YouVersion Logo
Search Icon

1 Samuel 21

21
Dawid kom in Nob aan
1Dawid het in Nob by priester Agimelek aangekom. Agimelek het groot geskrik toe hy Dawid sien en vir hom gevra: “Hoekom kom jy alleen hier aan sonder iemand by jou?”
2Dawid sê toe vir priester Agimelek: “Die koning het my gestuur, maar hy het gesê ek mag vir niemand vertel waarheen hy my stuur en wat hy vir my gesê het nie. Ek sal my manskappe op ’n sekere plek kry. 3Maar sê my, wat het jy wat ’n mens kan eet? Gee my so vyf brode of wat jy ook al het.”
4Die priester sê toe vir Dawid: “Ek het nie gewone brood nie, net tempelbrood. Jy kan dit kry op voorwaarde dat jou manskappe rein is en nie seks gehad het nie.”
5“Maar natuurlik was ons nie by vroue nie,” antwoord Dawid. “Die manne is rein soos altyd wanneer ons gaan oorlog maak. Al is hierdie ’n gewone ding wat ons moet gaan doen, is die manne vir seker rein.”
6Die priester gee toe vir hom die tempelbrood, want daar was nie ander brood nie. Die enigste brood was dié wat die priesters by die altaar weggevat het toe hulle weer vars brood daar moes neersit.
7Een van Saul se werkers was daardie dag ook om die een of ander rede in die tempel. Sy naam was Doëg. Hy het uit Edom gekom en was die baas van Saul se skaapwagters.
8Dawid vra toe vir Agimelek: “Het jy nie dalk ’n spies of ’n swaard hier nie? Die koning het my so haastig gestuur, ek kon nie eers my spies of swaard of ander wapens vat nie.”
9Die priester antwoord hom: “Goliat, die Filistyn wat jy in Eikelaagte doodgemaak het, se swaard is hier. Dis toegedraai in ’n mantel daar agter die priestersak. As jy dit wil hê, kan jy dit kry. Dis die enigste swaard wat hier is.”
“Daar is nie nóg so ’n swaard nie,” sê Dawid. “Gee hom vir my.”
Dawid kom in Gat aan
10Dawid het daardie dag vir Saul gevlug en by Akis, die koning van Gat, uitgekom. 11Akis se paleiswerkers sê toe vir hom: “Maar dis mos Dawid, die koning van die land! Dis mos oor hóm wat die vroue sing as hulle in die rondte dans: “Saul het duisende verslaan en Dawid tien duisende.”
12Toe Dawid agterkom wat hulle sê, het hy baie bang geword vir koning Akis van Gat. 13Hy het toe voor hulle gemaak of hy mal is. Toe hulle hom vang, het hy hom stapelgek gehou: hy het met sy naels aan die deure by die dorp se ingang gekrap en die spoeg het oor sy baard geloop.
14“Kan julle nie sien die man is van sy kop af nie?” sê Akis vir die paleiswerkers. “Hoekom bring julle hom hier na my toe? 15Dink julle ek het mal mense nodig dat julle dié vent hierheen bring om sy manewales hier uit te haal? Vat hom uit my paleis uit!”

Currently Selected:

1 Samuel 21: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy