YouVersion Logo
Search Icon

ROMEINE 14

14
Verdraagsaamheid teenoor die wat swak is in die geloof.
1EN neem hom aan wat swak is in die geloof, nie om oor sy gevoelens te oordeel nie.
2Die een glo dat 'n mens alles mag eet, maar hy wat swak is, eet groente.
3Hy wat eet, moet hom wat nie eet, nie verag nie; en hy wat nie eet, moet hom wat eet, nie oordeel nie, want God het hom aangeneem.
4Wie is jy wat die huiskneg van 'n ander oordeel? Hy staan of val met betrekking tot sy eie heer; maar hy sal staande bly, want God is magtig om hom staande te hou.
5 Die een ag die een dag bo die ander, die ander ag al die dae gelyk. Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle oortuig wees.
6Hy wat die dag waarneem, neem dit waar tot eer van die Here; en hy wat die dag nie waarneem nie, neem dit nie waar nie tot eer van die Here; en wie eet, eet tot eer van die Here, want hy dank God; en wie nie eet nie, eet nie tot eer van die Here, en hy dank God.
7Want niemand van ons leef vir homself nie en niemand sterf vir homself nie.
8Want as ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here; of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.
9Want hiervoor het Christus ook gesterwe en opgestaan en weer lewend geword, om oor dode sowel as lewende te heers.
10Maar jy, waarom oordeel jy jou broeder? Of jy ook, waarom verag jy jou broeder? Want ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word.
11Want daar is geskrywe: So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely.
12So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee.
Vryheid en liefde.
13LAAT ons dan mekaar nie meer oordeel nie, maar besluit dít liewer, om nie die broeder 'n hindernis of struikelblok in die weg te lê nie.
14Ek weet en is oortuig in die Here Jesus dat niks op sigself onrein is nie, maar hy wat reken dat iets onrein is, vir hom is dit onrein.
15Maar as jou broeder deur voedsel gegrief word, dan wandel jy nie meer volgens die liefde nie. Moenie deur jou voedsel hom te gronde rig vir wie Christus gesterf het nie.
16Laat dan van die goeie wat aan julle behoort, nie kwaad gespreek word nie.
17Want die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees.
18Want hy wat Christus hierin dien, is aan God welgevallig en by die mense geag.
19Laat ons dan najaag wat tot vrede en onderlinge stigting dien.
20Moenie ter wille van voedsel die werk van God afbreek nie. Alles is wel rein, maar dit is verkeerd vir 'n mens om te eet as dit tot aanstoot is.
21 Dit is goed om geen vleis te eet of wyn te drink of iets te doen waardeur jou broeder aanstoot neem of struikel, of waarin hy swak is nie.
22Het jy geloof? Behou dit vir jouself voor die aangesig van God. Gelukkig is hy wat homself nie oordeel in wat hy vir geoorloof ag nie.
23Maar hy wat twyfel as hy eet, is veroordeel, omdat dit nie uit die geloof is nie; en alles wat nie uit die geloof is nie, is sonde.

Currently Selected:

ROMEINE 14: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy