YouVersion Logo
Search Icon

MATTHÉÜS 20

20
Gelykenis van arbeiders op verskillende ure gehuur.
1 WANT die koninkryk van die hemele is soos 'n huisheer wat vroeg in die môre uitgegaan het om arbeiders vir sy wingerd te huur.
2En nadat hy met die arbeiders ooreengekom het vir 'n penning op 'n dag, stuur hy hulle in sy wingerd.
3En omtrent die derde uur gaan hy uit en sien ander ledig op die mark staan.
4En hy sê vir hulle: Gaan julle ook in die wingerd, en wat reg is, sal ek aan julle gee. En hulle het gegaan.
5Weer het hy omtrent die sesde en die negende uur uitgegaan en net dieselfde gedoen.
6En omtrent die elfde uur gaan hy uit en vind ander ledig staan en sê vir hulle: Wat staan julle hier die hele dag ledig?
7Hulle antwoord hom: Omdat niemand ons gehuur het nie. Hy sê vir hulle: Gaan julle ook in die wingerd, en wat reg is, sal julle ontvang.
8En toe dit aand geword het, sê die heer van die wingerd vir sy opsigter: Roep die arbeiders en betaal hulle hul loon; en begin van die laastes af tot by die eerstes.
9En die wat omtrent die elfde uur begin het, het gekom en elkeen 'n penning ontvang.
10Die eerstes kom toe en dink dat hulle meer sal ontvang, en hulle het ook elkeen 'n penning ontvang.
11En toe hulle dit ontvang, murmureer hulle by die huisheer
12en sê: Hierdie laastes het een uur gewerk, en u het hulle gelykop behandel met ons wat die las van die dag en die hitte gedra het.
13Maar hy antwoord en sê vir een van hulle: Vriend, ek doen jou geen onreg aan nie. Het jy nie met my ooreengekom vir 'n penning nie?
14Neem dan wat joue is, en gaan heen. Ek wil aan hierdie laaste een gee net soos aan jou.
15 Of staan dit my nie vry om met my eie goed te maak wat ek wil nie? Of is jou oog verkeerd, omdat ek goed is?
16So sal die wat laaste is, eerste wees, en die wat eerste is, laaste; want baie is geroep, maar min uitverkies.
Die vraag van die seuns van Sebedéüs.
(Mk. 10:32-45; Lk. 18:31-34.)
17 EN toe Jesus opgaan na Jerusalem, het Hy die twaalf dissipels op die pad alleen geneem en vir hulle gesê:
18Kyk, ons gaan op na Jerusalem, en die Seun van die mens sal oorgelewer word aan die owerpriesters en skrifgeleerdes; en hulle sal Hom tot die dood veroordeel
19en Hom oorlewer aan die heidene om Hom te bespot en te gésel en te kruisig; en op die derde dag sal Hy opstaan.
20 Toe kom die moeder van die seuns van Sebedéüs met haar seuns na Hom en buig voor Hom neer om iets van Hom te vra.
21En Hy sê vir haar: Wat wil jy hê? Sy antwoord Hom: Sê dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk mag sit, een aan u regter- en een aan u linkerhand.
22Maar Jesus antwoord en sê: Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek aanstons gaan drink, en gedoop word met die doop waarmee Ek gedoop word? Hulle sê vir Hom: Ons kan.
23En Hy sê vir hulle: Dis waar, my beker sal julle drink en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word; maar om te sit aan my regter- en aan my linkerhand berus nie by My om te gee nie, maar is vir hulle vir wie dit deur my Vader berei is.
24En toe die tien dit hoor, was hulle verontwaardig oor die twee broers.
25Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê: Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen;
26maar só moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees.
27En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees;
28net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as 'n losprys vir baie.
Die twee blindes van Jérigo.
(Mk. 10:46-52; Lk. 18:35-43.)
29 EN toe hulle uit Jérigo uitgaan, het 'n groot menigte Hom gevolg.
30En daar het twee blindes langs die pad gesit; en toe hulle hoor dat Jesus verbygaan, roep hulle uit en sê: Wees ons barmhartig, Here, Seun van Dawid!
31En die skare het hulle bestraf, dat hulle moes stilbly; maar hulle het al harder geroep en gesê: Wees ons barmhartig, Here, Seun van Dawid!
32Toe gaan Jesus staan en roep hulle en sê: Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?
33Hulle antwoord Hom: Here, dat ons oë geopen mag word.
34En Jesus het innig jammer vir hulle gevoel en hulle oë aangeraak, en dadelik het hulle oë gesien, en hulle het Hom gevolg.

Currently Selected:

MATTHÉÜS 20: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy