YouVersion Logo
Search Icon

Matteus 4

4
Die Satan probeer om Jesus verkeerd te laat doen
(Ook Mark 1:12-13; Luk 4:1-13)
1Die Heilige Gees het daarna vir Jesus na die woestyn geneem sodat die duiwel kon probeer om Jesus verkeerd te laat doen. 2Jesus het 40 dae en 40 nagte lank niks geëet nie. Hy het toe honger geword. 3Die duiwel het na Jesus toe gekom en hy het probeer om Jesus verkeerd te laat doen. Die duiwel het vir Jesus gesê: “As Jy die Seun van God is, sê dan vir hierdie klippe hulle moet brode word.”
4Maar Jesus antwoord hom: “In die Ou Testament is geskryf:
“ 'n Mens lewe nie net
van brood nie.
As jy waarlik wil lewe,
dan moet jy luister
na elke woord wat God sê.”
5Daarna het die duiwel vir Jesus saamgeneem na die gewyde stad en hy het Jesus op die hoogste plek by die tempel laat staan. 6Die duiwel sê toe vir Jesus: “As Jy die Seun van God is, spring dan hier af, want in die Ou Testament is geskryf:
“ God sal vir sy engele sê
hulle moet jou beskerm,
en hulle sal jou op hulle hande dra
sodat jy nie jou voet sal stamp
teen 'n klip nie.”
7Jesus sê toe vir die duiwel: “Daar is ook in die Ou Testament geskryf: ‘ Jy moenie vir jou God die Here iets vra wat jy nie mag vra nie.’ ”
8Die duiwel het daarna vir Jesus na 'n baie hoë berg geneem. Hy het vir Hom al die lande van die wêreld gewys en al die mooi dinge in die lande. 9Die duiwel sê toe vir Jesus: “Ek sal dit alles vir Jou gee as Jy voor my kniel en my aanbid.”
10Jesus het vir die duiwel gesê: “Gaan weg, Satan, want in die Ou Testament is geskryf:
“ Jy moet jou God die Here aanbid
en net vir Hom dien.”
11Die duiwel het toe weggegaan van Jesus. Daar het engele gekom en hulle het vir Jesus gesorg.
Jesus begin sy werk in die provinsie Galilea
(Ook Mark 1:14-15; Luk 4:14-15; Joh 4:1-3,43-45)
12Koning Herodes het vir Johannes die Doper laat vang en hy het Johannes in die tronk toegesluit. Toe Jesus dit hoor, het Hy na die provinsie Galilea gegaan. 13Jesus het weggegaan van die stad Nasaret waar Hy eers gewoon het. Hy het gaan woon in die stad Kapernaum, by die See van Galilea. Kapernaum was in die deel van die land waar die stamme Sebulon en Naftali voorheen gewoon het. 14Dit het gebeur sodat dit waar kan word wat die profeet Jesaja gesê het:
15“ Land van Sebulon en Naftali,
langs die pad na die See
van Galilea,
naby die Jordaan-rivier,
Galilea, land van mense
wat nie Jode is nie.
16Julle is die volk wat in
die donker lewe,
maar julle het 'n groot lig gesien.
Julle wat woon in die skaduwee
van die dood,
julle het gesien dit word lig.”
17Van toe af het Jesus begin preek en gesê: “Julle moet nou begin lewe soos God wil hê, want God wat in die hemel is, is Koning oor almal, en van nou af sal almal dit weet.”
Jesus kies vier dissipels
(Ook Mark 1:16-20; Luk 5:1-11; Joh 1:40-42)
18Jesus het langs die See van Galilea geloop. Hy sien toe twee broers, Simon en Andreas. Simon se ander naam was Petrus. Hulle was vissermanne en hulle het hulle visnet in die see gegooi. 19Jesus sê toe vir hulle: “Kom hier, kom saam met My, Ek sal julle lewens verander: Julle sal nog vissermanne wees, maar julle sal nie meer visse vang nie, julle sal mense bymekaarmaak vir God.”
20Simon en Andreas het dadelik hulle visnette gelos en hulle het saam met Jesus gegaan. 21Jesus het verder gegaan en toe sien Hy twee ander broers, Jakobus en Johannes. Hulle was die seuns van Sebedeus. Hulle was in die boot saam met hulle pa en hulle was besig om hulle visnette reg te maak. Jesus het hulle geroep om saam met Hom te kom. 22Hulle het dadelik die boot en hulle pa daar gelos en hulle het saam met Jesus gegaan.
Jesus leer vir die mense, Hy preek vir hulle en maak hulle gesond
(Ook Mark 1:39; 3:7-8; Luk 4:44; 6:17-18)
23Jesus het deur die hele provinsie Galilea gegaan. Hy het vir die mense geleer in die sinagoges en vir hulle vertel van die goeie boodskap dat God Koning is oor almal. Hy het ook al die mense gesond gemaak wat siek was. 24Al die mense in die provinsie Sirië het gehoor wat Jesus gedoen het. Toe het hulle al die siek mense, mense met verskillende soorte pyne, na Hom toe gebring. Daar was ook duiwels in party van die mense, party mense het epileptiese aanvalle gekry, en party mense was verlam. Jesus het hulle gesond gemaak. 25Baie mense het saam met Jesus gegaan. Hulle het gekom van die provinsie Galilea, van Dekapolis, van Jerusalem, en van die provinsie Judea en van die ander kant van die Jordaan-rivier.

Currently Selected:

Matteus 4: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy