YouVersion Logo
Search Icon

EXODUS 25

25
Vrywillige offers om die heiligdom op te rig.
1TOE het die Here met Moses gespreek en gesê:
2 Sê aan die kinders van Israel dat hulle aan My 'n offergawe moet bring; van elkeen wie se hart hom aandrywe, moet julle my offergawe bring.
3En dit is die offergawe wat julle van hulle kant moet bring: goud en silwer en koper;
4en pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn linne en bokhaar;
5en rooigeverfde ramsvelle en robbevelle en akasiahout;
6 olie vir die kandelaar, speserye vir die salfolie en vir die reukwerk van speserye;
7oniksstene en stene om in te lê vir die skouerkleed en die borstas.
8Ook moet hulle vir My 'n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan woon.
9 Volgens alles wat Ek jou laat sien — die voorbeeld van die tabernakel en die voorbeeld van alles wat daarby behoort — so moet julle dit maak.
Die Ark. Die versoendeksel. Die gérubs.
10 HULLE moet dan 'n ark van akasiahout maak. Twee en 'n half el moet sy lengte, en anderhalf el sy breedte, en anderhalf el sy hoogte wees.
11En jy moet dit oortrek met suiwer goud, van binne en van buite moet jy dit oortrek. En jy moet daaraan 'n goue krans maak rondom.
12En giet daarvoor vier goue ringe, en sit dit aan sy vier voete vas, só dat twee ringe aan die een kant en twee ringe aan die ander kant is.
13En maak draaghoute van akasiahout, en trek dit oor met goud.
14En steek die draaghoute in die ringe aan weerskante van die ark om die ark daarmee te dra.
15 Die draaghoute moet in die ringe van die ark bly; hulle mag daar nie uit weggeneem word nie.
16Daarna moet jy in die ark die Getuienis sit wat Ek aan jou sal gee.
17Maak ook 'n versoendeksel van suiwer goud. Twee en 'n half el moet sy lengte, en anderhalf el sy breedte wees.
18Maak ook twee gérubs van goud. Van dryfwerk moet jy hulle maak, aan die twee ente van die versoendeksel.
19En maak een gérub aan die een ent en een gérub aan die ander ent. Uit een stuk, saam met die versoendeksel, moet julle die gérubs maak, aan die twee ente.
20En die gérubs moet die vlerke boontoe uitgesprei hou, terwyl hulle met hul vlerke die versoendeksel beskut; en hulle aangesigte moet na mekaar toe wees; die gesigte van die gérubs moet op die versoendeksel gerig wees.
21 En sit die versoendeksel bo-op die ark; maar in die ark moet jy die Getuienis neerlê wat Ek aan jou sal gee.
22En daar sal Ek met jou saamkom, en van die versoendeksel af, tussen die twee gérubs uit wat op die ark van die Getuienis is, sal Ek jou alles sê wat Ek jou vir die kinders van Israel sal beveel.
Die tafel van die toonbrode.
23 MAAK ook 'n tafel van akasiahout. Twee el moet sy lengte, en 'n el sy breedte, anderhalf el sy hoogte wees.
24En trek dit oor met suiwer goud, en maak daarvoor 'n goue krans rondom.
25Maak daarvoor ook 'n lys van 'n handbreed rondom; en maak 'n goue krans vir die lys rondom.
26En maak daar vier goue ringe voor, en sit die ringe vas aan die vier hoeke van die vier pote.
27Naby die lys moet die ringe wees as plekke vir die draaghoute om die tafel te dra.
28En maak die draaghoute van akasiahout, en trek dit oor met goud; daarmee moet dan die tafel gedra word.
29Maak ook sy skottels en sy rookpanne en sy kanne en sy bekers waarmee gegiet moet word; van suiwer goud moet jy dit maak.
30En op die tafel moet jy altyddeur toonbrood voor my aangesig neersit.
Die goue kandelaar.
31 MAAK ook 'n kandelaar van suiwer goud. Van dryfwerk moet die kandelaar, sy voetstuk en sy stam gemaak word; sy kelkies, sy knoppe en sy blomme moet, daarmee saam, uit een stuk wees.
32En ses arms moet uit die sykante daarvan uitgaan: drie arms van die kandelaar uit die een kant en drie arms van die kandelaar uit die ander kant.
33Drie kelkies soos amandelblomme aan die een arm, 'n knop en 'n blom, en drie kelkies soos amandelblomme aan die ander arm, 'n knop en 'n blom — so moet dit wees aan die ses arms wat uit die kandelaar uitgaan.
34Maar aan die kandelaar self moet vier kelkies soos amandelblomme wees, met knoppe en blomme:
35daar moet 'n knop wees onder die eerste paar arms wat daaruit uitgaan; en 'n knop onder die tweede paar arms wat daaruit uitgaan; en 'n knop onder die derde paar arms wat daaruit uitgaan — vir die ses arms wat uit die kandelaar uitgaan.
36Hulle knoppe en hulle arms moet, daarmee saam, uit een stuk wees — alles saam een stuk dryfwerk van suiwer goud.
37Jy moet ook sewe lampe daarvoor maak, en hulle moet sy lampe opsteek en die lig daarteenoor laat val aan die voorkant.
38Sy snuiters en sy bakkies moet van suiwer goud wees.
39Van 'n talent suiwer goud moet hulle dit maak — al hierdie voorwerpe.
40En kyk dat jy dit maak volgens die voorbeeld daarvan wat jou op die berg getoon is.

Currently Selected:

EXODUS 25: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy