YouVersion Logo
Search Icon

GÉNESIS 9

9
Verbond van God met Noag.
1EN God het Noag en sy seuns geseën en aan hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde.
2Die vrees en die skrik vir julle sal wees oor al die diere van die aarde en al die voëls van die hemel: alles wat op die aarde beweeg, en al die visse van die see. Hulle is in julle hand oorgegee.
3 Alles wat beweeg en lewe, sal julle voedsel wees. Net soos die groen plante, gee Ek dit alles aan julle.
4Net die vleis met sy siel, met sy bloed, mag julle nie eet nie.
5Maar wat julle eie bloed betref, dit sal Ek eis: van al die diere sal Ek dit eis. Ook van die mens, van die een teenoor die ander, sal Ek die siel van die mens eis.
6 Hy wat die bloed van 'n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na sy beeld gemaak.
7Maar julle, wees vrugbaar en vermeerder; wemel op die aarde en vermeerder daarop.
8Verder het God met Noag en sy seuns by hom gespreek en gesê:
9Maar Ek, kyk, Ek rig my verbond met julle op en met julle nageslag ná julle,
10en met al die lewende wesens wat by julle is: die voëls, die vee en al die wilde diere van die aarde by julle — al wat uit die ark uitgegaan het, naamlik al die diere van die aarde.
11En Ek rig my verbond met julle op, dat alle vlees nie meer deur die waters van die vloed uitgeroei sal word nie, en dat daar geen vloed meer sal wees om die aarde te verwoes nie.
12En God het gesê: Dit is die teken van die verbond wat Ek sluit tussen My en julle en al die lewende wesens wat by julle is, vir ewige geslagte:
13 my boog gee Ek in die wolke; dit sal 'n teken wees van die verbond tussen My en die aarde.
14As Ek dan wolke oor die aarde bring en hierdie boog verskyn in die wolke,
15dan sal Ek dink aan my verbond wat daar bestaan tussen My en julle en al die lewende wesens, in alle vlees. En die waters sal nie meer 'n vloed word om alle vlees te verdelg nie.
16As die boog dan in die wolke staan, sal Ek dit aansien om gedagtig te wees aan die ewige verbond tussen God en al die lewende wesens in alle vlees wat op die aarde is.
17En God het vir Noag gesê: Dit is die teken van die verbond wat Ek opgerig het tussen My en alle vlees wat op die aarde is.
Die seuns van Noag.
18EN die seuns van Noag wat uit die ark uitgegaan het, was Sem en Gam en Jafet. En Gam was die vader van Kanaän.
19Hierdie drie was die seuns van Noag; en met hulle begin die uitbreiding van al die aardbewoners.
20En Noag het as landbouer 'n wingerd begin plant.
21Maar toe hy van die wyn gedrink het, het hy dronk geword en naak in sy tent gelê.
22En Gam, die vader van Kanaän, het sy vader se naaktheid gesien en dit aan sy twee broers daarbuite te kenne gegee.
23Toe neem Sem en Jafet die bo-kleed en hou dit op hulle skouers terwyl hulle agteruitloop, en hulle het die naaktheid van hulle vader bedek: hulle gesig was agtertoe gedraai, sodat hulle die naaktheid van hulle vader nie gesien het nie.
24Toe Noag van sy wyn wakker word en merk wat sy jonger seun hom aangedoen het,
25sê hy: Vervloek is Kanaän! 'n Kneg van die knegte moet hy wees vir sy broers.
26Verder het hy gesê: Geseënd is die Here, die God van Sem. Maar Kanaän moet sy dienskneg wees.
27Mag God aan Jafet ruimte verskaf, en mag hy woon in die tente van Sem! Maar Kanaän moet sy dienskneg wees.
28En Noag het ná die vloed driehonderd-en-vyftig jaar gelewe.
29So was dan al die dae van Noag negehonderd-en-vyftig jaar, en hy het gesterwe.

Currently Selected:

GÉNESIS 9: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy