YouVersion Logo
Search Icon

MATTHÉÜS 15

15
Die oorlewering van die ou mense.
(Mk. 7:1-23.)
1TOE kom daar skrifgeleerdes en Fariseërs van Jerusalem na Jesus en sê:
2Waarom oortree u dissipels die oorlewering van die ou mense? Want hulle was nie hul hande as hulle brood eet nie.
3Maar Hy antwoord en sê vir hulle: Waarom oortree julle ook die gebod van God ter wille van julle oorlewering?
4Want God het bevel gegee en gesê: Eer jou vader en moeder; en: Hy wat vader of moeder vloek, moet sekerlik sterwe.
5Maar julle sê: Elkeen wat aan vader of moeder sê: enige voordeel wat u van my sou kan geniet, is 'n offergawe — dié hoef sy vader of sy moeder glad nie te eer nie.
6So het julle dan die gebod van God kragteloos gemaak ter wille van julle oorlewering.
7Geveinsdes, tereg het Jesaja oor julle geprofeteer toe hy gesê het:
8 Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af.
9Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.
10En Hy het die skare na Hom geroep en vir hulle gesê: Luister en verstaan!
11 Nie wat in die mond ingaan, maak die mens onrein nie; maar wat uit die mond uitgaan, dit maak die mens onrein.
12Daarop kom sy dissipels nader en sê vir Hom: Weet U dat die Fariseërs, toe hulle die woord hoor, aanstoot geneem het?
13Maar Hy antwoord en sê: Elke plant wat my hemelse Vader nie geplant het nie, sal ontwortel word.
14Laat hulle staan; hulle is blinde leiers van blindes. En as 'n blinde 'n ander blinde lei, sal altwee in die sloot val.
15En Petrus antwoord en sê vir Hom: Verklaar vir ons hierdie gelykenis.
16Maar Jesus sê: Is julle dan ook nog sonder verstand?
17Begryp julle nog nie dat alles wat in die mond ingaan, in die maag kom en in die heimlikheid uitgewerp word nie?
18Maar die dinge wat uit die mond uitgaan, kom uit die hart, en dit is dié wat die mens onrein maak.
19Want uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal.
20Dit is hierdie dinge wat die mens onrein maak; maar om met ongewaste hande te eet, maak die mens nie onrein nie.
Die Kananése vrou.
(Mk. 7:24-30.)
21EN Jesus het daarvandaan weggegaan en na die streke van Tirus en Sidon vertrek.
22En 'n Kananése vrou het van daardie gebied gekom en na Hom geroep en gesê: Wees my barmhartig, Here, Seun van Dawid! My dogter is erg van die duiwel besete.
23Maar Hy het haar nie 'n woord geantwoord nie. Toe kom sy dissipels nader en vra Hom en sê: Stuur haar weg, want sy roep agter ons aan.
24Maar Hy antwoord en sê: Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel.
25Daarop kom sy en val voor Hom neer en sê: Here, help my!
26Maar Hy antwoord en sê: Dit is nie mooi om die brood van die kinders te neem en dit vir die hondjies te gooi nie.
27En sy sê: Ja, Here, maar die hondjies eet darem van die krummels wat van die tafel van hulle base afval.
28Toe antwoord Jesus en sê vir haar: o Vrou, groot is jou geloof; laat dit vir jou wees soos jy wil hê. En haar dogter het gesond geword van daardie uur af.
Tweede vermeerdering van die brode.
(Mk. 8:1-10.)
29 TOE gaan Jesus daarvandaan weg en kom by die see van Galiléa; en Hy het op die berg geklim en daar gaan sit.
30En ondertussen kom daar groot menigtes na Hom met kreupeles, blindes, stommes, gebreklikes en baie ander by hulle, en hulle het dié by die voete van Jesus neergesit, en Hy het hulle gesond gemaak,
31sodat die skare verbaas was om te sien dat stommes praat, gebreklikes gesond word, kreupeles loop en blindes sien; en hulle het die God van Israel verheerlik.
32 Toe het Jesus sy dissipels na Hom geroep en gesê: Ek voel innig jammer vir die skare, omdat hulle al drie dae by My bly en niks het om te eet nie; en Ek wil hulle nie graag honger wegstuur nie, sodat hulle nie miskien op die pad beswyk nie.
33En sy dissipels sê vir Hom: Waar sal ons in die woestyn soveel brode vandaan kry om so 'n groot skare te versadig?
34Toe sê Jesus vir hulle: Hoeveel brode het julle? En hulle antwoord: Sewe, en 'n paar vissies.
35En Hy het bevel gegee aan die skare om op die grond te gaan sit.
36Toe neem Hy die sewe brode en die visse, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels, en die dissipels aan die skare.
37En hulle het almal geëet en versadig geword; en hulle het die oorskot van die brokstukke opgetel, sewe mandjies vol.
38En die wat geëet het, was vierduisend manne buiten die vroue en kinders.
39 En nadat Hy die skare weggestuur het, het Hy in die skuit gegaan en in die gebied van Mágdala gekom.

Currently Selected:

MATTHÉÜS 15: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy