YouVersion Logo
Search Icon

Esegiël 38

38
Gog sal kom en hy sal die volk Israel aanval
1Ek het gehoor die Here sê vir my: 2“Mens, jy moet jou gesig draai na Gog van die land Magog. Hy is die hoof-regeerder van die volke Mesek en Tubal. Jy moet my boodskap vir hom bring. 3Jy moet vir hom sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Gog, hoof-regeerder van die volke Mesek en Tubal, Ek is nou jou vyand. 4Ek sal jou laat omdraai en Ek sal ysterhoeke in jou kakebene steek. Ek sal jou uit jou land laat kom saam met al jou soldate, jou perde en jou manne wat op perde ry. Hulle dra almal mooi klere en elkeen hou 'n skild en 'n swaard in sy hand. 5Daar is manne uit die lande Persië, Kus en Put saam met hulle, elkeen het 'n skild en 'n helm. 6Daar is baie volke saam met jou, ook Gomer en Bet-Togarma, hulle kom van ver uit die noorde, met al hulle soldate. 7Jy moet gereedmaak en wag, jy en al jou soldate wat by jou bymekaargekom het, jy moet saam met hulle wag. 8Eendag, wanneer dit die regte tyd is, dan sal Ek vir jou sê wat jy moet doen. Jy sal kom na 'n land wat amper weer reg is ná die oorlog. Die berge van Israel was 'n baie lang tyd verwoes, maar daar is nou mense wat bymekaargekom het uit baie volke. Ek het gesê hulle moet uitkom tussen die ander volke, en hulle dink hulle is veilig. 9Maar jy sal soos 'n stormwind kom en jy sal hulle aanval. Jy en al jou soldate en die manne van ander volke wat saam met jou is, sal baie wees, julle sal die land toemaak soos 'n wolk.”
10Die Here, Hy wat Here is, sê: “Daardie dag sal jy dink wat jy wil doen en jy sal planne maak om slegte dinge te doen. 11Jy sal dink: Ek sal hierdie oop land aanval, ek sal kom by hierdie mense wat dink hulle is veilig, hulle dink niemand sal hulle aanval nie. Daar is nie mure om die stede waar hulle woon nie, daar is nie poorte wat hulle kan toesluit nie. 12Ek sal hulle goed vir my vat, ek sal alles vat wat hulle het.
“Jy sal oorlog maak teen die stede wat verwoes was en waar nou mense woon. Jy sal oorlog maak teen die mense wat bymekaargekom het uit die ander volke, die mense wat nou vir hulleself skape en bokke en ander goed bymekaarmaak. Hulle woon in die land Israel, die belangrikste plek op die aarde. 13Die mense van die lande Skeba en Dedan, die handelaars van die land Tarsis en al sy leiers sal vir jou vra: ‘Het jy gekom om daardie mense se goed vir jouself te vat? Het jy jou soldate bymekaar laat kom om alles te vat wat daardie mense het? Wil julle hulle silwer en goud wegdra, wil julle hulle skape en bokke en hulle ander goed vat, wil julle alles vir julleself vat?’ 14Mens, daarom moet jy my boodskap vir Gog bring. Jy moet vir hom sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Jy sal weet wanneer my volk in hulle land woon en dink hulle is veilig, 15en dan sal jy uit jou woonplek kom, jy sal ver uit die noorde kom. Jy sal kom saam met die mense van baie volke. Dit is manne op perde, dit is 'n baie groot leër, baie soldate. 16Jy sal kom en jy sal my volk Israel aanval, julle sal wees soos 'n wolk wat die land toemaak. Dit sal gebeur wanneer dit die regte tyd is. Ek sal jou laat kom om my land aan te val, sodat die ander volke sal weet wie Ek is, hulle sal sien Ek gebruik jou om te wys dat Ek die heilige God is.”
17Die Here, Hy wat Here is, sê: “Gog, Ek het lank gelede oor jóú gepraat toe Ek my dienaars, die profete van Israel, gestuur het. Hulle het in daardie tyd my boodskap gebring en gesê dat jy my volk sal aanval. 18Daardie dag, wanneer Gog in die land Israel kom, sal Ek baie kwaad word.”
Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
19“Ek is baie lief vir my volk, Ek sal kwaad word wanneer jy hulle aanval. Ek sê dit nou: Daardie dag sal daar 'n groot aardbewing kom in die land Israel. 20Alles sal bewe voor My: die visse, die voëls, die diere, die klein diertjies wat op die grond rondkruip, en al die mense in die land. Die berge sal val, die rotse sal val, elke muur in die land sal omval. 21Ek sal sê almal op my berge moet oorlog maak teen Gog.”
Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
“Gog se soldate sal mekaar doodmaak. 22Ek sal pes en dood, reën-storms en hael stuur om hom te straf. Ek sal vuur en swael op hom laat val soos reën. Dit sal ook val op sy soldate en op die baie mense van ander volke wat by hom is. 23Ek sal vir al die volke wys dat Ek 'n groot en 'n heilige God is. Hulle sal weet dat Ek die Here is.”

Currently Selected:

Esegiël 38: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy