YouVersion Logo
Search Icon

Genesis 21

21
Isak word gebore
1Die Here het aan Sara gedink en Hy het vir haar gedoen wat Hy belowe het. 2Sara het swanger geword en sy het vir Abraham 'n seun gekry toe hy al oud was. Sy het die seun gekry op die tyd wat God gesê het dit sal gebeur. 3Abraham het sy seun Isak genoem, die seun wat hy en Sara gekry het. 4Abraham het sy seun Isak besny toe hy ag dae oud was. Hy het dit gedoen soos God vir hom gesê het. 5Abraham was 100 jaar oud toe sy seun Isak gebore is. 6Sara het gesê: “Die mense sal nou lag oor wat God met my gedoen het. Almal wat van Isak hoor, sal vir my lag. 7Niemand sou voorheen vir Abraham gesê het dat kinders aan my bors sou drink nie, maar ek en Abraham het 'n seun gekry toe hy al oud was.”
Abraham stuur vir Hagar en Ismael weg
8Die kind Isak het grootgeword en opgehou om aan Sara te drink. Op daardie dag, toe Sara vir Isak gespeen het, het Abraham 'n groot fees gehou. 9Toe sien Sara dat Ismael lag. Ismael was die seun wat Hagar, die slavin uit Egipte, vir Abraham gekry het. 10Sara sê toe vir Abraham: “Jaag hierdie slavin en haar seun weg. Hierdie seun van die slavin mag nie erf saam met my seun Isak nie.”
11Abraham het gedink dit is verkeerd wat Sara gesê het oor sy seun Ismael. 12Maar God het vir Abraham gesê: “Moenie dink dit is verkeerd wat Sara gesê het oor jou seun en oor jou slavin nie. Luister na alles wat sy vir jou sê, want die nageslag van Isak sal jóú nageslag wees. 13Maar Ek sal die seun van jou slavin ook 'n volk laat word, want hy is jou kind.”
14Abraham het vroeg die volgende oggend brood en 'n velsak vol water geneem en hy het dit vir Hagar gegee. Hy het dit op haar skouer gesit en hy het haar en die kind weggestuur. Hagar het gegaan en sy het in die Berseba-woestyn rondgeswerf. 15Toe die water in die velsak op was, het sy die kind onder 'n boompie neergesit. 16Sy het 'n bietjie verder gaan sit, omtrent so ver soos 'n mens met 'n pyl kan skiet. Sy het gesê: “Ek wil nie sien hoe my kind sterf nie.”
Sy het 'n bietjie verder gaan sit en sy het hard begin huil.
17God het gehoor dat die seun huil. Die Engel van God het uit die hemel met Hagar gepraat en Hy het vir haar gevra: “Wat is fout, Hagar? Moenie bang wees nie, want God het gehoor dat die seun huil daar waar hy lê. 18Staan op en tel jou kind op. Help hom, want Ek sal hom 'n groot volk laat word.”
19God het Hagar se oë oopgemaak, en sy het 'n fontein gesien. Sy het die velsak vol water gaan maak en sy het haar seun daarvan laat drink.
20God was altyd by Ismael. Hy het grootgeword en in die woestyn gewoon. Hy het geleer om baie goed met 'n pyl en boog te skiet. 21Hy het in die Paran-woestyn gewoon. Sy ma het vir hom 'n vrou uit Egipte gekry, en hy het met haar getrou.
Abraham en Abimelek maak 'n ooreenkoms
22In daardie tyd het koning Abimelek en Pikol, die hoof van sy leër, vir Abraham gesê: “God help jou met alles wat jy doen. 23Jy moet nou belowe dat jy nie vals sal wees teen my of teen my kinders of my nageslag nie. Ek was vriendelik met jou, en jy moet ook vriendelik wees met my en met hierdie land waar jy 'n vreemdeling is.”
24Abraham het gesê: “Ek belowe.”
25Later het Abimelek se manne 'n put van Abraham vir hulleself gevat. Abraham het by Abimelek daaroor gekla. 26Maar Abimelek het gesê: “Ek weet nie wie dit gedoen het nie. Jy het ook nie voorheen vir my daarvan vertel nie. Ek het vandag die eerste maal daarvan gehoor.”
27Abraham neem toe skape, bokke en beeste, en hy gee dit vir Abimelek. So het hulle twee 'n ooreenkoms gemaak.
28Maar Abraham het sewe skaap-lammers apart gehou, 29en Abimelek het vir Abraham gevra: “Wat wil jy doen met daardie sewe lammers wat jy apart gehou het?”
30Abraham het geantwoord: “Jy moet hierdie sewe lammers van my neem. As jy dit neem, dan sal dit beteken jy weet dat dit ek is wat hierdie put gegrawe het, nie jou manne nie.”
31Daarom noem hulle die plek Berseba, want hulle twee het daar 'n ooreenkoms gemaak. Hulle het belowe dat hulle nie die ooreenkoms sal breek nie. 32Nadat hulle die ooreenkoms by Berseba gemaak het, het Abimelek en Pikol, die hoof van sy leër, teruggegaan na die Filistyne se land.
33Abraham het 'n tamariskboom by Berseba geplant. Hy het die Here, die ewige God, aanbid. 34Abraham het lank in die Filistyne se land gewoon. Hulle het hom toegelaat om daar te woon.

Currently Selected:

Genesis 21: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy