YouVersion Logo
Search Icon

LUKAS 20

20
Die doop van Johannes.
(Mt. 21:23-27 en ooreenk. pl.)
1 EN op een van dié dae, terwyl Hy besig was om die volk in die tempel te leer en die evangelie te verkondig, kom die owerpriesters en die skrifgeleerdes saam met die ouderlinge by Hom staan,
2en hulle spreek met Hom en sê: Vertel ons deur watter gesag U hierdie dinge doen, of wie dit is wat U hierdie gesag gegee het?
3En Hy antwoord en sê vir hulle: Ek sal julle ook een ding vra — sê vir My:
4die doop van Johannes, was dit uit die hemel of uit mense?
5Toe het hulle onder mekaar geredeneer en gesê: As ons sê: Uit die hemel — sal Hy sê: Waarom het julle hom dan nie geglo nie?
6En as ons sê: Uit mense — sal die hele volk ons stenig, want hulle is daarvan oortuig dat Johannes 'n profeet is.
7Toe antwoord hulle dat hulle nie weet waarvandaan nie.
8En Jesus sê vir hulle: Dan vertel Ek julle ook nie deur watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.
Gelykenis van die landbouers.
(Mt. 21:33-46 en ooreenk. pl.)
9TOE begin Hy aan die volk hierdie gelykenis te vertel: 'n Sekere man het 'n wingerd geplant en dit aan landbouers verhuur en vir 'n geruime tyd op reis gegaan.
10En op die regte tyd het hy 'n dienskneg na die landbouers gestuur, dat hulle hom van die vrug van die wingerd sou gee. Maar die landbouers het hom geslaan en met leë hande weggestuur.
11En hy het weer 'n ander dienskneg gestuur, en hulle het hom ook geslaan en skandelik behandel en met leë hande weggestuur.
12En hy het weer 'n derde gestuur, en hulle het ook hierdie een gewond en uitgedryf.
13Toe sê die eienaar van die wingerd: Wat sal ek doen? Ek sal my geliefde seun stuur; miskien sal hulle ontsag hê as hulle hom sien.
14Maar toe die landbouers hom sien, het hulle onder mekaar geredeneer en gesê: Dit is die erfgenaam; kom laat ons hom doodmaak, sodat die erfdeel ons s'n kan wees.
15En hulle het hom uit die wingerd gewerp en hom doodgemaak. Wat sal die eienaar van die wingerd dan aan hulle doen?
16Hy sal kom en daardie landbouers ombring en die wingerd aan ander gee. En toe hulle dit hoor, sê hulle: Nee, stellig nie!
17Maar Hy het hulle aangekyk en gesê: Wat beteken dan hierdie Skrifwoord: die steen wat die bouers verwerp het, dit het 'n hoeksteen geword?
18Elkeen wat op dié steen val, sal verpletter word; maar elkeen op wie hy val, dié sal hy vermorsel.
Die vraag oor die belasting.
(Mt. 22:15-22 en ooreenk. pl.)
19TOE probeer die owerpriesters en die skrifgeleerdes in daardie selfde uur om die hande aan Hom te slaan, maar hulle het die volk gevrees; want hulle het geweet dat Hy hierdie gelykenis met die oog op hulle self uitgespreek het.
20 En hulle het Hom in die oog gehou en spioene gestuur wat geveins het dat hulle regverdig was, sodat hulle Hom op 'n woord kon betrap, om Hom oor te lewer aan die owerheid en aan die gesag van die goewerneur.
21En hulle het Hom gevra en gesê: Meester, ons weet dat U reguit praat en leer en die persoon nie aanneem nie, maar die weg van God in waarheid leer —
22is dit ons geoorloof om aan die keiser belasting te betaal of nie?
23Maar Hy het hulle listigheid bemerk en vir hulle gesê: Waarom versoek julle My?
24Wys My 'n penning. Wie se beeld en opskrif het dit? Hulle antwoord en sê: Die keiser s'n.
25Toe sê Hy vir hulle: Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom.
26En hulle kon Hom nie voor die volk op 'n woord betrap nie, en verwonderd oor sy antwoord het hulle geswyg.
Die Sadduseërs en die opstanding.
(Mt. 22:23-33 en ooreenk. pl.)
27EN sommige van die Sadduseërs het gekom — hulle wat ontken dat daar 'n opstanding is — en Hom gevra
28en gesê: Meester, Moses het ons voorgeskrywe: As iemand se getroude broer sterwe en hy sterf sonder kinders, dan moet sy broer die vrou neem en vir sy broer kinders verwek.
29Nou was daar sewe broers, en die eerste het 'n vrou geneem en kinderloos gesterwe.
30En die tweede het die vrou geneem, en hy het ook kinderloos gesterwe.
31En die derde het haar geneem; en net so al sewe. En hulle het geen kinders nagelaat nie en het gesterwe.
32En ten laaste het die vrou ook gesterwe.
33In die opstanding dan, wie van hulle se vrou sal sy wees? — want al sewe het haar as vrou gehad.
34Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Die kinders van hierdie eeu trou en word in die huwelik uitgegee;
35maar die wat waardig geag word om daardie eeu en die opstanding uit die dode te verkry, trou nie en word nie in die huwelik uitgegee nie.
36Want hulle kan ook nie meer sterwe nie, want hulle is soos die engele en is kinders van God, omdat hulle kinders van die opstanding is.
37En dat die dode opgewek word, het Moses ook in die gedeelte oor die doringbos aangedui, waar hy die Here noem die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob.
38Hy is tog nie 'n God van dooies nie, maar van lewendes, want almal leef vir Hom.
39En sommige van die skrifgeleerdes antwoord en sê: Meester, U het goed gespreek.
40En hulle het Hom nie meer iets durf vra nie.
Die Christus, die seun van Dawid.
(Mt. 22:41 vv. en ooreenk. pl.)
41 TOE sê Hy vir hulle: Hoe is dit dat hulle sê dat die Christus die seun van Dawid is?
42En Dawid self sê in die boek van die Psalms: Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand
43totdat Ek u vyande gemaak het 'n voetbank van u voete.
44Dawid noem Hom dan Here, en hoe is Hy sy seun?
Jesus waarsku teen die skrifgeleerdes.
(Mt. 23:1; Mk. 12:38-40.)
45EN terwyl die hele volk luister, sê Hy vir sy dissipels:
46Pas op vir die skrifgeleerdes wat graag in lang klere rondloop en van die begroetinge op die markte hou en van die voorste banke in die sinagoges en die voorste plekke by die maaltye.
47Hulle eet die huise van die weduwees op en doen vir die skyn lang gebede. Hulle sal 'n swaarder oordeel ontvang.

Currently Selected:

LUKAS 20: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy