1 Samuel 15
DB
15
Die Here wil nie meer vir Saul as koning hê nie
1Samuel het vir Saul gaan sê: “Ek is die man wat die Here gestuur het om jou koning te maak oor sy mense, die Israeliete. Luister nou mooi wat het die Here gesê. 2Die magtige Here het gesê Hy onthou baie goed wat die Amalekiete gedoen het toe die Israeliete uit Egipte getrek het. Hulle het die Israeliete voorgekeer. 3Saul, jy moet nou met die Amalekiete gaan oorlog maak. Roei hulle almal uit. Moenie jammer wees vir hulle nie. Maak hulle en al hulle diere dood: die mans en vroue, die kinders en babatjies, die beeste en die skape, die kamele en die donkies.”
4Saul het vir die mense laat weet hy wil teen die Amalekiete gaan veg. Hulle het by Telaim bymekaargekom, en toe hy die manne tel, was daar 200 afdelings uit Israel en tien afdelings uit Juda. 5Toe Saul by die dorp van die Amalekiete kom, het hy hulle met sy manne in die spruit voorgelê. 6Maar hy het eers vir die Keniete laat weet: “Maak dat julle wegkom van die Amalekiete af, anders maak ek julle dalk saam met hulle dood. Ek wil dit nie doen nie, want julle was goed vir die Israeliete toe hulle uit Egipte getrek het.” Die Keniete het toe van die Amalekiete af padgegee.
7Saul het die Amalekiete aangeval en hulle van Gawila af gejaag tot by Sur, naby Egipte. 8Hy het Agag, die koning van die Amalekiete, lewendig laat vang, maar al die ander mense laat doodmaak. 9Saul en sy mense het nie vir Agag doodgemaak nie. Hulle het ook nie die beste skape, bokke en beeste doodgemaak nie; ook nie die tweede beste diere en die jong ramme nie. Hulle wou nie die mooi diere doodmaak nie, maar die diere wat niks werd was nie, die goed wat niemand wou hê nie, dié het hulle doodgemaak.
10Die Here sê toe vir Samuel: 11“Ek is jammer Ek het vir Saul laat koning maak, want hy luister nie na My nie en doen nie wat Ek vir hom sê nie.”
Samuel was baie ongelukkig daaroor en hy het dwarsdeur die nag ernstig gebid. 12Hy het vroeg die môre opgestaan om Saul te gaan sien. Die mense sê toe vir hom: “Saul het Karmel toe gegaan om daar vir homself ’n monument op te sit. Daarvandaan is hy hier verby af Gilgal toe.”
13Toe Samuel by Saul kom, sê Saul vir hom: “Die Here is goed vir jou. Ek kon alles doen wat Hy gesê het ek moet doen.”
14“Maar hoekom hoor ek dan skape blêr en beeste bulk?” vra Samuel.
15“O, dit kom van die Amalekiete af,” sê Saul. “Die manne het die beste skape en beeste saamgebring om vir die Here u God te offer. Al die ander het ons doodgemaak.”
16“Bly stil,” sê Samuel vir Saul. “Kom ek sê vir jou wat die Here vannag vir my gesê het.”
“Ja, sê maar,” sê Saul.
17“Jy het mos eers gedink jy is onbelangrik, nie waar nie?” sê Samuel. “Maar toe word jy die leier van al die Israeliete, want die Here het jou koning laat maak oor Israel. 18Die Here het jou gestuur om vir Hom ’n werk te gaan doen. Hy het vir jou gesê: ‘Saul, jy moet daardie klomp slegte mense, die Amalekiete, gaan doodmaak. Veg teen hulle totdat daar niks van hulle oor is nie.’ 19Hoekom het jy nie na die Here geluister nie? Hoekom het jy van die goed gegryp wat julle by die Amalekiete gevat het? Jy het ’n lelike ding gedoen. Die Here hou niks daarvan nie.”
20“Maar ek hét na die Here geluister,” sê Saul vir Samuel. “Ek het gaan doen wat die Here gesê het ek moet doen. Ek het Agag, die koning van die Amalekiete, saamgebring, maar ek het al die ander Amalekiete doodgemaak. 21Die manne het die beste skape en beeste wat ons vir die Here moes doodmaak, gevat om hier in Gilgal vir die Here jou God te kom offer.”
22Toe sê Samuel:
Hou die Here meer van allerhande offers as van gehoorsaamheid?
Nee, om gehoorsaam te wees is beter as om offerdiere te slag,
en om te luister is beter as om die vet van ramme te verbrand.
23Om jou teen die Here te verset en jou eie kop te volg
is net so erg as om na ’n waarsêer of afgodspriester te luister.
Omdat jy die Here se woorde eenkant toe gestoot het,
gaan die Here jou as koning eenkant toe stoot.
24“Ek het gesondig,” sê Saul vir Samuel. “Ek was ongehoorsaam aan die Here en ek het nie gedoen wat jy gesê het ek moet doen nie. Maar ek was bang vir die mense en het na hulle geluister. 25Vergewe asseblief wat ek verkeerd gedoen het en kom kniel saam met my voor die Here.”
26“Nee, ek gaan nie saam met jou nie,” sê Samuel vir hom. “Omdat jy die woorde van die Here eenkant toe gestoot het, het die Here jou ook eenkant toe gestoot. Jy gaan nie meer die koning van Israel wees nie.”
27Toe Samuel omdraai om weg te loop, gryp Saul hom aan sy mantel. Toe skeur die mantel. 28Samuel sê: “Die Here het nou net jou koningskap oor Israel van jou afgeskeur en dit vir iemand anders gegee wat beter is as jy. 29Die God van Israel, wat altyd daar is, sal nie lieg nie en Hy gaan ook nie sy plan verander nie, want Hy is nie ’n mens nie.”
30“Ek het gesondig,” sê Saul toe weer. “Moet my asseblief nie voor die Israeliete en hulle leiers verneder nie: kom kniel saam met my voor die Here jou God.” 31Samuel het saam met Saul gegaan en Saul het voor die Here gaan kniel.
32Daarna sê Samuel: “Bring vir Agag, die koning van die Amalekiete, hier.”
Agag het na hom toe gegaan. Hy was ewe vrolik en het gedink: “Ek hoef nie meer bang te wees hulle sal my doodmaak nie.”
33Maar Samuel sê vir hom: “Jou swaard het ma’s en hulle kinders doodgemaak; net so gaan jou ma ook nou sonder ’n kind wees.” Toe het Samuel daar by die altaar in Gilgal Agag se kop afgekap.
34Samuel het Rama toe gegaan en Saul het teruggegaan na sy huis in Gibea, die dorp waar hy gebore is. 35Samuel het nooit weer vir Saul gesien solank hy geleef het nie. Samuel het oor Saul gehuil en die Here was jammer dat Hy Saul koning laat maak het oor Israel.

2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.

Learn More About Die Boodskap