YouVersion Logo
Search Icon

1 Timoteus 5

5
Kyk mooi na die gemeente
1Moenie te kwaai met ’n ouer man praat nie. Praat liewer mooi met hom asof hy jou eie pa is. Jonger mans moet jy behandel asof hulle jou broers is, 2ouer vroue asof hulle jou ma is en jonger vroue asof hulle jou susters is. Jy moet hulle altyd so behandel dat hulle jou sal respekteer.
3Kyk mooi na die weduwees wat werklik niemand het om vir hulle te sorg nie. 4Maar as ’n weduwee kinders of kleinkinders het, moet jy hulle leer dat godsdiens in jou eie huis begin. Om vir jou eie familie te sorg en op dié manier dankie te sê vir wat jou pa en ma of ouma en oupa alles vir jou gedoen het, is godsdiens in aksie. Daarvan hou God baie. 5’n Weduwee wat nie iemand het om haar te help nie, het net vir God oor om te vra. Sy vertrou God heeltemal en vra dag en nag dat Hy haar asseblief moet help. 6Daar is egter ook weduwees wat deur allerhande plesiere van die lewe aan die lewe probeer bly, maar so ’n vrou is geestelik morsdood, al lewe haar liggaam nog. 7Sê dit vir die families sodat hulle nie onnodig die verkeerde dinge doen nie. 8As iemand nie meer na sy eie mense wil omsien nie en veral nie meer vir sy gesin wil sorg nie, moet hy nie sê dat hy in die Here glo nie. Hy tree slegter op as iemand wat sommer reguit sê dat hy nie in die Here glo nie.
Daar’s plek vir vroue wat wil dien
9Wie kan nou kwalifiseer vir die lys weduwees? ’n Vrou wat 60 is, kan op die lys kom, maar dan moes sy getrou gewees het aan haar man. 10Sy moet bekend wees vir die goeie lewe wat sy lei. Sy moes mooi na haar kinders gekyk en hulle goed grootgemaak het. Mense moes altyd by haar welkom gevoel het en sy moes altyd gewillig gewees het om ander te dien, al was die takie hoe nederig. Sy moes altyd daar gewees het om te help as iemand hulp nodig gehad het. Die leuse van haar lewe moet wees: doen goed aan ander.
11Moenie jonger weduwees se name op die lys sit nie. Hulle kan dalk weer trou, want as hulle ’n man begin begeer, kan dit dalk vir hulle belangriker word as om die Here te dien. Dan doen hulle dalk nie meer alles wat die Here van hulle verwag nie. 12Dan kan mense hulle dalk verwyt omdat hulle hulle woord verbreek het. 13Boonop kan hulle maklik in die strik trap om net van die een huis na die ander te kuier en eintlik niks te doen nie. As hulle heeldag so rondkuier, mors hulle nie net hulle tyd nie, maar skinder vreeslik en meng hulle in met sake wat niks met hulle te doen het nie. Dan sê hulle ook gewoonlik dinge wat hulle liewer nie moes gesê het nie. 14Daarom is dit vir my ’n baie beter oplossing dat die jonger weduwees weer moet trou, kinders moet hê en hulle huis behoorlik aan die gang moet hou. Dan sal die mense wat nie van die kerk hou nie, nie allerhande lelike dinge oor hulle kan sê nie. 15So terloops, daar is al ’n paar weduwees wat so die pad byster geraak het en nou agter Satan aanloop.
16As ’n Christenvrou weduwees in haar huis het, moet sy self na hulle kyk. Sy moet nie verwag dat die res van die gemeente moet help nie. So sal die gemeente net na die weduwees hoef te kyk wat regtig niemand het om vir hulle te sorg nie.
Sien op na leiers in die kerk
17Die gemeente moet vir die leiers in die gemeente wat mooi na die sake van die gemeente kyk behoorlik dankie sê, veral as hulle vir ander van die Here vertel en hulle help om al hoe meer van God se dinge te verstaan. Hulle moet hulle selfs betaal. 18In die Skrif staan daar mos: “Jy moenie die bees se bek toebind wat besig is om jou met jou koringoes te help nie,” en: “Iemand wat werk, mag ook geld kry vir die werk wat hy doen.” 19Moenie julle aan allerhande stories oor ’n leier in die gemeente steur nie, tensy dit bevestig word deur twee of drie ander mense.
20As iemand iets verkeerds gedoen het, moet daar voor almal streng met hom oor sy fout gepraat word. Dit sal ander help om nie dieselfde fout te maak nie.
21Ek vra jou baie mooi, maar tog baie ernstig voor God, Jesus Christus en al die hemelse wesens: as jy teen ’n leier van die gemeente optree, moet jy niemand voortrek nie. Dat jy miskien van een meer hou as van ’n ander, mag nie by jou ’n rol speel nie. Jy moet almal gelyk behandel.
22Moenie te gou sê dat iemand maar ’n leier in die gemeente kan word nie. Sê nou net sy lewe is nie reg nie en hy doen verkeerde dinge, dan sal die mense daaruit aflei dat jy dit goedkeur. Nee, jy moet op alle maniere uit die pad van die sonde bly.
Behandel mekaar met respek
23Jy hoef nie net water te drink nie. Jy kan maar ook ’n bietjie wyn drink vir jou maag en al die ander kwale wat jy kort-kort het.
24In die gemeente werk dit so: party mense doen sommer oop en bloot dinge waarvan God nie hou nie. Almal weet daarvan nog voor die saak behoorlik ondersoek is. Ander doen dit weer stilletjies en in die geheim. ’n Mens hoor eers later daarvan as dit ondersoek word. 25Dieselfde geld vir die goeie dinge wat ’n mens doen. Almal kan dit sien en weet daarvan. Maar selfs al weet mense nie dadelik daarvan nie, sal hulle wel die een of ander tyd agterkom wat gedoen is.

Currently Selected:

1 Timoteus 5: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy