1 Samuel 30
DB
30
Dawid roei die Amalekiete uit
1Toe Dawid en sy manne twee dae later by Siklag aankom, is die dorp afgebrand. Die Amalekiete was op ’n strooptog in die Negev, en Siklag het ook in die slag gebly. 2Die Amalekiete het niemand doodgemaak nie, maar hulle het al die vroue en kinders gevang en met hulle saamgevat. 3Toe Dawid en sy manne in die afgebrande dorp kom en besef dat hulle vroue en seuns en dogters ontvoer is, 4het hulle in trane uitgebars en hardop gehuil. Hulle was ontroosbaar. 5Dawid se twee vroue, Aginoam uit Jisreël en Abigajil, die weduwee van Nabal uit Karmel, is natuurlik ook ontvoer. 6Dawid was lelik in die nood: die manne was só verbitter oor hulle kinders dat hulle gedreig het om hom met klippe dood te gooi. Maar hy het krag gekry by die Here sy God.
7Hy het vir priester Abjatar, Agimelek se seun, gesê: “Bring vir my die priestersak.”
Abjatar het die priestersak vir Dawid gebring, 8en toe vra hy vir die Here: “Moet ek agter hierdie klomp rowers aangaan en sal ek hulle kan inhaal?”
Die antwoord was: “Ja, sit hulle agterna. Jy sal hulle vir seker inhaal en jou mense red.”
9Dawid en sy 600 man is toe agter die rowers aan. Toe hulle by die Besorspruit kom, het party manne halt geroep. 10Twee honderd van die manne was eenvoudig te swak om deur die loop te gaan. Dawid is toe met 400 man verder.
11Die manne het ’n Egiptenaar in die veld gekry en hom na Dawid toe gebring. Hulle het vir hom brood en water gegee. Toe hy dit klaar geëet en gedrink het, 12gee hulle hom ook nog ’n hand vol gedroogde vye en twee rosyntjiekoeke. Nadat hy dít geëet het, het hy begin regkom, want hy het vir drie dae en nagte nie nat of droog oor sy lippe gehad nie. 13Dawid vra toe vir hom: “Van wie se mense is jy en waar kom jy vandaan?”
Die jong man antwoord hom: “Ek is ’n Egiptenaar. Ek is ’n slaaf van een van die Amalekiete. Omdat ek siek geword het, het my baas my drie dae gelede hier gelos. 14Ons was op ’n strooptog in die Negev waar die Filistyne en Judeërs en die Kalebfamilie bly. Ons het Siklag afgebrand.”
15“Kan jy my wys waar hierdie spul rowers is?” vra Dawid hom.
Hy sê toe: “As u vir my by God sweer dat u my nie sal doodmaak of my vir my baas sal teruggee nie, sal ek u na hulle toe vat.”
16Hy het vir Dawid gaan wys waar hulle is. Die klomp is toe sowaar besig om fees te vier met die goed wat hulle in die plekke van die Filistyne en die Judeërs gevat het: hulle lê toe sommer die wêreld vol en eet en drink.
17Dawid het die volgende môre toe dit lig word, teen hulle begin veg en tot die aand aangehou. Behalwe 400 jong manne wat op kamele gespring en weggejaag het, het daar nie een van hulle weggekom nie. 18Dawid het al die mense wat die Amalekiete gevang het, gered, ook sy eie twee vroue. 19Nie een enkele mens is vermis nie; al die kinders en al die goed, ja, elke dingetjie wat die Amalekiete gevat het, het Dawid teruggekry. 20Hy het al die skape en beeste wat by die Amalekiete was, laat aankeer. Die mense het hierdie diere in ’n trop aangejaag voor die ander diere wat by hulle was. Hulle het gesê: “Hierdie is Dawid se goed.”
21Die 200 man wat by die Besorspruit agtergebly het omdat hulle te gedaan was om saam met Dawid te gaan, het vir hom en die ander mense op die pad gewag. Toe Dawid by hulle kom, het hy vir hulle gevra hoe dit gaan. 22Onder die manne wat saam met Dawid gegaan het, was daar ’n paar moeilikheidmakers, sommer slegte mense. Hulle sê toe: “Oor hierdie mense nie saam met ons was nie, kry hulle niks van die goed wat ons teruggebring het nie. Elkeen kan net sy vrou en kinders vat, en dan moet hy maak dat hy wegkom!”
23“A nee a, vriende!” sê Dawid. “Só kan ons darem nie maak met wat die Here vir ons gegee het nie! Hý het ons beskerm en daardie spul rowers wat ons aangeval het, in ons mag gegee. 24Ek is seker niemand sal met julle saamstem nie.
“Óns reël is: die een wat in die oorlog baklei en die een wat by die voorrade bly, moet altyd dieselfde kry. Ons deel daarom gelykop.”
25Dawid het dit ’n vaste reël gemaak vir die Israeliete, en van toe af tot nou toe maak hulle so.
26Toe Dawid in Siklag aankom, het hy van die goed wat hulle by die Amalekiete gevat het, vir die leiers van Juda gestuur wat sy vriende was. Hy het vir hulle laat weet: “Hier is vir julle ’n geskenk uit die goed wat by die Here se vyande afgeneem is.”
27Dit is gestuur na die leiers van Bet-El, Ramot in die Negev, Jattir, 28Aroër, Sifmot, Estemoa, 29Rakal, die dorpe van die Jeragmeëlfamilie, die dorpe van die Keniete, 30Gorma, Bor-Asan, Atak, 31Hebron en al die ander plekke waar Dawid en sy manne rondgeswerf het.

2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.

Learn More About Die Boodskap