YouVersion Logo
Search Icon

NÚMERI 1

1
Telling van die Israeliete in die woestyn Sinai.
1VERDER het die Here met Moses gespreek in die woestyn Sinai, in die tent van samekoms, op die eerste van die tweede maand, in die tweede jaar nadat hulle uit Egipteland uitgetrek het, en gesê:
2 Neem julle die volle getal van die hele vergadering van die kinders van Israel op volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, almal wat manlik is, hoof vir hoof;
3van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek in Israel, dié moet julle tel volgens hulle leërafdelings, jy en Aäron.
4En met julle saam moet daar van elke stam 'n man wees, 'n man wat hoof is van sy families.
5En dit is die name van die manne wat julle moet bystaan: Vir Ruben: Elísur, die seun van Sedéür;
6vir Símeon: Selúmiël, die seun van Surísaddai;
7vir Juda: Nagson, die seun van Ammínadab;
8vir Íssaskar: Netáneël, die seun van Suar;
9vir Sébulon: Elíab, die seun van Helon;
10vir die kinders van Josef: vir Efraim: Elisáma, die seun van Ammíhud; vir Manasse: Gámliël, die seun van Pedásur;
11vir Benjamin: Abídan, die seun van Gideóni;
12vir Dan, Ahiëser, die seun van Ammísaddai;
13vir Aser: Págiël, die seun van Ogran;
14vir Gad: Éljasaf, die seun van Réhuel;
15vir Náftali: Ahíra, die seun van Enan.
16Dit was hulle wat uit die vergadering opgeroep was, die owerstes van hulle voorvaderlike stamme, die stamhoofde van Israel.
17Toe het Moses en Aäron dié manne geneem wat met hulle name aangewys was,
18en hulle het die hele vergadering op die eerste dag van die tweede maand bymekaar laat kom; en dié het hulle afkoms opgegee volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, hoof vir hoof,
19soos die Here Moses beveel het. En hy het hulle getel in die woestyn Sinai.
20En die seuns van Ruben, die eersgeborene van Israel — hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, hoof vir hoof, almal wat manlik was, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek —
21hulle geteldes van die stam van Ruben was ses-en-veertigduisend-vyfhonderd.
22Van die seuns van Símeon, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, hoof vir hoof, almal wat manlik was, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek —
23hulle geteldes van die stam van Símeon was negen-en-vyftigduisend-driehonderd.
24Van die seuns van Gad, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek —
25hulle geteldes van die stam van Gad was vyf-en-veertigduisend-seshonderd-en-vyftig.
26Van die seuns van Juda, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek —
27hulle geteldes van die stam van Juda was vier-en-sewentigduisend-seshonderd.
28Van die seuns van Íssaskar, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek —
29hulle geteldes van die stam van Íssaskar was vier-en-vyftigduisend-vierhonderd.
30Van die seuns van Sébulon, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek —
31hulle geteldes van die stam van Sébulon was sewen-en-vyftigduisend-vierhonderd.
32Van die seuns van Josef, van die seuns van Efraim, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek —
33hulle geteldes van die stam van Efraim was veertigduisend-vyfhonderd;
34van die seuns van Manasse, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek —
35hulle geteldes van die stam van Manasse was twee-en-dertigduisend-tweehonderd.
36Van die seuns van Benjamin, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek —
37hulle geteldes van die stam van Benjamin was vyf-en-dertigduisend-vierhonderd.
38Van die seuns van Dan, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek —
39hulle geteldes van die stam van Dan was twee-en-sestigduisend-sewehonderd.
40Van die seuns van Aser, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek —
41hulle geteldes van die stam van Aser was een-en-veertigduisend-vyfhonderd.
42Van die seuns van Náftali, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek —
43hulle geteldes van die stam van Náftali was drie-en-vyftigduisend-vierhonderd.
44 Dit is die geteldes wat Moses en Aäron en die owerstes van Israel getel het; twaalf man was dit, elkeen vir sy families.
45So was dan al die geteldes van die kinders van Israel volgens hulle families, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat in Israel op kommando moet uittrek —
46al die geteldes dan was seshonderd-en-drieduisend-vyfhonderd-en-vyftig.
47Maar die Leviete, volgens hulle voorvaderlike stam, is onder hulle nie getel nie.
48Die Here het naamlik met Moses gespreek en gesê:
49Net die stam van Levi moet jy nie tel nie en hulle volle getal onder die kinders van Israel nie opneem nie;
50 maar stel jy die Leviete aan oor die tabernakel van die Getuienis en oor al sy gereedskap en oor alles wat daarby behoort. Húlle moet die tabernakel dra en alles wat daarby behoort, en húlle moet dit bedien en rondom die tabernakel laer opslaan.
51 En as die tabernakel wegtrek, moet die Leviete dit afbreek; en as die tabernakel rus, moet die Leviete dit oprig; en die onbevoegde wat nader kom, moet gedood word.
52En die kinders van Israel moet laer opslaan elkeen op sy laerplek en elkeen by sy vaandel, volgens hulle leërafdelings.
53 Maar die Leviete moet laer opslaan rondom die tabernakel van die Getuienis, dat daar geen toorn oor die vergadering van die kinders van Israel kom nie. So moet dan die Leviete die diens van die tabernakel van die Getuienis waarneem.
54En die kinders van Israel het dit gedoen; net soos die Here Moses beveel het, so het hulle gedoen.

Currently Selected:

NÚMERI 1: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy