YouVersion Logo
Search Icon

MARKUS 16

16
Die opstanding.
(Mt. 28:1-10 en ooreenk. pl.)
1EN toe die sabbat verby was, het Maria Magdaléna en Maria, die moeder van Jakobus, en Salóme speserye gekoop om Hom te gaan salf.
2En baie vroeg op die eerste dag van die week, net ná sonop, kom hulle by die graf.
3En hulle sê vir mekaar: Wie sal vir ons die steen voor die opening van die graf wegrol?
4En toe hulle opkyk, sien hulle dat die steen weggerol was, want dit was baie groot.
5En toe hulle in die graf ingegaan het, sien hulle 'n jongman, met 'n lang wit kleed om, aan die regterkant sit, en hulle het baie geskrik.
6En hy sê vir hulle: Moenie verskrik wees nie. Julle soek Jesus die Nasaréner wat gekruisig is. Hy het opgestaan. Hy is nie hier nie. Dáár is die plek waar hulle Hom neergelê het.
7Maar gaan sê vir sy dissipels en vir Petrus dat Hy voor julle uit gaan na Galiléa. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het.
8Toe gaan hulle haastig uit en vlug van die graf af weg. En bewing en ontsetting het hulle aangegryp. En hulle het vir niemand iets gesê nie, want hulle het gevrees.
Verskyning van Jesus ná sy opstanding.
9EN nadat Hy opgestaan het, vroeg op die eerste dag van die week, het Hy eers verskyn aan Maria Magdaléna, uit wie Hy sewe duiwels uitgedryf het.
10 Sy het gegaan en dit vertel aan die wat saam met Hom gewees het, terwyl hulle treur en ween.
11En toe hulle hoor dat Hy lewe en deur haar gesien is, het hulle dit nie geglo nie.
12En hierna het Hy in 'n ander gedaante verskyn aan twee van hulle terwyl hulle loop, op pad in die veld.
13Hulle het ook gegaan en dit aan die ander vertel, maar dié het hulle ook nie geglo nie.
14Later het Hy aan die elf self verskyn toe hulle aan tafel was, en Hy het hulle hul ongeloof en hardheid van hart verwyt, omdat hulle die wat Hom ná sy opstanding gesien het, nie geglo het nie.
15En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.
16 Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word.
17En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek,
18 slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word.
19Nadat die Here dan met hulle gespreek het, is Hy opgeneem in die hemel en het gaan sit aan die regterhand van God.
20Maar hulle het uitgegaan en oral gepreek, en die Here het saamgewerk en die woord bevestig deur die tekens wat daarop gevolg het. Amen.

Currently Selected:

MARKUS 16: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy