YouVersion Logo
Search Icon

I KORINTHIËRS 15

15
Die opstanding.
1BROEDERS, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan,
2waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het.
3Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte;
4en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte;
5en dat Hy aan Céfas verskyn het; daarna aan die twaalf.
6Daarna het Hy verskyn aan oor die vyfhonderd broeders tegelyk, waarvan die meeste nou nog lewe, maar sommige al ontslaap het.
7Daarna het Hy verskyn aan Jakobus; daarna aan al die apostels;
8en laaste van almal het Hy verskyn ook aan my as die ontydig geborene.
9Want ek is die geringste van die apostels, wat nie werd is om 'n apostel genoem te word nie, omdat ek die gemeente van God vervolg het.
10Maar deur die genade van God is ek wat ek is, en sy genade aan my was nie tevergeefs nie; maar ek het oorvloediger gearbei as hulle almal; nogtans nie ek nie, maar die genade van God wat met my is.
11Of dit nou ek of hulle is, so preek ons en so het julle geglo.
12As dit dan gepreek word dat Christus uit die dode opgewek is, hoe sê sommige onder julle dat daar geen opstanding van die dode is nie?
13As daar geen opstanding van die dode is nie, dan is Christus ook nie opgewek nie.
14En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof;
15en dan word ons valse getuies van God bevind, omdat ons teen God getuig het dat Hy Christus opgewek het, wat Hy nie opgewek het nie, ten minste as die dode nie opgewek word nie.
16Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie;
17en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes;
18dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore.
19As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense.
20Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het.
21Want aangesien die dood deur 'n mens is, is die opstanding van die dode ook deur 'n mens.
22Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word;
23maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms.
24Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het.
25Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het.
26Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.
27Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het.
28En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.
29Anders, wat sal hulle doen wat hulle vir die dode laat doop, as die dode geheel en al nie opgewek word nie? Waarom laat hulle hul nog vir die dode doop?
30Waarom is ons ook elke uur in gevaar?
31 Ek sterf dag vir dag, broeders, so waar as ek op julle roem in Christus Jesus, onse Here.
32As ek in Éfese op menslike wyse met wilde diere geveg het, watter voordeel was dit vir my? As die dode nie opgewek word nie, laat ons dan eet en drink, want môre sterf ons!
33Moenie dwaal nie; slegte gesprekke bederf goeie sedes.
34 Wees nugter op die regte manier, en sondig nie; want sommige het geen kennis van God nie. Ek sê dit tot julle beskaming.
35Maar iemand sal sê: Hoe word die dode opgewek, en met hoedanige liggaam kom hulle?
36Dwase mens! Wat jy saai, word nie lewendig as dit nie gesterf het nie.
37En wat jy saai — jy saai nie die liggaam wat sal word nie, maar 'n blote korrel, byvoorbeeld van koring of van iets anders.
38Maar God gee dit 'n liggaam soos Hy gewil het, en aan elkeen van die saadkorrels sy eie liggaam.
39Alle vlees is nie dieselfde vlees nie, maar die vlees van mense is anders as die vlees van vee, en dié van visse anders as dié van voëls.
40En daar is hemelse liggame en aardse liggame; maar die heerlikheid van die hemelse is anders as dié van die aardse.
41Anders is die heerlikheid van die son en anders die heerlikheid van die maan en anders die heerlikheid van die sterre; want die een ster verskil in heerlikheid van die ander ster.
42So is ook die opstanding van die dode: daar word gesaai in verganklikheid, daar word opgewek in onverganklikheid;
43 daar word gesaai in oneer, daar word opgewek in heerlikheid; daar word gesaai in swakheid, daar word opgewek in krag.
44'n Natuurlike liggaam word gesaai, 'n geestelike liggaam word opgewek. Daar is 'n natuurlike liggaam, en daar is 'n geestelike liggaam.
45So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het 'n lewende siel geword; die laaste Adam 'n lewendmakende Gees.
46Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.
47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel.
48Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense.
49En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.
50Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.
51Kyk, ek deel julle 'n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word,
52in 'n oomblik, in 'n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word.
53Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word.
54En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning.
55 Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?
56Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde is die wet.
57Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus.
58Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.

Currently Selected:

I KORINTHIËRS 15: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy