YouVersion Logo
Search Icon

GÉNESIS 40

40
Josef in die gevangenis.
1NÁ hierdie dinge het die skinker van die koning van Egipte en die bakker hulle misgaan jeens hulle heer, die koning van Egipte,
2sodat Farao baie kwaad geword het vir sy twee hofdienaars, die voorman van die skinkers en die voorman van die bakkers.
3 En hy het hulle in bewaring gegee in die huis van die owerste van die lyfwag, in die gevangenis, die plek waar Josef gevange was.
4En die owerste van die lyfwag het Josef by hulle aangestel om hulle te bedien. En hulle was 'n tyd lank in bewaring.
5En hulle het altwee 'n droom gehad, elkeen sy droom, in dieselfde nag, elkeen 'n droom met besondere betekenis, die skinker en die bakker van die koning van Egipte, wat in die gevangenis gevange gesit het.
6En Josef het die volgende môre by hulle gekom en gesien dat hulle ontstemd was.
7Toe vra hy die hofdienaars van Farao wat by hom in bewaring was in die huis van sy heer, en sê: Waarom lyk julle aangesig vandag so droewig?
8En hulle antwoord hom: Ons het 'n droom gehad, en daar is niemand wat dit kan uitlê nie. En Josef vra hulle: Is uitlegging nie 'n saak van God nie? Vertel my tog.
9Toe vertel die voorman van die skinkers aan Josef sy droom en sê vir hom: In my droom was daar 'n wingerdstok voor my,
10en aan die wingerdstok was drie ranke; en skaars het hy gebot of sy bloeisel was uit, sy trosse het ryp druiwe geword.
11En die beker van Farao was in my hand. En ek het die druiwe geneem en dit in die beker van Farao uitgedruk en die beker in die hand van Farao gegee.
12Toe sê Josef vir hom: Dit is die uitlegging daarvan: die drie ranke is drie dae.
13Binne drie dae sal Farao jou hoof verhef — jou in jou rang herstel; en jy sal die beker van Farao in sy hand gee net soos vroeër toe jy sy skinker was.
14Hou my tog net in gedagte as dit met jou goed gaan, en bewys my tog 'n guns en maak melding van my by Farao en bring my uit hierdie huis uit;
15want ek is gesteel, ja gesteel, uit die land van die Hebreërs, en ek het hier ook niks gedoen dat hulle my in die gevangenis gesit het nie.
16Toe die voorman van die bakkers sien dat hy 'n gunstige uitlegging gegee het, sê hy aan Josef: Ook in mý droom — toe was daar drie mandjies met witbrood op my hoof,
17en in die boonste mandjie was allerhande eetware vir Farao deur bakkers klaargemaak, en die voëls het dit uit die mandjie bo-op my hoof weggepik.
18Toe antwoord Josef en sê: Dit is die uitlegging daarvan — die drie mandjies is drie dae.
19Binne drie dae sal Farao jou hoof bo-oor jou verhef — hy sal jou aan 'n paal ophang, en die voëls sal jou vlees van jou af wegpik.
20En op die derde dag, die verjaarsdag van Farao, het hy 'n maaltyd vir al sy dienaars berei en die hoof van die voorman van die skinkers en die hoof van die voorman van die bakkers te midde van sy dienaars verhef —
21hy het die voorman van die skinkers herstel in sy skinkersamp, sodat hy die beker in die hand van Farao kon gee,
22maar die voorman van die bakkers het hy opgehang — soos Josef dit aan hulle uitgelê het.
23En die voorman van die skinkers het nie aan Josef gedink nie, maar hom vergeet.

Currently Selected:

GÉNESIS 40: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy