YouVersion Logo
Search Icon

SPREUKE 19

19
1 'n ARME wat in sy regskapenheid wandel, is beter as 'n verkeerde van lippe en daarby 'n dwaas.
2Selfs ywer is sonder kennis nie goed nie; en hy wat haastig is met die voete, trap mis.
3'n Mens se sotheid bederwe sy weg, maar sy hart is vertoorn op die Here.
4 Goed bring baie vriende aan, maar die arme word deur sy vriend verlaat.
5'n Valse getuie bly nie ongestraf nie, en hy wat leuens uitstrooi, sal nie vrykom nie.
6 Baie soek die guns van die edele, en die man van geskenke het 'n hoop vriende.
7 Al die broers van die arme haat hom; hoeveel te meer hou sy vriende hulle ver van hom af! Hy jaag agter hulle aan met woorde — weg is hulle!
8Wie verstand verkry, het sy lewe lief; hy wat insig bewaar, sal die goeie vind.
9'n Valse getuie bly nie ongestraf nie, en hy wat leuens uitstrooi, kom om.
10Weelde pas nie vir 'n dwaas nie, hoeveel minder vir 'n kneg om oor vorste te heers!
11 Die verstand van 'n mens maak hom lankmoedig, en dit is vir hom 'n eer om die oortreding te vergewe.
12Die grimmigheid van 'n koning is soos die gebrom van 'n jong leeu, maar sy welgevalle is soos dou op die plante.
13'n Dwase seun is 'n ramp vir sy vader, en die gekyf van 'n vrou is 'n aanhoudende gedrup.
14Huis en goed is 'n erfenis van die vaders, maar 'n verstandige vrou is van die Here.
15 Luiheid laat in 'n diep slaap val, en een wat traag is, moet honger ly.
16 Wie die gebod hou, bewaar sy lewe; hy wat sy weë nie ag nie, sal sterwe.
17 Wie hom ontferm oor die arme, leen aan die Here; en Hy sal hom sy weldaad vergelde.
18 Tugtig jou seun, want daar is hoop; maar laat dit nie in jou opkom om hom dood te maak nie.
19Hy wat groot van woede is, sal die straf dra; want as jy wil red, dan maak jy dit nog erger.
20Luister na raad en neem tug aan, sodat jy in die vervolg wys kan wees.
21 Baie planne is in 'n man se hart, maar die raad van die Here, dié sal bestaan.
22Die kostelike besit van 'n mens is sy weldadigheid; en liewer 'n arme as 'n leuenagtige man.
23Die vrees van die Here is tot die lewe; en versadig bring 'n mens die nag deur, sonder om deur 'n onheil besoek te word.
24Steek die luiaard sy hand in die skottel, dan bring hy dit nie eens na sy mond terug nie.
25Slaan jy die spotter, dan word die eenvoudige bedagsaam; maar bestraf jy die verstandige, dan sal hy kennis verkry.
26Hy wat sy vader geweld aandoen en sy moeder wegjaag, is 'n seun wat skande maak en skandelik handel.
27Hou op, my seun, om na tug te luister, terwyl jy tog afdwaal van die woorde van kennis.
28'n Deugniet wat getuienis gee, spot met die reg, en die mond van die goddelose verslind onreg.
29Vir die spotters staan strafgerigte klaar en slae vir die rug van die dwase.

Currently Selected:

SPREUKE 19: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy