YouVersion Logo
Search Icon

Matteus 1

1
Jesus se voorouers
(Ook Luk 3:23-38)
1Hier is 'n lys van die name van Jesus Christus se voorouers. Jesus was die Seun van Dawid, en die Seun van Abraham.
2Abraham was die pa van Isak, Isak die pa van Jakob, en Jakob die pa van Juda en sy broers. 3Juda was die pa van Peres en Serag, en hulle ma was Tamar. Peres was die pa van Gesron, en Gesron die pa van Ram. 4Ram was die pa van Amminadab, en Amminadab die pa van Nagson, en Nagson die pa van Salmon. 5Salmon was die pa van Boas, en Boas se ma was Ragab. Boas was die pa van Obed, en Obed se ma was Rut. Obed was die pa van Isai 6en Isai die pa van koning Dawid.
Dawid was die pa van Salomo, en Salomo se ma was die vrou van Uria. 7Salomo was die pa van Rehabeam, en Rehabeam die pa van Abia, en Abia die pa van Asa. 8Asa was die pa van Josafat, Josafat die pa van Joram, en Joram die pa van Ussia. 9Ussia was die pa van Jotam, Jotam die pa van Agas, en Agas die pa van Hiskia. 10Hiskia was die pa van Manasse, Manasse die pa van Amon, en Amon die pa van Josia. 11Josia was die pa van Jojagin en sy broers. Dit was in die tyd toe die mense van Juda slawe was in Babilonië.
12Ná die tyd toe die mense van Juda slawe was in Babilonië, het Jojagin die pa van Sealtiël geword. Sealtiël was die pa van Serubbabel, 13Serubbabel die pa van Abihud, Abihud die pa van Eljakim, en Eljakim die pa van Asor. 14Asor was die pa van Sadok, Sadok die pa van Agim, en Agim die pa van Elihud. 15Elihud was die pa van Eleasar, Eleasar die pa van Mattan, en Mattan die pa van Jakob. 16Jakob was die pa van Josef, en Josef was Maria se man. Maria was die ma van Jesus. Die mense het Hom ook die Christus genoem.
17Van Abraham tot by Dawid was daar 14 geslagte. Van Dawid tot by die tyd toe die mense van Juda slawe was in Babilonië, was daar ook 14 geslagte. Van die tyd toe hulle slawe was in Babilonië tot by die Christus was daar ook 14 geslagte.
Die geboorte van Jesus Christus
(Ook Luk 2:1-7)
18Dit is wat gebeur het voordat Jesus Christus gebore is: Sy ma, Maria, was verloof aan Josef. Hulle was nog nie getroud nie en hulle het nog nie saam geslaap nie, maar Maria het swanger geword. Dit is die Heilige Gees wat dit laat gebeur het. 19Josef, Maria se verloofde, was 'n goeie man. Hy was gehoorsaam aan die Wette van Moses en hy wou nie haar naam sleg maak by die mense nie. Daarom het hy besluit om sy verlowing met Maria te breek, maar hy wou dit vir niemand sê nie. 20Terwyl Josef hieroor gedink het, het daar 'n engel van die Here aan hom verskyn en vir hom gesê: “Josef, jy wat van die nageslag van Dawid is, jy moenie bang wees om met Maria te trou nie. Sy verwag 'n baba, maar dit is die Heilige Gees wat dit laat gebeur het. 21Sy sal 'n seun kry, en jy moet Hom Jesus noem, want Hy sal sy volk van hulle sondes verlos.”
22Al hierdie dinge het gebeur sodat dit waar kan word wat die Here gesê het. Die profeet het gesê:
23“ Die maagd sal swanger word
en sy sal 'n seun kry.
Hulle sal Hom Immanuel noem.”
Immanuel beteken “ God is by ons.”
24Nadat Josef wakker geword het, het hy gedoen wat die engel van die Here vir hom gesê het. Hy het met Maria getrou. 25Hy het nie by haar geslaap nie, hy het gewag tot nadat die seun gebore is. Josef het die seun Jesus genoem.

Currently Selected:

Matteus 1: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy