YouVersion Logo
Search Icon

Ester 4

4
1Mordegai het uitgevind wat gebeur het. Hy het sy klere geskeur, hy het rouklere aangetrek en as op sy kop gegooi. Hy het deur die stad geloop en hy het baie hard gehuil. 2Hy het gegaan tot voor die paleis van die koning, want mense mag nie in die paleis ingegaan het wanneer hulle rouklere gedra het nie. 3Die Judeërs het begin rou, in elke provinsie, op elke plek waar hulle gelees het oor die besluit van die koning en die wet. Hulle het gevas en hulle het hard gehuil en gekla, en baie Judeërs het rouklere aangetrek en as op hulle koppe gegooi. 4Die jongmeisies en die amptenare by Ester het vir haar vertel wat Mordegai doen. Die koningin het groot geskrik en sy het vir Mordegai klere gestuur sodat hy sy rouklere kon uittrek. Maar Mordegai wou nie die klere neem nie. 5Toe roep Ester vir Hatak. Hatak was 'n amptenaar van die koning, en die koning het gesê hy moet vir Ester werk. Ester het vir Hatak gesê hy moet na Mordegai toe gaan en hy moet uitvind wat Mordegai doen en hoekom hy dit doen. 6Hatak het na Mordegai toe gegaan op die oop stuk grond voor die paleis van die koning, 7en Mordegai het vir hom vertel wat alles met hom gebeur het. Hy het ook gesê presies hoeveel silwer Haman belowe het om vir die koning se amptenare te gee. Hulle moes dit vir die koning bêre as hy al die Judeërs sal laat doodmaak. 8Mordegai het vir Hatak een van die briewe gegee wat die koning oral in die stad Susan vir die mense gestuur het. In die briewe het die koning geskryf wat hy besluit het. Mordegai het gesê Hatak moet die brief vir Ester wys en vir haar alles vertel. Hy moet ook vir haar sê sy moet na die koning toe gaan en sy moet vir hom vra dat hy jammer moet wees vir haar mense en dat hy hulle nie moet laat doodmaak nie. 9Hatak het vir Ester gaan sê wat Mordegai gesê het, 10en Ester het vir Hatak gesê hy moet vir Mordegai gaan sê: 11“Al die koning se mense en almal in die provinsies van die koning weet dat enige iemand, 'n man of 'n vrou, net na die koning toe mag gaan op die oop stuk grond binne-in die paleis wanneer die koning hom laat roep. As iemand na die koning toe gaan maar die koning het hom nie geroep nie, dan is daar een wet vir almal: Daardie persoon moet sterf. Hy sal net aanhou lewe as die koning sy goue septer na hom toe uitsteek. Die koning het my nog nie laat roep nie, en vandag is 30 dae klaar verby.”
12Hulle het vir Mordegai vertel wat Ester gesê het, 13en toe het Mordegai gesê hulle moet vir Ester antwoord en sê: “Jy moenie dink dat jy vry sal wegkom omdat jy in die koning se huisgesin is nie, jy sal saam met die ander Judeërs sterf. 14Want as jy regtig wil stilbly in hierdie tyd, dan sal Iemand anders vir die Judeërs help. Hulle sal vry wegkom, maar jy en jou familie sal sterf. Hoekom dink jy het jy koningin geword? Miskien het dit gebeur sodat jy jou volk kan help in so 'n moeilike tyd.”
15Ester het toe gesê hulle moet vir Mordegai gaan sê: 16“Jy moet al die Judeërs in die stad Susan laat bymekaarkom en julle moet vas en dink aan my. Julle moet drie dae lank niks eet of drink nie, elke dag en nag. Ek en my jongmeisies sal ook vas, en daarna sal ek na die koning toe gaan. Dit is teen die wet, ek mag dit nie doen nie, maar as ek moet sterf, dan is dit goed.”
17Mordegai het gegaan en hy het alles gedoen wat Ester gesê het.

Currently Selected:

Ester 4: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy