YouVersion Logo
Search Icon

JOHANNES 5

5
Genesing van die siek man in Betésda.
1HIERNA was daar 'n fees van die Jode, en Jesus het opgegaan na Jerusalem.
2En daar is in Jerusalem by die Skaapspoort 'n bad met vyf pilaargange wat in Hebreeus Betésda genoem word.
3Daarin het 'n groot menigte siekes gelê, blindes en kreupeles en lammes, wat op die roering van die water gewag het.
4Want 'n engel het op bepaalde tye in die bad neergedaal en die water geroer. Die een wat dan die eerste ingaan ná die roering van die water, het gesond geword, aan watter siekte hy ook al gely het.
5En 'n sekere man was daar, wat agt-en-dertig jaar aan sy siekte gely het.
6Toe Jesus hom sien lê, terwyl Hy geweet het dat hy al 'n lang tyd siek was, sê Hy vir hom: Wil jy gesond word?
7Die sieke antwoord Hom: Here, ek het niemand om my in die bad te sit as die water geroer word nie; en onderwyl ek kom, gaan 'n ander een voor my in.
8Jesus sê vir hom: Staan op, neem jou bed op en loop.
9En dadelik het die man gesond geword en sy bed opgeneem en geloop. En daardie dag was dit sabbat.
10Die Jode sê toe vir hom wat genees was: Dit is sabbat; dit is jou nie geoorloof om jou bed te dra nie.
11Hy antwoord hulle: Hy wat my gesond gemaak het, Hy het vir my gesê: Neem jou bed op en loop.
12Toe vra hulle hom: Wie is die man wat vir jou gesê het: Neem jou bed op en loop?
13Maar hy wat gesond geword het, het nie geweet wie dit was nie; want Jesus het Hom verwyder, omdat daar 'n skare op die plek was.
14Daarna het Jesus hom in die tempel gekry en vir hom gesê: Kyk, jy het gesond geword; moenie meer sondig nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.
15Die man het gegaan en aan die Jode vertel dat dit Jesus was wat hom gesond gemaak het.
Jesus verklaar dat Hy die Seun van God is, een met die Vader.
16EN hieroor het die Jode Jesus vervolg en probeer om Hom dood te maak, omdat Hy dit op die sabbat gedoen het.
17En Jesus het hulle geantwoord: My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.
18Hieroor het die Jode toe nog meer probeer om Hom dood te maak, omdat Hy nie alleen die sabbat gebreek het nie, maar ook God sy eie Vader genoem het en Hom met God gelykgestel het.
19Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hý doen, dit doen die Seun ook net so.
20Want die Vader het die Seun lief en toon Hom alles wat Hy self doen. En groter werke as hierdie sal Hy Hom toon, sodat julle verwonderd kan wees.
21Want soos die Vader die dode opwek en lewend maak, so maak ook die Seun lewend wie Hy wil.
22Want die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee,
23sodat almal die Seun kan eer net soos hulle die Vader eer. Wie die Seun nie eer nie, eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie.
24Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.
25Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, daar kom 'n uur, en dit is nou, wanneer die dode die stem van die Seun van God sal hoor; en die wat dit gehoor het, sal lewe.
26Want soos die Vader lewe het in Homself, so het Hy aan die Seun ook gegee om lewe in Homself te hê.
27En Hy het Hom mag gegee om ook te oordeel, omdat Hy die Seun van die mens is.
28Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom 'n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor
29 en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling.
30 Ek kan uit Myself niks doen nie. Soos Ek hoor, oordeel Ek; en my oordeel is regverdig, omdat Ek nie my wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het.
31 As Ek van Myself getuig, is my getuienis nie waar nie.
32Daar is 'n ander Een wat van My getuig, en Ek weet dat die getuienis wat Hy van My getuig, waar is.
33 Julle het na Johannes gestuur, en hy het vir die waarheid getuig.
34Maar Ek neem die getuienis van 'n mens nie aan nie; maar Ek sê dit, dat julle gered kan word.
35Hy was die lamp wat brand en skyn, en julle was gewillig om julle vir 'n tyd in sy lig te verbly.
36Maar Ek het 'n groter getuienis as dié van Johannes, want die werke wat die Vader My gegee het om te volbring, die werke self wat Ek doen, getuig van My dat die Vader My gestuur het.
37En die Vader wat My gestuur het, Hy het van My getuig. Julle het nog nooit sy stem gehoor of sy gedaante gesien nie.
38En julle het sy woord nie as iets blywends in julle nie, omdat julle Hom wat Hy gestuur het, nie glo nie.
39Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig.
40En julle wil nie na My kom om die lewe te hê nie.
41Eer neem Ek van die mense nie aan nie.
42Maar Ek ken julle, dat julle die liefde van God in julle nie het nie.
43Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As 'n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem.
44Hoe kan julle glo wat van mekaar eer aanneem, en die eer wat van die enige God kom, soek julle nie?
45Moenie dink dat Ek julle by die Vader sal beskuldig nie. Daar is een wat julle beskuldig — Moses op wie julle gehoop het.
46Maar as julle Moses geglo het, sou julle My glo, want hy het van My geskrywe.
47En as julle sy geskrifte nie glo nie, hoe sal julle my woorde glo?

Currently Selected:

JOHANNES 5: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy