YouVersion Logo
Search Icon

Jesaja 43

43
Julle is baie belangrik vir My
1Maar, Israeliete, nageslag van Jakob,
nou sê die Here,
Hy wat julle gemaak het:
“Julle moenie bang wees nie,
want Ek maak julle vry.
Ek het julle geroep,
Ek het julle name genoem,
julle is Myne.
2Wanneer julle deur water moet gaan,
dan is Ek by julle,
riviere sal nie oor julle vloei nie.
Wanneer julle deur vuur moet gaan,
dan sal die vlamme julle nie brand nie.
3Ja, Ek is julle God die Here,
Ek is die Heilige God van Israel
wat julle red.
Ek gee die mense van die lande Egipte,
Kus en Seba in julle plek
sodat julle vry kan word.
4Ek gee ander volke in julle plek,
want julle is baie belangrik vir My,
en Ek is lief vir julle.
5Julle moenie bang wees nie,
want Ek is by julle,
Ek sal julle en julle kinders
bymekaarmaak
en Ek sal julle bring
uit die ooste en uit die weste.
6Ek sal vir die mense in die noorde sê:
Julle moet my volk teruggee!
En Ek sal vir die mense in die suide sê:
Julle moenie my volk vashou nie!
Bring my seuns en my dogters van ver,
van oral op die aarde.
7Bring elkeen wat Ek geroep het
sodat hy aan My sal behoort,
bring elkeen wat Ek gemaak het
sodat hy My sal eer.”
Niemand kan julle wegvat van My nie
8Die Here sê:
“Julle moet my volk hiernatoe laat kom,
die volk wat oë en ore het,
maar wat nie wil sien nie en nie wil hoor nie.
9Al die volke moet hier bymekaarkom.
Is daar een god by hulle wat kon sê
wat sal gebeur
of wat lank gelede gebeur het?
As daar so 'n god is, dan moet hy praat
en hy moet bewys dat hy 'n god is.
Almal moet dit hoor en sê:
‘Hy praat die waarheid.’
10My volk, julle is die mense
wat weet wie Ek is,
julle is my dienaars,
Ek het julle gekies.
Ek het dit gedoen
sodat julle sal weet wie Ek is en My sal glo
en sal verstaan.
Daar was nie 'n ander god
vóór My nie,
en daar sal nie 'n ander god
ná My wees nie.
11Ek, Ék is die Here.
Daar is nie 'n ander god
wat julle kan red nie.
12Dit is Ek wat met julle gepraat het
en wat julle gered het.
Daar was nie 'n ander god by julle nie.
Julle weet Ek is God.
Dit sê die Here.
13Ook hierna sal Ek nog altyd God wees.
Niemand kan julle wegvat van My nie.
Niemand kan My keer
wanneer Ek iets wil doen nie.”
Die mense van Babel sal moet vlug
14Die Here praat,
die Here wat julle vrygemaak het,
die Heilige God van Israel,
Hy sê:
“Ek het 'n man gestuur
om die stad Babel aan te val.
Ek het dit gedoen om júlle te help.
Die mense van Babel sal huil,
hulle sal op hulle skepe klim en vlug.
15Ek is die Here, julle heilige God.
Israeliete, Ek het julle gemaak,
Ek is julle Koning.”
16Die Here praat.
Dit is Hy wat 'n pad gemaak het
deur die wilde see,
17en wat oorlogkarre en perde gestuur het,
en ook baie en sterk soldate.
Maar hulle is dood, hulle lê daar.
Hulle sal nie weer opstaan nie,
hulle is weg, soos die vlam van 'n lamp
wat dood is.
Ek laat 'n nuwe ding gebeur
18Die Here sê: “Julle moenie net dink
aan wat voorheen gebeur het nie.
19Ek laat 'n nuwe ding gebeur,
dit sal nou gebeur, en julle weet dit:
Ja, Ek maak 'n pad deur die woestyn,
en Ek laat riviere daar vloei.
20Die wilde diere sal My eer,
ook die jakkalse en volstruise,
want Ek gee water in die woestyn,
sodat die volk wat Ek gekies het,
water sal hê om te drink.
21Die volk wat Ek vir Myself gemaak het,
sal vir almal vertel dat Ek God is.”
Julle het nie hard probeer om My te dien nie
22“ Nageslag van Jakob, Israeliete,
julle het gebid, maar julle het nie tot My gebid nie,
julle het julleself moeg gemaak,
maar julle het dit nie vir Mý gedoen nie.
23Julle het nie brand-offers
van skape of bokke gebring
om Mý te eer nie.
Ek het julle nie hard laat werk
om ete-offers vir My te bring nie,
Ek het julle nie moeg gemaak
om vir My wierook-offers te bring nie.
24Julle het nie kalmoes gekoop
en vir My die vetste stukke
van julle offer-vleis gegee nie,
nee, julle het My moeg laat word
oor al julle sondes.
25Maar Ek is die God wat julle vergewe
dat julle opstandig is teen My
en Ek dink nie aan julle sondes nie.
26Kom ons kyk wie is reg,
bewys vir My dat julle reg is.
27Julle eerste voorvader het al klaar sonde gedoen,
die mense wat met My moes praat
en wat moes sê wat julle sê,
was opstandig teen My.
28Daarom het Ek gesê
die priesters sal My nie meer kan dien nie,
en het Ek vyande gestuur
om die nageslag van Jakob dood te maak,
en om die Israeliete te spot.”

Currently Selected:

Jesaja 43: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy