YouVersion Logo
Search Icon

OPENBARING 2

2
Briewe aan die sewe gemeentes van Asië. Eerste brief: aan Éfese.
1SKRYF aan die engel van die gemeente in Éfese: Dít sê Hy wat die sewe sterre in sy regterhand hou, wat wandel tussen die sewe goue kandelaars:
2Ek ken jou werke en jou arbeid en jou lydsaamheid, en dat jy slegte mense nie kan verdra nie; en dat jy dié op die proef gestel het wat sê dat hulle apostels is en dit nie is nie, en hulle leuenaars bevind het;
3en dat jy verdra het en lydsaamheid besit, en ter wille van my Naam gearbei en nie moeg geword het nie.
4Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het.
5Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie.
6Maar dit het jy, dat jy die werke van die Nikolaïete haat, wat Ek ook haat.
7Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne-in die paradys van God is.
Tweede brief: aan die gemeente van Smirna.
8EN skryf aan die engel van die gemeente in Smirna: Dít sê die eerste en die laaste, wat dood was en lewend geword het:
9Ek ken jou werke en verdrukking en armoede — maar jy is ryk — en die lastering van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar 'n sinagoge van die Satan.
10Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee.
11Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Die wat oorwin, sal deur die tweede dood geen skade ly nie.
Derde brief: aan die gemeente van Pérgamus.
12EN skryf aan die engel van die gemeente in Pérgamus: Dít sê Hy wat die skerp tweesnydende swaard het:
13Ek ken jou werke en die plek waar jy woon, waar die troon van die Satan is. En jy hou vas aan my Naam en het die geloof in My nie verloën nie, selfs in die dae waarin Ántipas my getroue getuie was, wat gedood is by julle waar die Satan woon.
14Maar Ek het enkele dinge teen jou: dat jy daar mense het wat vashou aan die leer van Bíleam wat Balak geleer het om 'n struikelblok voor die kinders van Israel te werp, naamlik om afgodsoffers te eet en te hoereer.
15So het jy ook mense wat vashou aan die leer van die Nikolaïete, wat Ek haat.
16Bekeer jou; anders kom Ek gou na jou toe en sal teen hulle oorlog voer met die swaard van my mond.
17Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die verborge manna, en Ek sal hom gee 'n wit keursteen, en op dié steen 'n nuwe naam geskrywe wat niemand ken nie, behalwe hy wat dit ontvang.
Vierde brief: aan die gemeente van Thiatíre.
18EN skryf aan die engel van die gemeente in Thiatíre: Dít sê die Seun van God wat oë het soos 'n vuurvlam, en sy voete is soos blink koper:
19Ek ken jou werke en liefde en diens en geloof en jou lydsaamheid en jou werke, en dat die laaste meer is as die eerste.
20Maar Ek het enkele dinge teen jou; dat jy die vrou Isébel, wat haarself 'n profetes noem, toelaat om te leer en my diensknegte te verlei om te hoereer en afgodsoffers te eet.
21En Ek het haar tyd gegee om haar van haar hoerery te bekeer, en sy het haar nie bekeer nie.
22Kyk, Ek werp haar neer op 'n siekbed, en die wat met haar owerspel bedryf, in 'n groot verdrukking, as hulle hul nie van hul werke bekeer nie.
23En haar kinders sal Ek sekerlik doodmaak, en al die gemeentes sal weet dat dit Ek is wat niere en harte deursoek, en Ek sal aan elkeen van julle gee volgens sy werke.
24En ek sê vir julle en die ander wat in Thiatíre is, almal wat hierdie leer nie het nie, en die wat die dieptes van die Satan, soos hulle dit noem, nie leer ken het nie: Ek sal op julle geen ander las lê nie.
25Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom.
26 En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee,
27en hy sal hulle regeer met 'n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het.
28En Ek sal hom die môrester gee.
29Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.

Currently Selected:

OPENBARING 2: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy