alle ander gode.
26Wat is die ander gode in vergelyking met Hom?
Net mooi niks nie! Mense het hulle gemaak.
Maar ons Here het die hemel gemaak.
27As ’n mens by die Here is, word jy oorweldig;
oorweldig deur hoe Hy oor alles heers,
hoe belangrik Hy in vergelyking met enigiemand anders is,
hoe sterk Hy is en hoe mooi alles by Hom is.
28Elke mens op hierdie aarde moet die Here erken vir wie Hy regtig is.
Hulle moet erken dat Hy sterker en belangriker as enigiemand anders is.
29Gee daarom aan die Here die dank en eer wat net Hy verdien.
Kom na Hom toe en bring vir Hom ’n offer wat Hom gelukkig sal maak,
kniel voor Hom en erken Hom vir wie Hy regtig is.
30Al die mense op aarde moet besef hoe klein hulle teenoor die Here is.
Hy is so sterk dat die aarde onbeweeglik vas in sy hand lê.
31Die hemel en elkeen wat daar is, moet van opgewondenheid oorloop.
Die aarde en elkeen wat daar is, moet hulle blydskap uitskreeu.
Vertel vir elkeen op hierdie aarde: “Die Here is koning!”
32Ook die see en alles daarin mag nie stilbly nie.
Oor die velde moet die gejuig weergalm,
33die bome van die woud moet saam weerklink.
Hierdie uitbundige jubeling is bedoel vir die Here,
want Hy kom na ons toe.
Hy kom om oor alle mense te oordeel.
34Prys die Here,
want Hy is goed.
Sy goedheid hou net aan en aan, vir altyd!
35Sê: Ag, Here ons God, kom help ons tog!
Kom haal ons hier tussen die nasies uit,
sodat ons u heilige Naam kan loof
en bly kan wees oor al u goedheid!
36Die Here, die God van Israel, moet geloof word,
nou en vir altyd.
Die hele volk het uitgeroep: “Amen” en hulle het die Here geloof.
Die Here word in Jerusalem en Gibeon vereer
37Dawid het die diens wat gereeld elke dag by die verbondsark van die Here gedoen moes word, aan Asaf en sy mede-Leviete oorgelaat. 38Obed-Edom, Jedutun se seun, en Hosa het met 68 Leviete as hekwagte begin werk.
39Intussen het Dawid vir Sadok en die ander priesters by die tentheiligdom van die Here op die hoogte by Gibeon laat bly. 40Hulle moes volgens die Here se wet elke oggend en aand vir Israel brandoffers op die altaar vir die Here verbrand. 41By hulle was Heman, Jedutun en die ander wat spesifiek aangewys is om die Here se lof te besing, “want sy liefde hou vir altyd aan en aan”. 42Hulle het op trompette en simbale gespeel en ander musiekinstrumente gebruik om die lofliedere te begelei.
Jedutun se seuns was die hekwagte.
43Hierna het al die mense huis toe gegaan en Dawid is huis toe om sy huisgesin te gaan seën.

Currently Selected:

1 Kronieke 16: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy