YouVersion Logo
Search Icon

ROMEINE 3

3
Voorreg van die Jood. Die geregtigheid van God.
1WAT is dan die voordeel van die Jood? Of wat is die nut van die besnydenis?
2Groot, in alle opsigte: ten eerste tog seker dat aan hulle die woorde van God toevertrou is.
3Want wat maak dit as sommige ontrou geword het? Sal hulle ontrou miskien die getrouheid van God vernietig?
4Nee, stellig nie! Maar God moet waaragtig wees en elke mens leuenagtig, soos geskrywe is: Sodat U geregverdig kan word in u woorde en oorwin as U gerig hou.
5Maar as ons ongeregtigheid die geregtigheid van God bewys, wat sal ons sê? Is God wat die toorn oor ons bring, dan nie onregverdig nie? Ek spreek menslikerwys.
6Nee, stellig nie! Want hoe sal God anders die wêreld oordeel?
7Maar as die waarheid van God deur my leuen oorvloediger geword het tot sy heerlikheid, waarom word ek dan nog as sondaar geoordeel?
8En moet ons nie liewer sê nie, soos ons belaster word en soos sommige beweer dat ons sê: Laat ons kwaad doen, sodat die goeie daaruit kan voortkom? Hulle veroordeling is regverdig.
Al die mense is onder die mag van die sonde.
9WAT dan? Het ons enige voorrang? Hoegenaamd nie! Want ons het tevore al Jode sowel as Grieke beskuldig dat hulle almal onder die sonde is,
10soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie.
11Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie.
12Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.
13 Hul keel is 'n oop graf, met hul tonge pleeg hulle bedrog, die gif van adders is onder hulle lippe.
14 Hulle mond is vol vervloeking en bitterheid.
15 Haastig is hulle voete om bloed te vergiet.
16Verwoesting en ellende is in hulle paaie,
17en die weg van vrede ken hulle nie.
18 Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie.
19Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees;
20aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde.
Regverdigmaking deur die geloof in Jesus Christus.
21MAAR nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig,
22die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie;
23want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God,
24en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.
25Hom het God voorgestel in sy bloed as 'n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God —
26om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is.
27 Waar is dan die roem? Dit is uitgesluit. Deur watter wet? Van die werke? Nee, maar deur die wet van die geloof.
28Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.
29Of behoort God net aan die Jode, en nie ook aan die heidene nie? Ja, ook aan die heidene,
30aangesien dit inderdaad een God is wat die besnedenes sal regverdig uit die geloof en die onbesnedenes deur die geloof.
31Maak ons dan die wet tot niet deur die geloof? Nee, stellig nie! Inteendeel, ons bevestig die wet.

Currently Selected:

ROMEINE 3: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy