YouVersion Logo
Search Icon

1 Korintiërs 3

3
Die Here gee vir elkeen ’n spesiale werk
1My vriende, ek kon nie met julle praat soos met mense wat die geestelike dinge van God verstaan en so leef nie. Ek moes sowaar met julle praat soos met mense wat glad nie bekommerd is oor wat God wil hê nie. Julle het net aan julleself gedink. Julle was net soos mense wat so pas Christene geword het en nog nie mooi weet wat Jesus van julle verwag nie. Geestelik was julle soos pap babatjies. 2Soos ’n pap babatjie net melk kan inkry, het julle net kans gesien vir die heel eenvoudigste geestelike boodskappe. Enigiets meer ingewikkeld was vir julle te veel. En nog steeds gaan dit so met julle, 3want julle stel net belang in julleself en julle menslike behoeftes. Kyk net na julle. Julle baklei soos kat en hond en gun mekaar niks nie. Bewys dit nie juis dat julle net aan julleself dink nie? Tree julle nie op soos mense wat eerder hulle eie belange as God se belange kies nie? 4Is dit nie presies wat julle prakties bewys as die een sê: “Ek dink Paulus is die beste dominee,” en die ander een weer: “Nee, ek dink Apollos is beter” nie?
5Wie is Apollos nou miskien dat hy so besonders is? Of Paulus, dat die gemeente so oor hulle moet stry? Hulle is maar net werkers van God wat julle gehelp het om Jesus te leer ken. Die Here het vir elkeen sy spesiale werk gegee. Dit is maar al wat hulle doen.
6Ek het die saad van die evangelie in julle hart geplant en Apollos het dit nat gehou, maar dit was God wat gesorg het dat daardie saad groei. 7Wie dink julle is nou eintlik die belangrikste van hierdie drie? Natuurlik God wat daardie saad lewe gee en dit laat groei. 8Die een wat die saad plant en die een wat dit nat hou, werk saam soos in een span. Daar is nie ’n verskil in die belangrikheid van wat hulle doen nie. Buitendien is God - en nie ons nie - die Een wat sal sorg dat elkeen van hulle die dank sal kry wat hulle verdien. 9Ek en Apollos is maar net mense wat die voorreg het om God te help. En julle is die mense wat God vir ons gegee het om te help.
Doen jou bes vir die Here
’n Mens kan julle, as die Here se gemeente, ook vergelyk met ’n gebou wat aan God behoort. 10God was baie goed vir my en het my geleer om in julle gemeente te werk soos ’n bouer wat sy werk ken. Ek het die fondament stewig en goed gelê. Ander bouers werk nou verder aan die gebou. Elkeen wat daarná bou, moet egter doodseker maak dat hy behoorlik en reg bou. 11Daar kan net op een plek gebou word en dit is waar ek die fondament gelê het.
Daardie fondament is Jesus Christus. Geestelike bouwerk op enige ander fondament help niks nie. Dit maak ook baie saak hoe en waarmee ’n mens op daardie fondament bou. 12Kyk mooi na die materiaal wat julle gebruik om te bou, 13want die Here gaan inspeksie kom hou. Julle sal dit nie vir Hom kan wegsteek as julle minderwaardige of afskeepmateriaal gebruik het om die gebou van sy gemeente te bou nie.
14God sal vir hulle wat goed gebou het ’n goeie beloning gee.
15Maar die mense wat sleg gebou het, sal op die dag wanneer die Here weer kom om hulle werk te inspekteer, baie spyt wees. Die Here sal hulle wel nie wegjaag nie, maar dit sal vir hulle net so goed wees asof hulle niks vir die Here gedoen het nie. Hulle sal met ’n bloedrooi gesig skaam agter in die ry moet gaan staan.
Die Heilige Gees bly in julle
16Julle besef natuurlik dat julle die plek is waar God op ’n baie spesiale manier teenwoordig is, soos in ’n tempel. God se Gees bly mos in julle soos iemand in ’n huis bly.
17As iemand God se tempel skade aandoen, sal hy met God self te doen kry. En dit gaan nie lekker wees nie, want God se tempel behoort aan Hom. Dit is Syne en net Syne. Julle is daardie tempel van God.
18Moenie gekke van julleself maak nie. Moenie dink julle is baie oulik en slim as julle lekker met die mense kan saampraat oor al die aardse dinge wat in die mode is nie. Dit is nie waar werklike wysheid lê nie, want God het alles mooi omgekeer. 19Wat vir mense slim lyk, is eintlik maar dom, terwyl dit wat vir mense dom lyk, eintlik regtig slim is. Daar is mos geskryf: “Die slimmes praat hulle met hulle eie slimmighede heeltemal deurmekaar,” 20en verder: “Die Here weet dat wat die slim mense dink eintlik net leë gedagtes is.”
21Om dus regtig wys te wees moet ’n mens soos God begin dink. God het mos vir julle alles gegee.
Los die gestry oor watter mense die belangrikste is. In vergelyking met God is almal eintlik niks nie, 22of dit nou Paulus is, of Apollos of Sefas. God het vir julle die wêreld gegee; Hy het vir julle lewe gegee en julle hoef nie meer bang te wees vir die dood nie. Die dinge wat vandag gebeur en wat nog in die toekoms gaan gebeur, het God alles vir julle gegee. Dit, en nie mense nie, moet vir julle belangrik wees, want 23julle is Jesus s’n en Jesus is God s’n.

Currently Selected:

1 Korintiërs 3: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy