YouVersion Logo
Search Icon

RUT 4

4
Boas trou met Rut. Die geboorte van Obed.
1EN Boas het opgegaan na die poort en daar gaan sit. En toe die losser juis daar verbygaan van wie Boas gespreek het, sê hy: Vriend, kom nader, en sit hier! En hy het nader gekom en gaan sit.
2Daarop neem hy tien man uit die oudstes van die stad en sê: Sit hier! En hulle het gaan sit.
3En hy sê vir die losser: Die stuk grond van ons broer Eliméleg wil Naómi, wat uit die veld van Moab teruggekom het, verkoop.
4Nou het ek gedink, ek sal jou dit meedeel en sê: Koop dit voor die wat hier sit, en voor die oudstes van my volk; as jy wil los, los dan; maar as jy nie wil los nie, gee my te kenne, dat ek dit kan weet, want daar is niemand om te los behalwe jy nie, en ek ná jou. En hy antwoord: Ek sal los.
5Daarop sê Boas: Die dag as jy die grond uit die hand van Naómi koop, dan verwerf jy tegelyk Rut, die Moabitiese, die vrou van die dode, om die naam van die dode in stand te hou oor sy erfdeel.
6 En die losser sê: Ek kan dit nie vir my los nie, anders bederf ek my erfdeel; neem jy my lossingsreg oor, want ek kan nie los nie.
7 En dít was vroeër in Israel die gebruik by lossing en by ruiling om enige saak van krag te maak: die een trek sy skoen uit en gee dit aan die ander; dit was dan die bekragtiging in Israel.
8Daarom het die losser vir Boas gesê: Koop dit vir jou; en hy het sy skoen uitgetrek.
9Toe sê Boas aan die oudstes en al die mense: Julle is vandag getuies dat ek alles wat aan Eliméleg en alles wat aan Giljon en Maglon behoort het, uit die hand van Naómi koop.
10En ook Rut, die Moabitiese, die vrou van Maglon, verwerf ek vir my as vrou om die naam van die dode oor sy erfdeel in stand te hou, sodat die naam van die dode onder sy broers en uit die poort van sy woonplek nie uitgeroei word nie. Julle is vandag getuies.
11Toe sê al die mense wat in die poort was, en die oudstes: Ons is getuies; mag die Here die vrou wat in jou huis inkom, maak soos Ragel en soos Lea wat saam die huis van Israel gebou het; en verwerf mag in Éfrata en maak 'n naam in Betlehem!
12En mag jou huis word soos die huis van Peres wat Tamar vir Juda gebaar het — uit die nageslag wat die Here jou uit hierdie jong vrou sal gee!
13So het Boas Rut dan geneem, en sy het sy vrou geword; en hy het by haar ingegaan, en die Here het vir haar swangerskap gegee, en sy het 'n seun gebaar.
14 Toe sê die vroue vir Naómi: Geloofd sy die Here wat aan jou vandag 'n losser nie laat ontbreek het nie! En mag sy naam in Israel geroem word!
15Hy sal vir jou een wees wat jou siel verkwik en jou grysheid versorg; want jou skoondogter wat jou liefhet, het hom gebaar, sy wat vir jou meer werd is as sewe seuns.
16En Naómi het die kind geneem en op haar skoot gesit, en sy het sy pleegmoeder geword.
17 En die buurvroue het hom 'n naam gegee en gesê: Vir Naómi is 'n seun gebore! En hulle het hom genoem Obed; hy was die vader van Ísai, die vader van Dawid.
18En dit is die stamboom van Peres: Peres was die vader van Hesron,
19en Hesron die vader van Ram, en Ram van Ammínadab,
20en Ammínadab van Nagson, en Nagson van Salma,
21en Salmon van Boas, en Boas van Obed,
22en Obed van Ísai, en Ísai van Dawid.

Currently Selected:

RUT 4: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy