YouVersion Logo
Search Icon

JOB 28

28
Die mens kan verborge skatte aan die aarde ontworstel.
1WANT vir die silwer is daar 'n plek waar dit uitkom, en 'n plek vir die goud wat hulle uitwas.
2Yster word uit die grond gehaal, en koper word uit klip gegiet.
3'n Einde maak die mens aan die duisternis, en tot die uiterste grens deursoek hy die klip van donkerheid en doodskaduwee.
4Hy breek 'n mynskag, wég van hom wat bo woon; hulle wat vergeet is deur die voet daarbo, hulle hang ver van mense af, hulle swaai heen en weer.
5Die aarde — daar kom brood uit voort, maar daaronder word dit omgewoel soos deur vuur.
6Die klippe daarvan is die plek van saffiere, en dit bevat stoffies van goud.
7'n Pad wat die roofvoël nie ken nie, en die oog van die valk het dit nie gespeur nie;
8waar die trotse roofdiere nie op trap nie, waar die leeu nie oor stap nie.
9Hy slaan sy hand aan die klipharde rots, hy woel die berge van die wortel af om.
10In die rotse breek hy gange uit, en sy oog sien allerhande kosbare dinge.
11Hy stop waterare toe, dat hulle nie drup nie; en wat verborge was, bring hy aan die lig.
Maar wysheid kan nêrens gevind en met geen skatte gekoop word nie.
12 MAAR die wysheid — waar word dit gevind? En waar is die plek van verstand?
13Die mens ken nie die waarde daarvan nie, en dit word in die land van die lewende nie gevind nie.
14Die wêreldvloed sê: In my is dit nie; en die see sê: By my is dit nie.
15 Fyn goud kan daarvoor nie gegee word nie, en geen silwer as koopprys daarvan afgeweeg word nie.
16Die goud van Ofir weeg daar nie teen op nie, ook nie die kosbare onikssteen en saffier nie.
17Goud en glas kan daarmee nie vergelyk word nie, en vir goue voorwerpe ruil 'n mens dit nie.
18Korale en kristal kan nie genoem word nie, en die besit van wysheid is meer werd as korale.
19Die topaas van Kus kan daarmee nie vergelyk word nie, suiwer goud word daarteen nie opgeweeg nie.
Wysheid is by God alleen bekend, terwyl Hy vir die mens, as sy wysheid, beskik het die vrees van die Here en die vrees vir die kwaad.
20DIE wysheid dan — waar kom dit vandaan? En waar is die plek van die verstand?
21Ja, dit is verborge vir die oë van alles wat leef, en weggesteek vir die voëls van die hemel.
22 Die plek van vertering en die dood sê: Met ons ore het ons die gerug daarvan gehoor.
23 God weet die weg daarheen, en Hy ken die woonplek daarvan.
24Want Hý sien tot by die eindes van die aarde; alles wat onder die hemel is, aanskou Hy.
25Toe Hy vir die wind die gewig bepaal en die waters met die maat afgemeet het,
26toe Hy vir die reën 'n wet gestel het en 'n weg vir die onweerstraal,
27toe het Hy die wysheid gesien en dit verkondig; Hy het dit opgestel en dit ook deurvors.
28Maar aan die mens het Hy gesê: Kyk, die vrees van die Here is wysheid; en om van die kwaad af te wyk, is verstand.

Currently Selected:

JOB 28: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy