YouVersion Logo
Search Icon

PSALMS 68

68
Die oorwinning van die God van Israel.
1VIR die musiekleier. Van Dawid. 'n Psalm. 'n Lied.
2 God staan op, sy vyande raak verstrooid, en sy haters vlug voor sy aangesig weg!
3 Soos rook verdryf word, verdryf U hulle; soos was smelt voor die vuur, vergaan die goddelose voor die aangesig van God.
4Maar die regverdiges is bly, hulle juig voor die aangesig van God, en hulle is vrolik met blydskap.
5Sing tot eer van God, psalmsing tot eer van sy Naam, vul die pad op vir Hom wat deur die woestynvlaktes ry: Here is sy Naam; en jubel voor sy aangesig!
6'n Vader van die wese en 'n regter van die weduwees is God in sy heilige woning.
7God laat die eensames woon in 'n huisgesin, Hy lei die gevangenes uit in voorspoed; maar die wederstrewiges woon in 'n dor land.
8 o God, toe U uitgetrek het voor u volk, toe U voortgestap het in die wildernis, Sela,
9het die aarde gebewe! Ook het die hemele gedrup voor die aangesig van God; hierdie Sinai voor die aangesig van God, die God van Israel!
10Met 'n milde reën het U, o God, u erfdeel besproei; en toe dit moeg was, het Ú dit versterk.
11U skare het daarin gewoon; U het dit in u goedheid berei vir die ellendige, o God!
12Die Here het die woord laat hoor — die vroue wat die goeie tyding gebring het, was 'n groot skare:
13 Die konings van die leërskare vlug, hulle vlug; en sy wat tuis gebly het, verdeel die buit.
14As julle daar lê tussen die veekrale, is die vlerke van die duif oordek met silwer en sy vleuels met liggroen goud.
15Toe die Almagtige konings daarin verstrooi het, het dit gesneeu op Salmon.
16'n Berg van God is die berg Basan, 'n berg met toppe is die berg Basan.
17Waarom kyk julle afgunstig, o berge met toppe, na die berg wat God begeer het vir sy woning? Ja, die Here sal daar woon tot in ewigheid.
18 Die waens van God is tienduisende, duisend maal duisende; die Here is onder hulle; dit is Sinai in heiligheid.
19 U het opgeklim na die hoogte, U het gevangenes weggevoer, U het geskenke geneem onder die mense; ja, ook wederstrewiges om daar te woon, o Here God!
20Geloofd sy die Here! Dag ná dag dra Hy ons; God is ons heil! Sela.
21God is vir ons 'n God van verlossinge, en die Here Here het uitkomste teen die dood.
22Gewis, God sal die kop van sy vyande verbrysel, die harige skedel van hom wat in sy sondeskuld rondwandel.
23Die Here het gesê: Ek sal terugbring uit Basan, Ek sal terugbring uit die dieptes van die see;
24 sodat jy jou voet kan steek in bloed, die tong van jou honde van die vyande sy deel kan hê.
25 o God, hulle sien u optogte, die optogte van my God, my Koning in die heiligdom.
26 Vooraan gaan die sangers, daaragter die snaarspelers, tussen jongmeisies in wat die tamboeryn slaan.
27Loof God, die Here, in die vergaderinge, julle wat is uit die fontein van Israel!
28Daar is Benjamin, die kleinste, wat oor hulle geheers het; die vorste van Juda — hulle menigte; die vorste van Sébulon, die vorste van Náftali.
29Jou God het jou sterkte gebied: betoon U sterk, o God, wat vir ons gewerk het!
30Ter wille van u tempel in Jerusalem sal die konings aan U geskenke bring.
31Dreig die wilde gedierte van die riet — die trop stiere saam met die kalwers van die volke — die wat hulleself onderwerp met stukke silwer. Hy het die volke verstrooi wat lus het in oorloë.
32Edeles sal uit Egipte kom, Kus sal haastig sy hande uitsteek na God.
33 o Koninkryke van die aarde, sing tot eer van God; psalmsing tot eer van die Here! Sela.
34Van Hom wat ry in die hoogste hemele, wat uit die voortyd is; kyk, Hy verhef sy stem, 'n magtige stem.
35Gee sterkte aan God! Sy hoogheid is oor Israel en sy sterkte in die wolke.
36 Vreeslik is God uit jou heiligdomme, o Israel! Die God van Israel — Hy gee aan die volk sterkte en kragte. Geloofd sy God!

Currently Selected:

PSALMS 68: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy