YouVersion Logo
Search Icon

1 Johannes 3

3
Leef reg, Jesus kom weer
1Ons staan bekend as kinders van God. Ons ís dit natuurlik ook. Ons hemelse Vader self het ons sy kinders gemaak - dít is nou liefde as daar al ooit liefde was! Maar die wêreld ken ons nie. Hulle weet nie wie ons regtig is nie. Weet julle hoekom? Hulle ken God nie. 2My broers en susters vir wie ek so lief is, luister, ons is nou reeds kinders van God. Watter wonderlike dinge nog alles in die toekoms met ons gaan gebeur, is ons nie seker van nie.
Van een ding is ons egter seker: Jesus kom weer. Dan gaan ons Hom in sy grootheid sien soos Hy regtig is en ons self gaan ook soos Hy word.
3Vertrou jy Jesus so dat jy dít van Hom verwag? Wel, maak dan Jesus se optrede die patroon van jou lewe: soos sy lewe skoon en sonder foute was, so moet joune ook wees.
Moenie op die sonde se voorstoep speel nie
4Sonde en ongehoorsaamheid aan die wil van God is presies dieselfde ding. Om sonde te doen beteken dus om God se reëls te oortree. In Jesus is daar egter geen teken van sonde nie. Ons weet dat Hy die sonde nie kan verdra nie. 5Die rede waarom Hy gekom het, was juis om die sonde te kom vernietig. 6Wie nou in ’n intieme verhouding met Jesus staan, sal mos nie ’n gewoonte daarvan wil maak om op die sonde se voorstoep te speel nie. Wie gedurig só agter die sonde aanloop, gee eintlik deur sy lewe te kenne: “Ek weet nie wie Jesus is nie; ek het Hom nog nooit gesien nie en ken Hom nie.”
7Liewe kinders, moenie toelaat dat iemand julle om die bos lei nie. Jesus se verhouding met God is reg. Net so is iemand wat gewoonlik dinge doen wat vir God reg is, se verhouding met God ook reg. 8Daarteenoor is iemand wat gedurig alles doen waarvan God nie hou nie, ’n kind van die duiwel. Die duiwel doen mos nog altyd dit waarvan God nie hou nie. Die Seun van God het juis aarde toe gekom om die duiwel te kom vasvat. 9Niemand wat deur God sy kind gemaak is, maak nog ’n gewoonte van die sonde nie. Hoe kan hy? God het so iemand mos lewendig gemaak. Ja, uit God self is hy gebore, want God is kragtig en sterk. Daarom mag die gedagte om iets te doen wat God ongelukkig maak, nie eens by ’n kind van God opkom nie.
10Wil julle weet wie ’n kind van die duiwel en wie ’n kind van God is? Kyk maar, iemand wat nie doen wat vir God reg is nie en sy broer of suster nie liefhet nie, is beslis nie ’n kind van God nie.
Wil julle weet wat liefde is?
11“Ons moet mekaar liefhê!” Hierdie boodskap het julle reg van die begin af gehoor.
12Moenie soos Kain wees nie. Hy het sy broer vermoor omdat hy sleg van binne was. Jy sou kon vra wat hom gedryf het om dit te doen. Wel, hulle het nie langs dieselfde vuur gesit nie. Kain het dinge gedoen wat sleg was, maar sy broer het dinge gedoen wat voor God reg was.
13Julle moet dus nie verbaas wees nie, broers, as die ongelowige wêreld julle haat. 14Ons weet mos: ons was eers geestelik dood, maar ons toestand is verander. Ons lewe nou! Dit kan almal sien uit ons liefde vir ons medegelowiges. Aan die ander kant is iemand sonder liefde in die kloue van die geestelike dood. 15Elkeen wat sy broer haat, is ’n moordenaar. En dit weet julle, ’n persoon kan nie tegelyk deur moord ’n ander se lewe van hom wegvat en dan self vir ewig wil lewe nie.
16Wil julle weet wat liefde is? Ons het ’n goeie voorbeeld daarvan: Jesus Christus het Homself gegee om tot ons voordeel doodgemaak te word. Ons behoort presies dieselfde te doen. Ons moet bereid wees om ons lewe tot die voordeel van ons medegelowiges te gee.
17Byvoorbeeld, veronderstel iemand het alles wat hy nodig het. Hy kom egter agter dat ’n medegelowige eenvoudig nie genoeg het om oor die weg te kom nie. Wat nou gemaak? Wel, as die persoon wat genoeg het, meen die nood van die ander een raak hom nie en ongevoelig daarby verbykyk, flits die rooi ligte. Daardie persoon tree eenvoudig nie op uit die liefde wat van God kom nie. 18My liewe kinders, ons liefde moenie net uit ’n gepraat bestaan nie. Dit moet in dade uitgeleef word. Dit is wat iemand doen vir wie God se waarheid belangrik is.
Ons kan op ons gemak wees by God
19So sal ons daarvan seker kan wees dat wat ons doen uit die fontein van God se waarheid borrel. Ons sal met vertroue voor God self kan staan. 20Selfs as daar dinge is waaroor ons skuldig of onseker voel, weet ons dat God groter is as al ons skuldgevoelens of onsekerhede. Hy weet immers meer oor ons as ons self. 21My liewe vriende, as ons van hierdie skuldgevoelens en slegte gewete ontslae is, is daar niks wat ons meer keer om by God op ons gemak te wees nie.
22Dan kan ons dinge van Hom vra en ons sal dit van Hom kry. Ons vra en doen immers net dit wat in ooreenstemming is met God se wil en wat Hom tevrede en gelukkig maak.
23Dít is wat God wil hê: ons moet sy Seun, Jesus Christus, volledig in die geloof aanvaar vir wie Hy is. Daarmee saam moet ons die wil van Jesus doen deur mekaar lief te hê.
24Wie God se wil so doen, is werklik deel van die intieme familiekring van God. Sy belange raak totaal met die belange van God vervleg. God is vir hom die allerbelangrikste en hy is net so belangrik vir God. Dat God ons werklik so deel van sy intieme familiekring gemaak het, kan ons daarin sien dat Hy aan ons die Heilige Gees gegee het.

Currently Selected:

1 Johannes 3: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy