YouVersion Logo
Search Icon

EFÉSIËRS 5

5
1 WEES dan navolgers van God soos geliefde kinders;
2en wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het as 'n gawe en offer aan God tot 'n lieflike geur.
3Maar hoerery en allerhande onreinheid of hebsug moet onder julle selfs nie genoem word nie, soos dit die heiliges betaam;
4ook nie gemeenheid en dwase of lawwe praatjies wat nie pas nie, maar liewer danksegging.
5Want dit moet julle weet dat geen hoereerder of onreine of gierigaard, wat 'n afgodedienaar is, 'n erfdeel het in die koninkryk van Christus en van God nie.
6Laat niemand julle met ydel woorde verlei nie, want daardeur kom die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid.
7Wees dan nie hulle deelgenote nie.
8Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here — wandel soos kinders van die lig.
9Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid.
10En beproef wat die Here welbehaaglik is;
11en hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer.
12Want wat in die geheim deur hulle gedoen word, is skandelik selfs om te noem.
13Maar al die dinge wat deur die lig bestraf word, word openbaar; want alles wat openbaar word, is lig.
14Daarom sê Hy: Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn.
15Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse;
16 en koop die tyd uit, omdat die dae boos is.
17Daarom moet julle nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is.
18 Moenie dronk word van wyn nie — daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.
19Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here,
20terwyl julle God die Vader altyd vir alles dank in die Naam van onse Here Jesus Christus,
21en aan mekaar onderdanig is in die vrees van God.
Huislike pligte.
22 VROUE, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here.
23Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam.
24Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees.
25 Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het
26om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord,
27 sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees.
28So behoort die mans hulle eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief;
29want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente.
30Want ons is lede van sy liggaam, van sy vlees en van sy bene.
31 Daarom moet die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees word.
32Hierdie verborgenheid is groot, maar ek sê dit met die oog op Christus en die gemeente.
33In alle geval moet elkeen van julle ook afsonderlik sy eie vrou liefhê net soos homself, en die vrou moet die man eerbiedig.

Currently Selected:

EFÉSIËRS 5: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy