YouVersion Logo
Search Icon

RUT 1

1
Naómi en haar skoondogter.
1EN in die dae toe die rigters geregeer het, was daar hongersnood in die land; daarom het 'n man uit Betlehem-Juda weggetrek om as vreemdeling te vertoef in die veld van Moab, hy en sy vrou en sy twee seuns.
2En die naam van die man was Eliméleg en die naam van sy vrou Naómi en die naam van sy twee seuns Maglon en Giljon, Efratiete, uit Betlehem-Juda, en hulle het gekom in die veld van Moab en daar gebly.
3En Eliméleg, die man van Naómi, het gesterwe, maar sy met haar twee seuns het oorgebly.
4En hulle het vir hulle Moabitiese vroue geneem; die naam van die een was Orpa en die naam van die ander Rut; en hulle het daar omtrent tien jaar gebly.
5En toe Maglon en Giljon altwee sterwe, en die vrou sonder haar twee seuns en haar man oorbly,
6het sy haar gereedgemaak met haar skoondogters en teruggegaan uit die veld van Moab, want sy het in die veld van Moab gehoor dat die Here op sy volk ag gegee het deur aan hulle brood te gee.
7So het sy dan haar woonplek verlaat en haar twee skoondogters saam met haar. Maar toe hulle op pad was om na die land Juda terug te gaan,
8sê Naómi aan haar twee skoondogters: Gaan heen, draai om, elkeen na die huis van haar moeder; mag die Here aan julle guns bewys soos julle aan die dode en aan my bewys het.
9Mag die Here gee dat julle 'n rusplek vind, elkeen in die huis van haar man; en sy het hulle gesoen. Maar hulle het hul stem verhef en geween
10en aan haar gesê: Nee, ons wil saam met u teruggaan na u volk.
11Maar Naómi sê: Draai om, my dogters! Waarom sou julle met my saamgaan? Het ek nog seuns in my liggaam, dat hulle julle mans kan word?
12Draai om, my dogters, gaan heen; want ek is te oud om 'n man te hê. Al sou ek sê: Ek het hoop! en nog vannag aan 'n man mag behoort en ook seuns baar —
13sou julle in dié geval kan wag totdat hulle groot geword het? Sou julle in dié geval julleself opsluit om nie aan 'n man te behoort nie? Ag nee, my dogters, want dit is vir my baie bitterder as vir julle dat die hand van die Here teen my uitgestrek is.
14Toe verhef hulle hul stem en ween weer; en Orpa het haar skoonmoeder gesoen, maar Rut het haar aangehang.
15Daarop sê sy: Kyk, jou skoonsuster het omgedraai na haar volk en na haar gode toe; draai om agter jou skoonsuster aan!
16Maar Rut sê: Moenie by my aandring dat ek u moet verlaat om agter u om te draai nie; want waar u gaan, sal ek gaan; en waar u vertoef, sal ek vertoef; u volk is my volk, en u God is my God.
17Waar u sterwe, sal ek sterwe en daar begrawe word! Mag die Here so aan my doen en so daaraan toedoen — net die dood sal skeiding maak tussen my en u.
18 Toe sy sien dat sy vas besluit het om met haar saam te gaan, het sy opgehou om met haar te spreek.
19En hulle twee het op pad gegaan totdat hulle in Betlehem gekom het. En toe hulle in Betlehem kom, het die hele stad oor hulle in opskudding geraak, en die vroue het gesê: Is dit Naómi?
20Toe antwoord sy hulle: Noem my nie Naómi nie: noem my Mara, want die Almagtige het my baie bitterheid aangedoen.
21Vol het ek weggetrek, maar leeg het die Here my laat terugkom. Waarom sou julle my Naómi noem, terwyl die Here teen my getuig het, en die Almagtige my kwaad aangedoen het?
22So het Naómi dan teruggekeer en Rut, die Moabitiese, haar skoondogter wat saam met haar uit die veld van Moab teruggekom het; en hulle het in Betlehem gekom in die begin van die gars-oes.

Currently Selected:

RUT 1: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy