YouVersion Logo
Search Icon

Genesis 24

24
Abraham stuur sy slaaf om vir Isak 'n vrou te gaan haal
1Abraham was al baie oud. Die Here het Abraham baie ryk gemaak.
2Abraham het vir sy hoofslaaf, die slaaf wat al sy goed opgepas het, gesê: “Sit asseblief jou hand onder my heup 3en belowe voor die Here, die God van die hemel en die aarde. Belowe dat jy nie my seun sal laat trou met 'n dogter van die Kanaäniete tussen wie ek woon nie. 4Belowe dat jy na my eie land en my familie sal gaan en dat jy daar vir my seun Isak 'n vrou sal gaan haal.”
5Toe sê die slaaf vir Abraham: “Maar miskien sal die vrou nie saam met my na hierdie land wil kom nie. Moet ek dan jou seun laat teruggaan na Mesopotamië, die land van waar jy kom?”
6Abraham het vir die slaaf gesê: “Jy moet nooit my seun na daardie land laat teruggaan nie. 7Die Here, die God van die hemel wat my uit my pa se familie en uit my geboorteland laat trek het, het met my gepraat en Hy het vir my belowe: ‘Ek sal hierdie land vir jou nageslag gee.’ Die Here sal sy engel stuur en jy sal hom volg, sodat jy vir my seun daar in my eie land 'n vrou kan kry. 8As die vrou nie saam met jou wil kom nie, dan kan jy nie doen wat jy belowe het nie. Maar jy moet nooit my seun daarnatoe laat teruggaan nie.”
9Die slaaf sit toe sy hand onder sy eienaar Abraham se heup en hy belowe dat hy sal doen wat Abraham gevra het.
10Die slaaf neem toe tien kamele van sy eienaar en hy gaan. Hy het baie presente van Abraham saamgeneem. Hy het na die land Mesopotamië gegaan, na die stad waar Nahor gewoon het.
Abraham se slaaf ontmoet vir Rebekka
11Een middag laat het die slaaf die kamele laat rus by 'n fontein buite die stad. Dit was die tyd wanneer die meisies elke dag water kom haal het.
12Die slaaf het gebid: “Here, God van my eienaar Abraham, U moet asseblief vandag 'n goeie ding met my laat gebeur en U moet goed wees vir my eienaar Abraham. 13Kyk, ek staan hier by die fontein, en die meisies kom uit die stad om water te kom skep. 14Ek sal vir 'n meisie vra: ‘Hou asseblief jou waterkruik sodat ek kan drink.’ As sy dan sê: ‘Jy mag drink, en ek sal jou kamele ook laat drink,’ dan sal ek weet U het haar gekies vir u dienaar Isak. Dan sal ek ook weet dat U doen wat U vir my eienaar belowe het.”
15Hy was besig om dit te sê, toe kom Rebekka daar. Sy het haar waterkruik op haar skouer gedra. Sy was die dogter van Betuel, en Betuel was die seun van Abraham se broer Nahor en sy vrou Milka. 16Die jong meisie was baie mooi, en sy het nog nie by 'n man geslaap nie. Sy het afgegaan na die fontein en sy het haar waterkruik volgemaak en weer boontoe gekom.
17Die slaaf het na haar toe gehardloop en gevra: “Gee my asseblief 'n bietjie water uit jou waterkruik.”
18Sy het gesê: “Drink, Meneer.”
Sy het die waterkruik gou tot op haar hand laat sak en sy het vir hom water gegee om te drink. 19Toe hy klaar gedrink het, sê sy: “Ek sal ook vir jou kamele water skep totdat hulle genoeg gedrink het.”
20Sy gooi toe gou die water van haar kruik in die drinkbak en hardloop weer af na die fontein om water te skep. So het sy vir al die kamele water gegee.
21Die slaaf het na haar gekyk om te sien of die Here vir hom die regte vrou gewys het of nie. 22Toe die kamele klaar gedrink het, neem die man 'n goue ring wat 'n halfsikkel weeg, en sit dit aan haar neus.
Hy het twee goue armbande geneem, elke armband het tien sikkels geweeg, en hy het dit aan haar arms gesit.
23Hy vra toe: “Wie se dogter is jy? Sê asseblief vir my, is daar slaapplek vir ons in jou pa se huis?”
24Sy het vir hom gesê: “Ek is 'n dogter van Betuel. Hy is die seun van Milka en Nahor. 25Daar is baie strooi en voer by ons, en ook slaapplek.”
26Die slaaf het gekniel en voor die Here gebuig 27en gesê: “Ek prys U, Here, God van my eienaar Abraham. U was goed vir my eienaar en U het gedoen wat U belowe het. U het my gelei na my eienaar se broer toe.”
Abraham se slaaf praat met Rebekka se familie
28Die dogter het huis toe gehardloop en sy het vir haar ma gaan vertel wat gebeur het. 29Rebekka het 'n broer gehad. Sy naam was Laban. Laban het na die man toe gehardloop by die fontein. 30Hy het die neusring gesien en die armbande aan sy suster se arms. Toe hy hoor sy suster Rebekka vertel wat die man gesê het, het hy na die man toe gegaan. Die man het by die kamele by die fontein gestaan. 31Laban sê toe vir hom: “Kom saam. Die Here het jou geseën. Hoekom staan jy hier buite? Ek het al klaar die huis gereedgemaak vir jou en ook die plek vir die kamele.”
32Hy het die man huis toe gebring, die kamele losgemaak en vir hulle strooi en kos gegee. Hy het vir die man water gegee om sy voete te was en ook vir die ander mans wat by hom was.
33Hulle bring toe ook vir die man kos, maar hy sê: “Ek mag nie eet nie, ek moet eers vertel hoekom ek gekom het.”
En Laban sê: “Praat.”
34Toe sê hy: “Ek is 'n slaaf van Abraham. 35Die Here het my eienaar baie geseën, en hy het ryk geword. Die Here het skape en bokke en beeste vir hom gegee, en ook silwer en goud, slawe en slavinne, kamele en donkies.
36“My eienaar se vrou Sara het 'n seun gekry toe sy al oud was, en Abraham het vir die seun alles gegee wat hy het. 37Maar my eienaar het vir my gesê: ‘Ek woon in die land van die Kanaäniete, maar ek wil nie hê my seun moet met een van hulle dogters trou nie.’
“Ek moes dit belowe. 38Hy het vir my gesê: ‘Jy moet na my pa se familie toe gaan, na my eie mense toe, en jy moet daar vir my seun 'n vrou gaan haal.’ 39Ek het vir my eienaar gesê: ‘Maar miskien sal die vrou nie saam met my wil kom nie.’ 40En hy het toe vir my gesê: ‘Ek dien die Here. Hy sal sy engel saam met jou stuur en Hy sal jou help om by my eie mense vir my seun 'n vrou te kry, by my pa se familie. 41As jy by my familie kom en hulle wil haar nie vir jou gee nie, dan kan jy nie doen wat jy vir my belowe het nie.’ 42Ek het vandag by die fontein gekom en ek het gebid: ‘Here, God van my eienaar Abraham, help my om reg te kry wat ek moet doen. 43Ek is nou hier by die fontein en ek sal vir die meisie wat water kom skep, sê: “Laat my asseblief 'n bietjie water uit jou waterkruik drink.” 44En as sy vir my sê: “Jy mag drink, en ek sal vir jou kamele ook water skep,” dan sal ek weet sy is die vrou wat die Here vir my eienaar se seun gekies het.’ 45Ek het nog nie klaar gebid nie, toe kom Rebekka daar. Sy het haar waterkruik op haar skouer gedra en sy het afgegaan na die fontein en water geskep. Ek sê toe vir haar: ‘Laat my asseblief water drink.’ 46Sy het dadelik haar waterkruik laat sak en vir my gesê: ‘Drink, en ek sal vir jou kamele ook water gee.’ Ek het toe gedrink, en sy het vir die kamele ook water gegee. 47Ek het vir haar gevra: ‘Wie se dogter is jy?’ En sy het gesê: ‘Ek is Betuel se dogter. Betuel is Nahor en Milka se seun.’ Toe het ek die ring aan haar neus gesit en die armbande aan haar arms. 48Ek het gekniel en ek het die Here, die God van my eienaar Abraham, geprys. Hy het my reg gelei om die dogter van my eienaar se broer vir sy seun te kry. 49En nou, as julle goed wil wees vir my eienaar, sê dit vir my. Of as julle nie wil nie, sê dit ook vir my, sodat ek kan weet wat ek moet doen.”
Rebekka word Isak se vrou
50Toe sê Laban en Betuel vir hom: “Hierdie plan kom van die Here. Ons kan nie vir jou ja of nee sê nie. 51Hier is Rebekka voor jou. Neem haar en gaan terug, sodat sy die vrou van jou eienaar se seun kan word. Dit is wat die Here gesê het.”
52Toe Abraham se slaaf hoor wat hulle sê, het hy gebuig voor die Here. 53Hy het presente van silwer en goud uitgehaal, en ook klere, en hy het dit vir Rebekka gegee. Hy het ook vir haar broer en haar ma duur presente gegee. 54Hy en die ander mans wat by hom was, het geëet en gedrink en gaan slaap. Toe hulle die volgende oggend opstaan, het hy gesê: “Nou wil ek teruggaan na my eienaar toe.”
55Maar Rebekka se broer en haar ma het gesê: “Jy moet asseblief ons dogter nog tien dae by ons laat bly, dan mag jy gaan.”
56Die slaaf sê toe vir hulle: “Julle moet my nie terughou nie. Die Here het my gehelp om reg te kry wat ek moes doen. Julle moet my laat gaan, sodat ek kan teruggaan na my eienaar toe.”
57Hulle het gesê: “Kom ons roep die dogter en vra vir haar.”
58Hulle roep toe vir Rebekka en vra vir haar: “Wil jy nou dadelik saamgaan met hierdie man?”
En sy antwoord: “Ja, ek wil gaan.”
59Hulle het Rebekka en die vrou wat haar grootgemaak het, laat saamgaan met Abraham se slaaf en die ander mans. 60Hulle het Rebekka gegroet en vir haar gesê:
“Ons suster, ons bid dat die Here
jou sal seën,
sodat jou nageslag
baie duisende sal wees,
sodat hulle ook al hulle vyande
se stede sal oorwin.”
61Rebekka en haar slavinne het toe gereedgemaak. Hulle het op die kamele geklim en saam met die man gegaan. So het die slaaf dit reggekry dat Rebekka met hom saamgegaan het.
62Isak het in die Suid-land gewoon. Hy het van Lagai-Roï-fontein gekom 63en hy het die middag laat in die veld gaan stap. Hy het kamele gesien aankom. 64Toe Rebekka vir Isak sien, het sy van die kameel afgeklim 65en vir die slaaf gevra: “Wie is daardie man wat in die veld na ons toe aankom?”
Die slaaf het gesê: “Dit is my eienaar.”
Rebekka het toe haar gesig toegemaak met 'n sluier.
66Die slaaf het vir Isak alles vertel wat hy gedoen het. 67Isak het vir Rebekka na sy ma Sara se tent gebring. Hy het met Rebekka getrou. Hy het lief geword vir haar, en toe sy ma sterf, was Rebekka daar om by hom te wees.

Currently Selected:

Genesis 24: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy