YouVersion Logo
Search Icon

Jesaja 30

30
Egipte kan julle nie help nie
1Die Here sê:
“Dit sal sleg gaan met julle.
Julle is soos ongehoorsame kinders.
Julle maak planne en ooreenkomste
maar Ek het nie gesê
julle moet dit doen nie.
Julle doen meer en meer sonde.
2Julle vra nie vir My
wat julle moet doen nie,
maar julle gaan na Egipte en julle vra
vir die farao dat hy julle moet beskerm.
Julle dink julle sal veilig wees
wanneer Egipte julle beskerm.
3Maar julle sal teleurgesteld wees
wanneer die farao julle beskerm.
Dit sal vir julle niks help nie,
Egipte kan julle nie beskerm nie.
4Julle amptenare is al klaar in die stad Soan,
julle boodskappers het al klaar aangekom
in die stad Ganes,
5maar daardie volk beteken niks,
hulle sal julle nie kan help nie.
Julle sal teleurgesteld wees,
en die ander volke sal julle spot.”
6Die Here het kwaai gepraat
teen die diere in die suide.
Hy het gesê:
“Die boodskappers van Juda
bring presente vir 'n volk
wat nie vir hulle kan help nie.
Hulle sit die presente op hulle donkies
en hulle kamele
en hulle ry deur die woestyn
waar dit baie gevaarlik is.
Daar is leeus en slange en drake wat vlieg.
7Maar Egipte beteken niks,
Egipte kan hulle nie help nie.
Hy is 'n monster,
maar hy kan niks doen nie.”
Die muur sal skielik omval
8Jy moet dit nou in 'n boek
gaan skryf
en die mense van Juda moet dit sien.
Jy moet dit alles skryf,
sodat mense dit later kan lees
en almal kan weet
wat die mense van Juda gedoen het.
9Hulle is 'n ongehoorsame volk,
hulle is soos kinders wat lieg,
hulle wil nie luister
wat die Here vir hulle leer nie.
10Hulle sê vir die profete:
“Julle moenie kyk
wanneer die Here vir julle wys
wat sal gebeur nie.
Julle moenie luister
wanneer Hy sê wat reg is nie.
Julle moet vir ons dinge sê
wat ons graag wil hoor,
dit maak nie saak
of dit nie waar is nie.”
11Hulle sê: “Gaan weg,
moenie met ons praat
oor die Heilige God van Israel nie.”
12Daarom sê die Heilige God van Israel nou:
“Julle het nie geluister
na wat Ek vir julle gesê het nie,
julle het gedink dit is reg
om mense te verdruk en te bedrieg.
13Daarom sal hierdie sonde word
soos 'n stukkende plek in 'n hoë muur
wat nie regop is nie.
Die muur sal skielik omval
14en stukkend breek soos 'n kleipot
wanneer iemand die pot stukkend slaan.
Daar sal nie een stuk van die pot oorbly
om kole uit 'n vuur te krap,
of om water uit 'n dam te skep nie.”
Die Here wag om julle te help
15Die Here, die Heilige God van Israel, het gesê:
“As julle terugkom na My toe
en veilig voel by My,
dan sal Ek julle red.
As julle stilbly
en My glo en vertrou,
dan sal Ek julle help.
Maar julle wou dit nie doen nie.
16Julle het gesê:
‘Nee, ons vlug op perde,
ons sal op vinnige perde ry.’
Daarom sál julle vlug,
maar die mense
wat vir julle wil vang,
sal vinniger as julle ry.
17Duisend van julle sal vlug
vir een van die vyand se manne,
en as daar vyf van die vyand
se manne kom,
dan sal julle aanhou vlug
totdat net 'n paar van julle oorbly.
Julle sal wees soos 'n paal of soos 'n vlag
wat alleen bo-op 'n berg staan.”
18Daarom is die Here gereed
om julle te help,
Hy wil julle graag help
en Hy wil weer goed wees vir julle.
Daarom maak Hy alles gereed
om weer goed te wees vir julle.
Die Here wil dit doen,
want Hy is die God wat reg doen.
Dit gaan goed met almal
wat glo dat Hy sal doen wat Hy belowe het.
19Ja, volk wat in Sion woon,
in Jerusalem,
julle sal nooit weer huil nie.
Wanneer julle die Here roep
en vra Hy moet julle help,
dan sal Hy weer goed wees vir julle.
Dit is seker.
Wanneer Hy hoor julle bid,
dan sal Hy dadelik antwoord.
20Die Here het julle laat swaarkry,
maar Hy sal nou by julle wees.
Hy sal vir julle leer wat om te doen,
en julle sal Hom sien.
21Wanneer julle
op die verkeerde pad loop,
dan sal julle hoor dat Hy agter julle praat.
Hy sal sê:
“Nee, hier is die regte pad,
julle moet hier loop.”
22Dan sal julle weet
dat die beelde onrein is,
die beelde van afgode
wat julle oorgetrek het met silwer en goud.
Julle sal hulle weggooi soos vuil lappe
en julle sal sê:
“Ons wil hulle nie weer sien nie!”
23Die Here sal reën gee
wanneer julle saad in die grond saai,
en die koring sal goed groei
in die grond,
die koringkorrels sal gesond
en vet wees.
Julle skape en bokke
sal baie plek hê om te wei.
24Julle beeste en donkies
wat op die koringland werk,
sal kos vreet
wat julle in water sag gemaak het,
kos wat julle met 'n graaf en 'n vurk
gemeng het.
25Op elke hoë berg,
elke hoë heuwel,
sal daar waterstrome wees.
Die Here sal al sy vyande doodmaak.
Daardie dag wanneer die torings
in die mure van hulle stede omval,
26dan sal die lig van die maan helder skyn
soos die lig van die son,
en die lig van die son
sal sewe maal sterker skyn.
Die lig sal so sterk wees
soos die lig van sewe dae saam.
Dan sal die Here
die seerplekke van sy volk toedraai
en Hy sal die kneusplekke gesond maak,
die plekke waar Hy
hulle geslaan het.
Die Here sal die ander volke straf
27Kyk, die Here kom van ver.
Hy is baie kwaad.
Wanneer Hy praat,
dan is dit soos 'n vuur wat brand.
28Sy asem is soos 'n sterk
stroom water, dit is so diep
dat dit tot by 'n mens se nek kom.
Hy sal die ander volke straf,
Hy sal hulle sif met 'n fyn sif,
Hy sal vir hulle 'n toom aansit
en Hy sal hulle laat verdwaal.
29Mense van Jerusalem,
dan sal julle sing,
julle sal sing soos wanneer
julle feesvier in die nag.
Julle sal sing soos wanneer julle
die fluit speel
en na die berg
van die Here gaan,
na die Rots van Israel.
30Die Here is kwaad,
Hy sal hard praat.
Hy maak gereed
om die Assiriërs te straf.
Daar sal vuur wees
en baie harde reën,
donderweer en hael.
31Ja, die Assiriërs sal bewe
wanneer die Here praat,
wanneer Hy begin
om hulle te straf.
32En elke maal
wanneer die Here hulle straf,
sal julle op die tamboeryne
en die liere speel.
Die Here sal oorlog maak
teen Assirië.
33Die Here het lank gelede
die hout reggepak
om 'n vuur te maak.
Dit is 'n groot vuur
met baie hout.
Die vuur sal die koning
van Assirië verbrand.
Die asem van die Here is
soos 'n stroom swael,
dit sal die vuur
aan die brand steek.

Currently Selected:

Jesaja 30: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy