YouVersion Logo
Search Icon

LUKAS 21

21
Die klein gawe van die arm weduwee.
(Mk. 12:41-44.)
1EN toe Hy opkyk, sien Hy die rykes wat hulle gawes in die skatkis gooi.
2En Hy het ook 'n arm weduwee daar twee geldstukkies sien ingooi.
3En Hy sê: Waarlik, Ek sê vir julle dat hierdie arm weduwee meer as almal ingegooi het.
4Want hulle almal het uit hul oorvloed by die gawes van God ingegooi, maar sy het uit haar gebrek ingegooi alles wat sy gehad het om van te lewe.
Die profetiese rede. Begin van die smarte.
(Mt. 24:1-14 en ooreenk. pl.)
5 EN toe sommige oor die tempel praat, dat dit met mooi klippe en gewyde geskenke versierd was, sê Hy:
6Hierdie dinge wat julle sien — daar sal dae kom wanneer daar nie een klip op die ander gelaat sal word wat nie afgebreek sal word nie.
7En hulle vra Hom en sê: Meester, wanneer sal dit dan wees, en wat is die teken wanneer dit gaan gebeur?
8En Hy antwoord: Pas op dat julle nie mislei word nie; want baie sal onder my Naam kom en sê: Dit is ek! en: Die tyd is naby! Gaan dan nie agter hulle aan nie.
9En wanneer julle hoor van oorloë en opstande, moenie skrik nie; want dié dinge moet eers plaasvind, maar dit is nie dadelik die einde nie.
10Toe sê Hy vir hulle: Die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander.
11En daar sal groot aardbewings op verskillende plekke wees en hongersnode en pessiektes; en daar sal verskriklike dinge en groot tekens van die hemel kom.
12Maar voor al hierdie dinge sal hulle die hande aan julle slaan en julle vervolg en oorlewer in sinagoges en gevangenisse en julle voor konings en goewerneurs bring ter wille van my Naam.
13En dit sal vir julle uitloop op 'n getuienis.
14Neem julle dan in jul harte voor om nie vooraf oor julle verdediging te dink nie.
15Want Ek sal aan julle woorde en wysheid gee wat al julle teëstanders nie sal kan teëspreek of weerstaan nie.
16Maar julle sal oorgelewer word ook deur ouers en broers en bloedverwante en vriende, en hulle sal van julle doodmaak.
17En julle sal gehaat wees deur almal ter wille van my Naam.
18En geen haar van julle hoof sal ooit verlore gaan nie.
19Deur julle volharding moet julle jul lewe in besit kry.
Die profetiese rede. Die groot verdrukking.
(Mt. 24:15-28 en ooreenk. pl.)
20EN wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is.
21Dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug; en die wat in die stad is, moet uitgaan; en die wat in die buitewyke is, moet nie daar inkom nie.
22Want dit sal dae van wraak wees, sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word.
23Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog in daardie dae; want daar sal 'n groot nood in die land wees en toorn oor hierdie volk.
24En hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is.
Die profetiese rede. Die koms van die Seun van die mens.
(Mt. 24:29-35 en ooreenk. pl.)
25EN daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun,
26en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word.
27En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in 'n wolk, met groot krag en heerlikheid.
28En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is.
29Toe vertel Hy hulle 'n gelykenis: Let op die vyeboom en al die bome.
30Net soos hulle bot, weet julle vanself, as julle dit sien, dat die somer al naby is.
31So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur.
32Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat alles gebeur het nie.
33Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.
Profetiese rede. Waaksaamheid.
(Mt. 24:36-44.)
34MAAR pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie.
35Want soos 'n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon.
36 Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.
Die loon van die verraad.
(Mt. 26:1-5,14-16 en ooreenk. pl.)
37EN Hy was oordag in die tempel besig om te leer, en snags het Hy uitgegaan en vernag op die berg wat die Olyfberg genoem word.
38En die hele volk het vroeg in die môre na Hom in die tempel gekom om na Hom te luister.

Currently Selected:

LUKAS 21: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy