YouVersion Logo
Search Icon

LUKAS 2

2
Geboorte van Jesus Christus.
1EN in daardie dae het daar 'n bevel uitgegaan van keiser Augustus dat die hele wêreld ingeskryf moes word.
2Hierdie eerste inskrywing het plaasgevind toe Cirénius goewerneur van Sírië was.
3En almal het gegaan om ingeskryf te word, elkeen na sy eie stad.
4En Josef het ook opgegaan van Galiléa, uit die stad Násaret, na Judéa, na die stad van Dawid, wat Betlehem genoem word, omdat hy uit die huis en geslag van Dawid was,
5om hom te laat inskrywe saam met Maria, die vrou aan wie hy hom verloof het, wat swanger was.
6En terwyl hulle daar was, is die dae vervul dat sy moes baar;
7en sy het haar eersgebore Seun gebaar en Hom toegedraai in doeke en Hom in die krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.
Die herders van Betlehem.
8EN daar was herders in dieselfde landstreek, wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het.
9En meteens staan daar 'n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn en groot vrees het hulle oorweldig.
10En die engel sê vir hulle: Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees,
11 dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is.
12En dit is vir julle die teken: julle sal 'n Kindjie vind wat in doeke toegedraai is en wat in die krip lê.
13En skielik was daar saam met die engel 'n menigte van die hemelse leërskare wat God prys en sê:
14 Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense 'n welbehae!
15En toe die engele van hulle weggegaan het na die hemel, sê die herders vir mekaar: Laat ons dan na Betlehem gaan en hierdie ding sien wat gebeur het, wat die Here aan ons bekend gemaak het.
16En hulle het met haas gegaan en Maria en Josef gevind en die kindjie wat in die krip lê.
17En toe hulle dit gesien het, het hulle oral die woord bekend gemaak wat aan hulle van dié Kindjie vertel is.
18En almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor wat deur die herders aan hulle vertel is;
19 maar Maria het al hierdie woorde bewaar en in haar hart oordink.
20En die herders het teruggegaan en God verheerlik en geprys oor alles wat hulle gehoor en gesien het, net soos aan hulle gesê is.
Besnydenis en voorstelling van Jesus.
21 EN toe agt dae vervul was, dat hulle die Kindjie sou besny, het hulle Hom Jesus genoem, die naam wat deur die engel gegee is voor sy ontvangenis in die moederskoot.
22En nadat die dae van haar reiniging volgens die wet van Moses vervul was, het hulle Hom na Jerusalem gebring om Hom aan die Here voor te stel,
23soos geskrywe is in die wet van die Here: Elke manlike kind wat die moederskoot open, sal heilig vir die Here genoem word;
24en om die offer te gee volgens wat gesê is in die wet van die Here: 'n paar tortelduiwe of twee jong duiwe.
Símeon en Anna.
25EN daar was 'n man in Jerusalem met die naam van Símeon; en hierdie man was regverdig en vroom en het die vertroosting van Israel verwag, en die Heilige Gees was op hom.
26En aan hom was dit deur die Heilige Gees geopenbaar dat hy die dood nie sou sien voordat hy die Christus van die Here gesien het nie.
27En hy het deur die Gees in die tempel gekom; en toe die ouers die Kindjie Jesus inbring om met Hom te handel volgens die gebruik van die wet,
28het hy Hom in sy arms geneem en God geloof en gesê:
29 Nou laat U, Here, u dienskneg gaan in vrede volgens u woord,
30omdat my oë u heil gesien het,
31 wat U berei het voor die oë van al die volke —
32 'n lig tot verligting van die nasies en tot heerlikheid van u volk Israel.
33En Josef en sy moeder het hulle verwonder oor die dinge wat van Hom gesê is.
34En Símeon het hulle geseën en aan Maria, sy moeder, gesê: Kyk, hierdie Kind is bestemd tot 'n val en 'n opstanding van baie in Israel en tot 'n teken wat weerspreek sal word —
35ja, 'n swaard sal deur jou eie siel gaan — sodat die gedagtes uit baie harte openbaar kan word.
36En daar was Anna, 'n profetes, die dogter van Fánuel, uit die stam van Aser. Sy was op baie ver gevorderde leeftyd en het van haar maagdom af sewe jaar lank met haar man saamgelewe;
37en sy was 'n weduwee van omtrent vier-en-tagtig jaar. Sy het nie weggebly van die tempel nie, en met vaste en gebede God gedien, nag en dag.
38En sy het in dieselfde uur daar gekom en die Here geprys en van Hom gespreek met almal in Jerusalem wat die verlossing verwag het.
39En toe hulle alles volbring het wat volgens die wet van die Here was, het hulle teruggegaan na Galiléa, na hulle stad Násaret.
40En die Kindjie het gegroei en sterk geword in die Gees en vol van wysheid. En die genade van God was op Hom.
Die Kind Jesus tussen die leraars.
41EN sy ouers was gewoond om elke jaar met die paasfees na Jerusalem te gaan.
42En toe Hy twaalf jaar oud was, het hulle, volgens die gebruik van die fees, na Jerusalem opgegaan.
43En nadat die feesdae vir hulle verby was, en terwyl hulle teruggaan, het die Kind Jesus in Jerusalem agtergebly; en Josef en sy moeder het dit nie geweet nie.
44Maar omdat hulle gedink het dat Hy by die reisgeselskap was, het hulle 'n dagreis ver gegaan en Hom onder die familie en onder die bekendes gesoek.
45En toe hulle Hom nie vind nie, het hulle teruggegaan na Jerusalem en Hom gesoek.
46En ná drie dae het hulle Hom in die tempel gevind, terwyl Hy in die midde van die leraars sit en na hulle luister en hulle uitvra.
47En almal wat Hom gehoor het, was verbaas oor sy verstand en sy antwoorde.
48En toe hulle Hom sien, was hulle verslae. En sy moeder sê vir Hom: Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek het jou met angs gesoek.
49En Hy sê vir hulle: Waarom het u My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die dinge van my Vader moet wees nie?
50En hulle het die woord wat Hy aan hulle gesê het, nie verstaan nie.
51En Hy het saam met hulle gegaan en in Násaret gekom, en Hy was hulle onderdanig. En sy moeder het al hierdie dinge in haar hart bewaar.
52En Jesus het toegeneem in wysheid en grootte en in genade by God en die mense.

Currently Selected:

LUKAS 2: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy