YouVersion Logo
Search Icon

Romeine 14

14
Gelowiges moet reg doen aan mekaar
1Daar is gelowiges wat twyfel, hulle geloof is swak. Julle moet hulle aanvaar. Hulle dink miskien anders as julle oor party dinge en hulle dink hulle is reg. Julle moenie met hulle daaroor stry nie. 2Party gelowiges glo 'n mens mag alles eet. Maar party gelowiges se geloof is swak, en hulle dink 'n mens mag net groente eet. 3Die gelowiges wat alles eet, moenie dink dat die ander gelowiges nie belangrik is nie, die gelowiges wat nie alles eet nie. Die gelowiges wat nie alles eet nie, moenie sê die gelowiges wat alles eet, doen verkeerd nie, want God het die gelowiges wat alles eet, ook aanvaar. 4Dit is nie júlle wat mag besluit of 'n ander man se slaaf reg of verkeerd doen nie, sy eienaar besluit dit. Daarom, die gelowiges wat alles eet, doen reg, want dit is die Hére wat hulle reg laat doen, Hy kan dit doen.
5Daar is gelowiges wat dink een dag in die week is belangriker as die ander dae, en daar is ander gelowiges wat dink al die dae in die week is dieselfde. Maar hulle almal moet in hulle harte baie seker wees dat dit wat hulle dink, reg is. 6Hulle wat dink een dag in die week is belangriker as die ander dae, doen dit om die Here te dien. En die gelowiges wat alles eet, doen dit om die Here te dien, en hulle sê vir God dankie. En die gelowiges wat net groente eet, doen dit om die Here te dien, en hulle sê vir God dankie. 7Ons lewe nie om onsself te dien nie en ons sterf nie om onsself te dien nie. 8Wanneer ons lewe, dan lewe ons om die Here te dien. En wanneer ons sterf, dan sterf ons om die Here te dien. Ja, wanneer ons lewe, dan behoort ons aan die Here, en wanneer ons sterf, dan behoort ons aan die Here. 9Christus het gesterf, en Hy het weer begin lewe sodat Hy kan regeer oor almal, almal wat dood is en almal wat lewe.
10Jy moenie sê die ander gelowiges doen verkeerd nie. En jy moenie dink die ander gelowiges is onbelangrik nie. Jy moet onthou: God sal ons almal eendag oordeel wanneer ons voor sy regterstoel staan. 11Dit is soos daar in die Ou Testament geskryf is:
Die Here sê:
Ek het dit vir Myself belowe,
Ek het gesê:
Elke knie sal voor My buig,
elke mens sal sê hy weet
Ek is God.
12Dit beteken: Elkeen van ons sal self vir God moet antwoord oor alles wat ons gedoen het.
13Die gelowiges wat 'n sterk geloof het, moet ophou sê die gelowiges wat 'n swak geloof het, doen verkeerd. En die gelowiges wat 'n swak geloof het, moet ophou sê die gelowiges wat 'n sterk geloof het, doen verkeerd. Ons moet besluit om nie dinge te doen wat ander gelowiges sonde laat doen of wat hulle laat ophou glo nie. 14Ek behoort aan die Here Jesus en daarom weet ek dat niks self onrein is nie, maar wanneer mense dink iets is onrein, dan is dit vir húlle onrein. 15Wanneer jy iets eet, en ander gelowiges hou nie daarvan dat jy dit eet nie, en dit maak hulle seer, dan lewe jy nie soos iemand wat lief is vir die ander gelowiges nie. Jy moenie iets eet as jy weet dit sal ander gelowiges vir altyd laat sterf nie, want Christus het gesterf sodat daardie gelowiges kan lewe. 16God is baie goed vir julle, julle moenie dat die ander mense sleg praat oor die goeie dinge wat julle gekry het nie. 17Want die dinge wat ons eet en drink, is nie belangrik daar waar God, die Koning, regeer nie. Dit is belangrik dat God ons vryspreek en dat Hy vir ons vrede gee en vir ons help om regtig bly te wees, ons almal wat die Heilige Gees het. 18As ons so vir Christus dien, dan is God tevrede met ons en dan sal ander mense ons respekteer.
19Daarom moet ons dinge doen wat help dat daar vrede is, dinge wat ander gelowiges help om hulle geloof sterk te maak. 20Die dinge wat julle eet en drink moenie vir julle so belangrik wees dat dit die goeie dinge verwoes wat God wil doen nie. Julle moet onthou: Al die kos is rein, maar wanneer julle iets eet, en dit laat 'n ander gelowige sonde doen, dan doen julle verkeerd om dit te eet. 21Dit is beter om nie vleis te eet of wyn te drink of iets anders te doen wat ander gelowiges sonde laat doen nie.
22Julle glo dat julle weet wat julle mag doen en wat julle nie mag doen nie. Dan moet julle dit nie vir almal vertel nie, net God moet dit weet. Die mense wat iets doen en dink hulle doen reg en voel hulle is nie skuldig nie, is gelukkige mense. 23Maar wanneer mense iets eet en hulle twyfel of hulle dit mag doen, dan doen hulle verkeerd. Hoekom? Want hulle doen iets, maar hulle glo nie dat dit reg is nie. Wanneer mense glo iets is nie reg nie maar hulle doen dit, dan is dit sonde.

Currently Selected:

Romeine 14: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy