YouVersion Logo
Search Icon

JOHANNES 3

3
Jesus onderrig Nikodémus aangaande die wedergeboorte.
1EN daar was 'n man uit die Fariseërs met die naam van Nikodémus, 'n owerste van die Jode.
2Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: Rabbi, ons weet dat U 'n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie.
3Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.
4Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan 'n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie 'n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie?
5Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.
6 Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.
7Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie.
8Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.
9Nikodémus antwoord en sê vir Hom: Hoe kan hierdie dinge gebeur?
10Jesus antwoord en sê vir hom: Jy is die leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie?
11Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, ons spreek wat ons weet en ons getuig van wat ons gesien het, en julle neem ons getuienis nie aan nie.
12As Ek julle van die aardse dinge vertel en julle nie glo nie, hoe sal julle glo as Ek julle van die hemelse vertel?
13En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is.
14En soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word,
15sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
16Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
17Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.
18 Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.
19En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos.
20Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie.
21Maar hy wat die waarheid doen, kom na die lig, sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is.
Nog 'n getuienis van Johannes die Doper.
22HIERNA het Jesus en sy dissipels na die land van Judéa gegaan, en Hy het daar met hulle vertoef en gedoop.
23En Johannes was ook besig om te doop in Enon naby Salim, omdat daar baie water was. En die mense het daar gekom en is gedoop.
24Want Johannes was nog nie in die gevangenis gewerp nie.
25Daar het toe van die kant van die dissipels van Johannes 'n redenasie met die Jode ontstaan oor die reiniging.
26En hulle het na Johannes gekom en vir hom gesê: Rabbi, Hy wat saam met u oorkant die Jordaan was, van wie u getuig het, kyk, Hy doop, en almal gaan na Hom toe.
27Johannes antwoord en sê: 'n Mens kan niks aanneem as dit hom nie uit die hemel gegee is nie.
28Julle is self my getuies dat ek gesê het: Ek is nie die Christus nie; maar dat ek voor Hom uitgestuur is.
29Hy wat die bruid het, is die bruidegom; maar die vriend van die bruidegom wat na hom staan en luister, verbly hom baie oor die stem van die bruidegom. So is dan hierdie blydskap van my volkome.
30 Hy moet meer word, maar ek minder.
31 Hy wat van bo kom, is bo almal; hy wat uit die aarde is, is uit die aarde en praat uit die aarde. Hy wat uit die hemel kom, is bo almal.
32En wat Hy gesien en gehoor het, dit getuig Hy; en niemand neem sy getuienis aan nie.
33Wie sy getuienis aangeneem het, het sy seël daarop gesit dat God waaragtig is.
34Want Hy wat God gestuur het, spreek die woorde van God; want God gee Hom die Gees nie met mate nie.
35 Die Vader het die Seun lief en het alles in sy hand gegee.
36 Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.

Currently Selected:

JOHANNES 3: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy