YouVersion Logo
Search Icon

1 Samuel 13

13
Saul maak ’n groot fout
1Saul was ’n jong man toe hy koning geword het, en hy was altesaam 42 jaar lank koning oor Israel.
2Aan die begin het Saul vir hom 3 000 van die Israeliete uitgesoek as sy soldate. Hy het 2 000 van hierdie troepe by hom in Mikmas en in die bergwêreld om Bet-El gehou, en 1 000 van hulle het hy by Jonatan in Gibea van Benjamin laat bly. Die res van die volk het hy huis toe gestuur.
3Jonatan het die wagte van die Filistyne in Gibea aangeval. Die Filistyne het ook gehoor dat Saul al die Hebreeuse huursoldate in die land opgeroep het. 4Die boodskap wat by al die Israeliete uitgekom het, was: “Saul het die wagte van die Filistyne aangeval en die Filistyne is nou baie kwaad vir die Israeliete.” Die gewone burgers is toe ook opgeroep om by Saul in Gilgal aan te sluit.
5Die Filistyne het hulle gereedgemaak vir oorlog teen die Israeliete. Hulle het by Mikmas, oos van Bet-Awen, saamgetrek met 30 afdelings strydwaens, ses afdelings perderuiters en soveel gewone burgers as wat daar sandkorrels op die seestrand is.
6Toe die gewone burgers van Israel sien dat hulle in die moeilikheid is en dat hulle in ’n hoek is, het hulle oral gaan wegkruip: in grotte, rotsskeure, klowe, gate en droë putte. 7Die Hebreeuse huursoldate het padgegee na die streke van Gad en Gilead oorkant die Jordaan. Saul het in Gilgal agtergebly. Die mense wat nog by hom was, was doodbang.
8Saul het sewe dae gewag soos Samuel met hom afgespreek het. Maar toe Samuel nie opdaag nie, het die mense van Saul af begin wegloop. 9Daarom het hy gesê: “Bring vir my die brandoffer en die offer vir die heilige ete.” Hy het die brandofferdier geoffer, 10en net toe hy dit klaar gedoen het, kom Samuel daar aan. Saul het uitgegaan om Samuel te groet.
11“Wat het jy gedoen?” vra Samuel.
“Ek het gesien die mense begin wegloop toe u nie op die afgespreekte tyd hier is nie,” antwoord Saul, “en omdat die Filistyne by Mikmas saamgetrek is, 12het ek gedink: die Filistyne gaan hier in Gilgal op my toesak voordat ek die Here gevra het om my te help. Ek het my toe maar sterk gehou en die brandofferdier geoffer.”
13Toe sê Samuel vir Saul: “Dit was dom van jou. Jy het nie gedoen wat die Here jou God vir jou gesê het nie. Die Here was bereid om die koningskap oor Israel vir altyd vir jou familie te gee. 14Maar nou sal jou koningskap nie langer bestaan nie. Die Here het klaar vir Hom ’n man uitgesoek van wie Hy baie hou en Hy het hóm as leier van sy volk gekies, want jy het nie gedoen wat die Here vir jou gesê het nie.”
15Samuel het toe opgestaan en weggeloop.
Saul het van Gilgal na Gibea in Benjamin opgegaan. Daar het hy die manskappe getel wat nog by hom was: daar was omtrent 600 van hulle oor. 16Saul en sy seun Jonatan en die manskappe het in Gibea in Benjamin gebly. Die Filistyne se kamp was nog in Mikmas.
17Daar het drie afdelings uit die kamp van die Filistyne gegaan om die gewone Israeliete se goed te roof. Een groep was besig om dit te doen na Ofra se kant toe, in die omgewing van Sual; 18die ander groep was besig om dit na Bet-Horon se kant toe te doen, en die derde groep het na die kop toe gegaan wat na die woestyn se kant toe uitkyk op die Seboïmvallei.
Jonatan se heldedaad
19In die hele gebied van Israel was daar niemand wat met yster kon werk nie, want die Filistyne het gesê: “Ons laat dit nie toe nie, anders maak die Hebreërs swaarde en spiese.” 20Die Israeliete moes maar elke keer na die Filistyne toe gaan om hulle ploegskare, pikke, byle of sekels te laat regmaak. 21Die prys was twee stukkies silwer vir die regmaak van ’n ploegskaar en ’n pik, en een stukkie silwer vir ’n vurk en ’n byl en die ysterpunt van ’n osdrywerstok. 22Toe die oorlog uitbreek, het nie een van die burgers wat by Saul en Jonatan aangesluit het, ’n swaard of ’n spies gehad nie. Net Saul en sy seun Jonatan het elkeen ’n swaard en ’n spies gehad.
23Die Filistyne se wagte was in die bergpas van Mikmas.

Currently Selected:

1 Samuel 13: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy