1 Samuel 20
DB
20
Jonatan wys hy is Dawid se vriend
1Dawid het gemaak dat hy wegkom van die profete se huis in Rama. Hy het by Jonatan gekom en vir hom gesê: “Wat het ek verkeerd gedoen? Watter sonde het ek gedoen? Wat het ek aan jou pa gedoen dat hy my wil doodmaak?”
2“Nooit! Jy gaan nie doodgemaak word nie,” sê Jonatan vir hom. “Ek verseker jou, my pa doen niks voordat hy eers met my daaroor gepraat het nie, of dit nou ’n belangrike of ’n onbelangrike ding is. Waarom sou hy dit vir my wegsteek as hy jou wil doodmaak? Daar bestaan nie so iets nie.”
3Maar Dawid sê: “So waar as die Here leef, Jonatan, jou pa weet baie goed dat jy erg is oor my, en ek is seker hy het vir homself gesê: ‘Jonatan moet nie hiervan weet nie, want dit sal hom ontstel.’ Ek verseker jou, so waar as die Here leef en so waar as jy leef: daar is maar een tree tussen my en die dood.”
4Jonatan sê toe vir Dawid: “Sê dan maar wat wil jy hê ek vir jou moet doen.”
5Daarop sê Dawid: “Kyk, dis môre nuwemaan, dan móét ek saam met die koning eet. Gee vir my toestemming dat ek in die veld kan gaan wegkruip tot oormôreaand. 6As jou pa my regtig mis by die ete, moet jy vir hom sê: ‘Dawid het by my verlof gevra om dringend na sy tuisdorp, Betlehem, toe te gaan, want die hele familie kom daar bymekaar vir die jaarlikse offer.’ 7As jou pa sê: ‘Dis goed so,’ is jou getroue vriend veilig. Maar as jou pa baie kwaad word, moet jy weet hy het klaar besluit om van my ontslae te raak. 8Jy het my met ’n belofte voor die Here aan jou gebind as jou getroue vriend. As ek enigiets verkeerds gedoen het, doen my dan die guns en maak jý my dood. Maar moet my asseblief nie aan jou pa oorgee nie.”
9“Ek sal dit nooit doen nie,” sê Jonatan. “As ek doodseker is my pa wil van jou ontslae raak, sal ek jou vir seker laat weet.”
10“Ja, maar wie sal vir my kom sê of jou pa ’n dwars antwoord gegee het of nie?” vra Dawid.
11Jonatan sê vir Dawid: “Kom ons stap ’n bietjie veld toe.”
Hulle twee het die veld in gestap, 12en daar het Jonatan vir Dawid gesê: “Ek belowe jou voor die Here, die God van Israel, dat ek oormôre teen hierdie tyd sal uitvind wat my pa se plan is. As dit goed lyk, sal ek vir seker iemand stuur om dit vir jou te kom sê. 13Maar as my pa vas besluit het om van jou ontslae te raak, sal ek jou laat weet en seker maak dat jy wegkom na ’n veilige plek. As ek dit nie doen nie, kan die Here my maar baie swaar straf.
“Die Here sal jou help soos Hy vroeër my pa gehelp het. 14As ek nog leef, moet jy asseblief vir my goed wees soos die Here vir jou goed is, sodat ek nie doodgemaak word nie. 15En wanneer die Here elke vyand van jou van die aarde af uitroei, moet jy asseblief ook vir my familie goed wees solank jy leef.”
16So het Jonatan met Dawid se familie ’n ooreenkoms gemaak met die woorde: “Die Here sal sorg dat dit uitgevoer word.” 17Jonatan het Dawid ook laat sweer dat hy getrou sal bly aan hom, dat hy vir hom soveel sal omgee as wat hy vir homself omgee.
18Daarna sê Jonatan: “Môre is dit die nuwemaansfees. Hulle sal jou mis, want jou plek sal leeg wees. 19Gaan oormôre na die plek toe waar jy die vorige keer weggekruip het, dan gaan sit jy naby die Ezelrots. 20Ek sal maak of ek na ’n teiken skiet en drie pyle in die rigting van die rots skiet. 21Ek sal dan my wapendraer stuur om die pyle te gaan soek. As ek vir die wapendraer sê: ‘Nee man, die pyle lê nader! Bring hulle!’ kan jy maar uitkom, want dan is dit veilig. Dan is daar, so waar as die Here leef, geen gevaar nie. 22Maar as ek vir die jong man sê: ‘Nee jong, die pyle lê verder!’ moet jy maak dat jy wegkom, want dan is dit die Here wat jou wegstuur. 23En onthou, solank ons leef, is die Here getuie van die belofte wat ons aan mekaar gemaak het.”
24Dawid het toe in die veld gaan wegkruip.
Op die nuwemaansdag het koning Saul na die feesete toe gegaan. 25Hy het op sy gewone plek teen die muur gaan sit. Abner het langs hom gesit en Jonatan regoor hom. Dawid se plek was leeg. 26Saul het daardie dag niks daaroor gesê nie, want hy het gedink: “Daar moes iets met Dawid gebeur het. Hy kon hom seker nie vir die ete gereedmaak nie en nou is hy onrein.”
27Maar die volgende dag, die tweede nuwemaansdag, was Dawid se plek wéér leeg. Toe vra Saul vir Jonatan: “Hoekom het die seun van Isai nie gister of vandag saam met ons kom eet nie?”
28Jonatan sê toe: “Dawid het by my toestemming gevra om Betlehem toe te gaan. 29Hy het gesê: ‘Verskoon my, asseblief; ons familie in Betlehem het ’n familieoffer, en my oudste broer het gesê ek moet kom. As dit vir jou reg is, sal ek graag wil gaan en my familie gaan sien.’ Daarom het hy nie na die koning se ete gekom nie.”
30Saul het hom bloedig vir Jonatan vererg en geskree: “Jou opstandige klein sot! Dink jy ek weet nie dat jy kant gekies het vir daardie seun van Isai nie? En dit tot jou eie skande en die skande van jou ma wat jou in die wêreld gebring het! 31Solank daardie seun van Isai leef, sal jy en jou koninkryk in gevaar wees! Gaan haal hom dadelik en bring hom hier! Hy moet doodgemaak word!”
32Maar Jonatan sê vir sy pa: “Hoekom moet hy doodgemaak word? Wat het hy verkeerd gedoen?”
33Toe mik Saul om Jonatan met die spies te gooi. Hy wou hom doodgooi. Jonatan het dadelik geweet sy pa het vas besluit om Dawid dood te maak. 34Hy was baie kwaad en het van die tafel af opgestaan. Daardie hele dag het hy niks geëet nie. Hy was te ontsteld oor Dawid, oor sy pa hom wou doodmaak.
35Die volgende môre is Jonatan saam met ’n jong seun veld toe, soos hy met Dawid afgespreek het. 36Hy sê toe vir die knaap: “Hardloop en gaan haal die pyl wat ek skiet.” Die seun hardloop, en Jonatan skiet die pyl bo-oor hom. 37Toe die seun by die plek kom waar die pyl moet lê, skree Jonatan vir hom: “Lê die pyl nie nog verder nie?” 38En hy skree ook vir hom: “Maak baie gou! Moenie wag nie!”
Die seun het die pyl opgetel en vir Jonatan gebring. 39(Die knaap het niks van die hele affêre geweet nie; net Jonatan en Dawid het daarvan geweet.) 40Jonatan gee toe sy wapens vir die seun en sê vir hom: “Vat dit terug dorp toe!”
41Toe die seun weg is, het Dawid agter die rots uitgekom. Hy het op sy knieë gaan staan en drie keer met sy gesig teen die grond gebuig. Toe omhels hulle mekaar en huil op mekaar se skouers totdat Dawid hom regruk. 42Jonatan sê toe vir Dawid: “Jy kan maar gaan. Jy is veilig, want ons twee het in die Naam van die Here ’n belofte aan mekaar gemaak; en die Here sal altyd sorg dat ek en jy en ons kinders daardie belofte nakom.”
43Dawid het toe sy goed gevat en weggegaan, en Jonatan is terug dorp toe.

2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.

Learn More About Die Boodskap