YouVersion Logo
Search Icon

1 Samuel 19

19
Saul se kinders help vir Dawid
1Saul het vir sy seun Jonatan en al sy offisiere gesê om Dawid dood te maak. Omdat Jonatan baie erg was oor Dawid, 2het hy dit vir hom gaan vertel: “My pa wil jou laat doodmaak,” het hy gesê. “Jy moet môreoggend lig loop. Kry vir jou ’n veilige plek en gaan kruip weg. 3Ek sal self môre saam met my pa uitgaan en in die veld waar jy wegkruip, met hom oor jou praat. As ek iets agterkom, sal ek jou laat weet.”
4Jonatan het by Saul vir Dawid gepleit en vir hom gesê: “Pa is koning; moet tog nie ’n verkeerde ding aan Dawid doen nie. Hy is Pa se onderdaan en hy het niks verkeerds aan Pa gedoen nie. Inteendeel, wat hy gedoen het, was net tot Pa se voordeel. 5Hy het sy lewe gewaag om die Filistyn dood te maak, en die Here het ’n groot oorwinning vir die hele Israel gegee. Pa het dit self gesien en Pa was bly daaroor. Hoekom sou Pa dan nou sonde doen deur ’n onskuldige man soos Dawid dood te maak?”
6Saul het na Jonatan geluister en by die Here gesweer dat hy Dawid nie sou doodmaak nie. 7Jonatan het toe vir Dawid geroep en hom alles vertel. Hy het Dawid na Saul toe gevat en Dawid het weer soos voorheen vir Saul gewerk.
8Daar was weer oorlog met die Filistyne en Dawid het teen hulle gaan veg. Dié keer het Dawid hulle so erg aangeval dat hulle vir hom gevlug het.
9’n Slegte gees het Saul toe weer beetgepak. Hy het in die paleis gesit met ’n spies in sy hand terwyl Dawid vir hom op die lier speel. 10Saul wou vir Dawid met die spies teen die muur vasgooi, maar Dawid het gekoes sodat die spies in die muur vasgesteek het. Dawid het weggehardloop en daardie nag van die paleis af padgegee.
11Saul het mense na Dawid se huis gestuur om die huis dop te hou en Dawid die volgende môre dood te maak. Maar Mikal, sy vrou, het hom gewaarsku: “Sorg dat jy vannag wegkom, anders is jy môre dood.” 12Sy het Dawid deur ’n venster laat afsak. Hy het gevlug en weggekom. 13Mikal het die beeld van die huisgod gevat en dit op die bed gesit. Sy het ’n deken oor die beeld gegooi en ’n bokhaarkombersie om die beeld se kop gedraai.
14Saul het mense gestuur om Dawid te vang, maar Mikal sê toe Dawid is siek. 15Saul het die manne teruggestuur om seker te maak dat Dawid daar is. Hy het vir hulle gesê: “Bring hom met bed en al. Ek wil hom doodmaak.” 16Toe hulle in sy kamer kom, kry hulle sowaar net die huisgod op die bed met die bokhaarkombersie om die ding se kop!
17Saul het vir Mikal gesê: “Hoekom het jy my in die steek gelaat en my vyand gehelp om weg te kom?”
Waarop Mikal toe antwoord: “Dis sy skuld. Hy het gesê ek moet hom help om weg te kom, anders maak hy my dood.”
Saul is weer by die profete
18Dawid het intussen gesorg dat hy wegkom. Hy is na Samuel toe in Rama. Hy het vir Samuel alles vertel wat Saul aan hom gedoen het. Hy het toe saam met Samuel in die huis van die profete gaan bly.
19Toe Saul hoor dat Dawid in die huis van die profete in Rama is, 20het hy mense gestuur om hom te vang. Hulle kom toe daar af op ’n groep profete wat in profetiese ekstase is. Samuel het hulle gelei. Die Gees van God het in die manne van Saul begin werk sodat hulle ook in profetiese ekstase geraak het. 21Toe Saul dit hoor, het hy ander manne gestuur, maar ook húlle het in profetiese ekstase geraak. Saul het ’n derde groep gestuur en dieselfde het met hulle gebeur. 22Saul gaan toe maar self na Rama toe. Toe hy by die groot put in Seku kom, het hy gevra waar Samuel en Dawid is. Die mense het hom beduie na die huis van die profete in Rama. 23Saul het na die huis van die profete toe gegaan. Die Gees van God het ook in hóm begin werk sodat hy sommer so in die loop al in profetiese ekstase was. Toe hy by die huis van die profete kom, 24het hý ook sy klere uitgetrek en in profetiese ekstase voor Samuel neergeslaan. Hy het ’n hele dag en ’n nag so kaal bly lê. Daarom sê die spreekwoord: “Hoort Saul dan by die profete?”

Currently Selected:

1 Samuel 19: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy