YouVersion Logo
Search Icon

JOHANNES 1

1
Die vleeswording van die Woord.
1 IN die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.
2Hy was in die begin by God.
3 Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.
4 In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense.
5En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.
6Daar was 'n man van God gestuur, wie se naam Johannes was.
7Hy het tot 'n getuienis gekom om van die lig te getuig, sodat almal deur hom sou glo.
8Hy was nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig.
9Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld.
10Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie.
11Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.
12Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;
13wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van 'n man nie, maar uit God gebore is.
14En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon — en ons het sy heerlikheid aanskou, 'n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom — vol van genade en waarheid.
Getuienis van Johannes die Doper.
(Mt. 3:1-12 en ooreenk. pl.)
15JOHANNES getuig van Hom en roep en sê: Dit was Hy van wie ek gesê het: Hy wat ná my kom, het voor my geword, want Hy was eerder as ek.
16En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade.
17Want die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.
18 Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar.
19En dit is die getuienis van Johannes, toe die Jode uit Jerusalem priesters en Leviete gestuur het om hom te vra: Wie is u?
20En hy het erken en nie ontken nie, maar het erken: Ek is nie die Christus nie.
21Toe vra hulle hom: Wat dan? Is u Elía? En hy sê: Ek is nie. Is u die profeet? En hy antwoord: Nee.
22Toe sê hulle vir hom: Wie is u? — dat ons antwoord kan gee aan die wat ons gestuur het. Wat sê u van uself?
23Hy antwoord: Ek is die stem van een wat roep in die woestyn: Maak die pad van die Here reguit! soos Jesaja, die profeet, gesê het.
24En die wat gestuur was, was uit die Fariseërs.
25En hulle vra hom en sê vir hom: Waarom doop u dan as u nie die Christus of Elía of die profeet is nie?
26Johannes antwoord hulle en sê: Ek doop met water, maar onder julle staan Hy vir wie julle nie ken nie —
27dit is Hy wat ná my kom, wat voor my geword het, wie se skoenriem ek nie waardig is om los te maak nie.
28Dit het gebeur in Betábara, oorkant die Jordaan, waar Johannes besig was om te doop.
29Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!
30 Dit is Hy van wie ek gesê het: Ná my kom 'n man wat voor my geword het, want Hy was eerder as ek.
31En ek het Hom nie geken nie; maar dat Hy aan Israel openbaar sou word, daarom het ek gekom en met water gedoop.
32En Johannes het getuig en gesê: Ek het die Gees soos 'n duif uit die hemel sien neerdaal, en Hy het op Hom gebly.
33En ek het Hom nie geken nie; maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het aan my gesê: Op wie jy die Gees sien neerdaal en op Hom bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.
34En ek het gesien en getuig dat Hy die Seun van God is.
Die eerste dissipels van Jesus.
35DIE volgende dag het Johannes weer daar gestaan en twee van sy dissipels;
36en toe hy Jesus sien wandel, sê hy: Dáár is die Lam van God!
37En die twee dissipels het hom dit hoor sê en Jesus gevolg.
38En toe Jesus Hom omdraai en hulle sien volg, sê Hy vir hulle:
39Wat soek julle? En hulle antwoord Hom: Rabbi — dit wil sê, as dit vertaal word, Meester — waar is U tuis?
40Hy sê vir hulle: Kom kyk. Hulle het gegaan en gesien waar Hy tuis was en dié dag by Hom gebly. En dit was omtrent die tiende uur.
41 Andréas, die broer van Simon Petrus, was een van die twee wat dit van Johannes gehoor en Hom gevolg het.
42Hy het eers sy eie broer Simon gekry en vir hom gesê: Ons het die Messías gevind — dit is, as dit vertaal word, die Christus.
43En hy het hom na Jesus gelei. Toe kyk Jesus hom aan en sê: Jy is Simon, die seun van Jona; jy sal genoem word Céfas, wat vertaal word Petrus.
44Die volgende dag wou Jesus na Galiléa vertrek; en Hy het Filippus gekry en vir hom gesê: Volg My.
45En Filippus was van Betsáida, uit die stad van Andréas en Petrus.
46Filippus het Natánael gekry en vir hom gesê: Ons het Hom gevind van wie Moses in die wet en ook die profete geskrywe het: Jesus, die seun van Josef van Násaret.
47En Natánael sê vir hom: Kan daar uit Násaret iets goeds wees? Filippus antwoord hom: Kom kyk.
48Daarop sien Jesus Natánael na Hom toe kom en sê van hom: Hier is waarlik 'n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie.
49Natánael sê vir Hom: Waarvandaan ken U my? Jesus antwoord en sê vir hom: Voordat Filippus jou geroep het toe jy onder die vyeboom was, het Ek jou gesien.
50Natánael antwoord en sê vir Hom: Rabbi, U is die Seun van God, U is die Koning van Israel!
51Jesus antwoord en sê vir hom: Glo jy omdat Ek vir jou gesê het: Ek het jou onder die vyeboom gesien? Jy sal groter dinge sien as dit.
52En Hy sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, van nou af sal julle die hemel geopend sien en die engele van God opklim en neerdaal op die Seun van die mens.

Currently Selected:

JOHANNES 1: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy