1 Samuel 25
DB
25
Dawid en Abigajil
1Samuel is oorlede en die hele Israel het saamgekom om oor hom te huil. Hulle het hom by sy huis in Rama begrawe.
Dawid het afgegaan na die Maonwoestyn. 2Daar was ’n man in Maon wat ook ’n plek by Karmel gehad het. Dié man was skatryk. Hy het 3 000 skape en 1 000 bokke gehad. Hy was juis besig om sy skape in Karmel te skeer. 3Die man se naam was Nabal. Hy was van die Kalebstam. Sy vrou se naam was Abigajil. Sy was ’n mooi en slim vrou, maar hy was ’n hardkoppige en gemene vent.
4Dawid het in die woestyn gehoor dat Nabal besig is om sy skape te skeer. 5Hy stuur toe tien jong manne en sê vir hulle: “Gaan na Nabal toe in Karmel en sê vir hom ek stuur groete. 6Sê vir hom ek wens hom alle voorspoed toe: vir hom, vir sy familie en vir sy boerdery. 7-8Sê vir hom ek het gehoor dis skeertyd. As hy vir sy werkers vra, sal hulle hom vertel dat ons sy skaapwagters altyd goed behandel het as hulle in ons omgewing was. In al die tyd wat hulle by Karmel was, het daar nooit ’n skaap weggeraak nie. Daarom verwag ek dat hy julle vriendelik sal ontvang. Dis buitendien ’n feestyd. Sê vir hom ek vra beleef dat hy vir my en vir julle sal gee wat hy kan.”
9Die jong manne het gegaan en namens Dawid alles presies net so vir Nabal gesê en vir sy antwoord gewag.
10Nabal sê toe vir Dawid se mense: “Wie is dié Dawid? En wie is dié seun van Isai miskien? Vaderland, daar is deesdae ook so baie slawe wat van hulle base af wegloop! 11Dink julle nou regtig ek sal my brood en water en die skape wat ek vir my skeerders geslag het, vat en dit vir mense gee wat ek van g’n kant af ken nie?”
12Die manne van Dawid het net daar omgedraai en teruggegaan. Toe hulle by Dawid kom, het hulle hom alles vertel. 13“Kry julle swaarde, manne,” het Dawid gesê. Elkeen het sy swaard in sy lyfband gesteek; Dawid ook. Omtrent 400 manne het saam met Dawid gegaan en 200 het agtergebly om die goed op te pas.
14Een van die jong skaapwagters het vir Nabal se vrou, Abigajil, gaan vertel wat gebeur het: “Dawid het uit die woestyn manne gestuur om vir Meneer voorspoed toe te wens, maar hy het hulle afgejak. 15En dié mense was baie goed vir ons: toe ons in die oop veld was, het niemand ons ooit lastig geval as ons naby hulle was nie. Daar is ook nooit ’n skaap gesteel nie. 16Solank ons met die skape naby hulle gewei het, was hulle dag en nag soos ’n muur om ons. 17U moet nou asseblief maar kyk wat u kan doen, want Meneer en sy hele familie gaan groot teëspoed kry. En hy is so ’n nare mens dat niemand met hom daaroor kan praat nie.”
18Abigajil het gou 200 brode, twee groot erdekruike vol wyn, vyf gaar skape, vyf bakke vol gebraaide koring, 100 rosyntjiekoeke en 200 pakkies gedroogde vye op donkies laat laai. 19Sy het vir haar helpers gesê: “Gaan solank, ek kom agterna.” Maar sy het niks vir haar man gesê nie.
20Sy het op ’n donkie gery en in ’n kloof afgegaan. Dawid en sy manne was van die ander kant af op pad. Sy het skielik op hulle afgekom. 21Dawid het juis geloop en dink: “Ek het met ander woorde die vent se goed verniet opgepas in die woestyn. Hy het nie ’n enkele skaap verloor nie, en nou kry ek stank vir dank. 22God weet, nie een van die mans of seuns by hom sal môre die son sien opkom nie!”
23Toe Abigajil vir Dawid sien, het sy gou van die donkie afgeklim en by Dawid se voete met haar gesig teen die grond gebuig. 24Terwyl sy so by Dawid se voete op haar knieë staan, sê sy vir hom: “Dit is alles mý skuld, Meneer! Mag ek asseblief met u praat, en sal u so vriendelik wees om na my te luister? 25U moet u tog nie steur aan daardie niksnut van ’n Nabal nie. Hy is net soos sy naam sê: ’n dwaas. Ek het regtig nie die jong manne gesien wat u gestuur het nie. 26So waar as die Here leef en so waar as wat u leef, Meneer: dis die Here wat gekeer het dat u eie reg gebruik en ’n bloedbad veroorsaak. Ek is ook seker dit sal met u vyande, met almal wat u skade wil aandoen, gaan soos dit met Nabal gaan. 27Hier is ’n geskenk wat ek vir u gebring het. Gee dit gerus vir die jong manne wat altyd by u is. 28En vergewe asseblief die fout wat ek gemaak het. Die Here sal vir seker vir u ’n koningskap gee wat lank sal hou, want u moet die Here se oorloë veg. ’n Ramp sal u nooit tref nie; 29en as daar mense is wat u agtervolg om u te probeer doodmaak, sal die Here u God u veilig by Hom hou soos ’n herder ’n klippie veilig in sy sak bêre. Maar die lewe van u vyande sal die Here weggooi soos ’n herder ’n klip met ’n slingervel weggooi. 30Wanneer die Here vir u al die goeie dinge wat Hy u belowe, waar maak en u aanstel as die leier van Israel, 31sal hierdie ding van Nabal nie in u pad wees nie, en sal u gewete u nie pla dat u eie reg gebruik en mense onskuldig doodgemaak het nie. En as die Here vir u al die mooi dinge waar gemaak het, dink tog dan aan hierdie nederige vrou.”
32Daarop sê Dawid vir Abigajil: “Die Here, die God van Israel, moet geprys word dat Hy jou vandag na my toe gestuur het! 33Jy is ’n baie slim vrou! Dankie dat jy vandag gekeer het dat ek eie reg gebruik en ’n bloedbad veroorsaak. 34Ek sê vir jou, so waar as die Here, die God van Israel leef: Hy het gekeer dat ek jou baie seer maak, want as jy nie so gou gemaak en my op die pad gekry het nie, sou nie een van die mans of seuns by Nabal môre die son sien opkom het nie.”
35Dawid het die goed wat sy vir hom gebring het, aanvaar en gesê: “Jy kan maar huis toe gaan sonder om bekommerd te wees. Kyk, ek het gehoor wat jy vra, en ek sal dit vir jou doen.”
36Toe Abigajil by die huis kom, sien sy dat Nabal besig is met ’n verskriklike drinkparty. Hy was vrolik, maar smoordronk. Sy het toe maar nie ’n woord gesê voor die volgende môre nie. 37Die volgende môre, na hy sy roes afgeslaap het, het sy hom vertel wat gebeur het. Hy het ’n aanval gekry en was in ’n koma. 38Omtrent tien dae later het die Here hom weer ’n aanval laat kry en is hy dood.
39Toe Dawid hoor Nabal is dood, het hy gesê: “Die Here moet geprys word, want Hy het my saak teen Nabal behartig toe dié my verneder het. Die Here het my, sy dienaar, gekeer dat ek nie ’n lelike ding aanvang nie. Die Here het Nabal sy verdiende loon gegee.”
Dawid het mense na Abigajil toe gestuur om te hoor of sy met hom sal trou. 40Hulle het by haar in Karmel aangekom en vir haar gesê: “Dawid het ons na jou gestuur omdat hy met jou wil trou.”
41Sy het opgestaan en met haar gesig teen die grond gebuig en gesê: “Ek is bereid om sy slavin te wees en vir hom slawewerk te doen.”
42Abigajil het gou gereedgemaak en op ’n donkie geklim. Haar vyf diensmeisies was by haar. Sy het saam met Dawid se mense gegaan en met hom getrou.
43Dawid was ook getroud met Aginoam wat uit Jisreël gekom het. Hy het dus twee vroue gehad. 44Saul het sy dogter, Mikal, Dawid se eerste vrou, met Palti laat trou. Palti, wat van Gallim af gekom het, was Lajis se seun.

2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.

Learn More About Die Boodskap