YouVersion Logo
Search Icon

GÉNESIS 39

39
Josef bied weerstand teen die vrou van Pótifar.
1EN Josef is afgebring na Egipte; en Pótifar, 'n hofdienaar van Farao, die owerste van die lyfwag, 'n Egiptiese man, het hom gekoop uit die hand van die Ismaeliete wat hom daarheen afgebring het.
2En die Here was met Josef, sodat hy 'n voorspoedige man was; en hy het in die huis van sy heer, die Egiptenaar, gebly.
3En toe sy heer sien dat die Here met hom was, en dat die Here alles wat hy doen, in sy hand voorspoedig maak,
4het Josef guns in sy oë gevind en hom gedien; en hy het hom aangestel oor sy huis, en alles wat in sy besit was, aan hom oorgegee.
5En vandat hy hom aangestel het oor sy huis en oor alles wat in sy besit was, het die Here die huis van die Egiptenaar geseën ter wille van Josef; ja, die seën van die Here was by alles wat syne was, in die huis en op die veld.
6En hy het alles wat syne was, aan Josef oorgelaat, sodat hy met sy hulp van niks kennis geneem het nie as net van die brood wat hy geëet het. En Josef was skoon van gestalte en mooi van aansien.
7Ná hierdie dinge het die vrou van sy heer haar oë na Josef opgeslaan en gesê: Kom hou gemeenskap met my.
8Maar hy het geweier en aan die vrou van sy heer gesê: Kyk, deur my is dit dat my heer geen kennis neem van wat in die huis is nie; en alles wat syne is, het hy aan my oorgegee.
9Hy is in hierdie huis nie groter as ek nie en het my niks onthou nie behalwe u, omdat u sy vrou is; hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God?
10En nadat sy met Josef dag ná dag gespreek het, en hy na haar nie wou luister om by haar te lê om met haar gemeenskap te hou nie,
11kom hy eendag in die huis om sy werk te doen terwyl niemand van die huisgenote binne was nie.
12Toe gryp sy hom aan sy kleed en sê: Kom hou gemeenskap met my. Maar hy het sy kleed in haar hand laat agterbly en gevlug en na buite geloop.
13Toe sy dan sien dat hy sy kleed in haar hand laat bly en buitentoe gevlug het,
14roep sy na haar huisgenote en sê aan hulle: Kyk, hy het vir ons 'n Hebreeuse man hier gebring om met ons gek te skeer; hy het na my gekom om met my gemeenskap te hê, en ek het hard geskreeu;
15en toe hy hoor dat ek my stem verhef en skreeu, het hy sy kleed by my laat agterbly en gevlug en na buite geloop.
16En sy het sy kleed by haar neergelê totdat sy heer tuisgekom het.
17En sy het hom met dieselfde woorde aangespreek en gesê: Die Hebreeuse kneg wat jy vir ons hier gebring het, het na my gekom om met my gek te skeer;
18en toe ek my stem verhef en skreeu, het hy sy kleed by my laat agterbly en na buite gevlug.
19Toe sy heer die woorde hoor waarmee sy vrou hom aanspreek: So en so het jou kneg aan my gedoen — het hy baie kwaad geword;
20en die heer van Josef het hom laat vang en hom in die gevangenis gesit op die plek waar die gevangenes van die koning opgesluit was; en hy was daar in die gevangenis.
21Maar die Here was met Josef, en Hy het goedertierenheid aan hom bewys en hom guns verleen in die oë van die owerste van die gevangenis.
22En die owerste van die gevangenis het almal wat in die gevangenis opgesluit was, aan Josef toevertrou; en alles wat daar te doen was, het hý gedoen.
23Die owerste van die gevangenis het glad nie na iets omgekyk wat aan hom toevertrou was nie, omdat die Here met hom was; en wat hy doen, het die Here voorspoedig laat wees.

Currently Selected:

GÉNESIS 39: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy