YouVersion Logo
Search Icon

LUKAS 18

18
Gelykenis van die onregverdige regter.
1EN Hy het ook aan hulle 'n gelykenis vertel met die oog daarop dat 'n mens gedurig moet bid en nie moedeloos word nie,
2en gesê: Daar was 'n regter in 'n stad wat God nie gevrees en geen mens ontsien het nie.
3En daar was in daardie stad 'n weduwee, en sy het gedurig na hom gekom en gesê: Doen reg aan my teenoor my teëparty.
4En 'n tyd lank wou hy nie; maar daarna het hy by homself gesê: Al vrees ek God ook nie en al ontsien ek geen mens nie,
5 tog sal ek, omdat hierdie weduwee my moeite gee, aan haar reg doen, sodat sy nie eindelik kom en my in die gesig slaan nie.
6Toe sê die Here: Hoor wat die onregverdige regter sê.
7 Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval?
8Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen; maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?
Gelykenis van die Fariseër en die tollenaar.
9EN Hy het ook met die oog op sommige wat op hulleself vertrou dat hulle regverdig is en die ander verag, hierdie gelykenis vertel.
10Twee manne het na die tempel opgegaan om te bid, die een 'n Fariseër en die ander 'n tollenaar.
11En die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie — rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie.
12Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry.
13En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar, genadig!
14Ek sê vir julle, hierdie laaste een het geregverdig na sy huis gegaan eerder as die eerste een; want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word.
Jesus en die kindertjies.
(Mt. 19:13-15 en ooreenk. pl.)
15 EN hulle het ook die klein kindertjies na Hom gebring, sodat Hy hulle kon aanraak; en toe die dissipels dit sien, het hulle hul bestraf.
16Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God.
17Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.
Die ryk jongman.
(Mt. 19:16-30 en ooreenk. pl.)
18 EN 'n sekere owerste vra Hom en sê: Goeie Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?
19En Jesus antwoord hom: Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie behalwe een, naamlik God.
20Jy ken die gebooie: Jy mag nie egbreek nie; jy mag nie doodslaan nie; jy mag nie steel nie; jy mag geen valse getuienis gee nie; eer jou vader en jou moeder.
21En hy sê: Al hierdie dinge het ek onderhou van my jeug af.
22En toe Jesus dit hoor, antwoord Hy hom: Nog een ding ontbreek jou — verkoop alles wat jy het, en verdeel dit onder die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê; kom dan hier, volg My.
23Toe hy dit hoor, het hy diep bedroef geword, want hy was baie ryk.
24En toe Jesus sien dat hy diep bedroef geword het, sê Hy: Hoe beswaarlik sal hulle wat goed besit, in die koninkryk van God ingaan.
25Want dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan.
26Daarop sê die wat dit gehoor het: Wie kan dan gered word?
27Maar Hy antwoord: Die dinge wat by mense onmoontlik is, is by God moontlik.
28Toe sê Petrus: Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg.
29En Hy sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, daar is niemand wat huis of ouers of broers of vrou of kinders verlaat het ter wille van die koninkryk van God,
30wat nie baiemaal soveel in hierdie tyd sal ontvang nie en die ewige lewe in die eeu wat kom.
Jesus voorspel sy lyde.
(Mt. 20:17-19 en ooreenk. pl.)
31 EN Hy het die twaalf by Hom geneem en vir hulle gesê: Kyk, ons gaan op na Jerusalem, en alles wat deur die profete geskrywe is, sal aan die Seun van die mens vervul word.
32Want Hy sal oorgelewer word aan die heidene en bespot en mishandel word, en op Hom sal gespuug word;
33en nadat hulle Hom gegésel het, sal hulle Hom doodmaak; en op die derde dag sal Hy opstaan.
34Maar hulle het niks hiervan begryp nie, en hierdie woord was vir hulle bedek, en hulle het nie verstaan wat gesê is nie.
Die blinde man van Jérigo.
(Mt. 20:29-34 en ooreenk. pl.)
35 EN terwyl Hy naby Jérigo kom, sit daar 'n blinde man langs die pad en bedel;
36en toe hy 'n skare hoor verbygaan, vra hy wat dit is.
37En hulle vertel hom: Jesus die Nasaréner gaan verby.
38Toe roep hy uit en sê: Jesus, Seun van Dawid, wees my barmhartig!
39En die wat voor loop, bestraf hom dat hy moet stilbly. Maar hy het al harder uitgeroep: Seun van Dawid, wees my barmhartig!
40En Jesus het gaan staan en bevel gegee dat hy na Hom gebring moes word; en toe hy naby kom, vra Hy hom
41en sê: Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen? En hy antwoord: Here, dat ek kan sien.
42En Jesus sê vir hom: Sien! Jou geloof het jou gered.
43En onmiddellik het hy gesien en Hom gevolg, terwyl hy God verheerlik. En toe die hele volk dit sien, het hulle aan God die lof gegee.

Currently Selected:

LUKAS 18: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy